Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Self-regulerende intervensie tem oormatige media-multitaakverrigting
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/02/2020
Is jy een van daardie mense wat gelyktydig TV kyk, die jongste Twitter-twiets of Instagram-plasings dophou en op WhatsApp gesels? Indien wel, is jy besig met media-multitaakverrigting (die verrigting van verskeie take gelyktydig), wat indrukwekkend mag klink, maar ook nadelig kan wees. 

“Omdat media-multitaakverrigting 'n verstrooide benadering tot taakverrigting kan bevorder en ons vermoë om te konsentreer en take af te handel, kan belemmer, moet ons maniere vind om ons gebruik van verskillende digitale tegnologieë te selfreguleer," sê dr Douglas Perry, 'n dosent by die Departement Inligtingwetenskap en lid van die Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch (US). Parry het 'n selfreguleringsintervensie gegrond op media-multitaakverrigting ontwikkel as deel van sy onlangse doktorsgraad in Sosio-informatika aan die US. Hy het 'n doenlikheidstudie daaroor vir studente wat as gereelde media-multitaakverrigters geïdentifiseer is, gedoen.

Hy sê sy navorsing hou belangrike implikasies nie net vir individue wat hul eie gebruik van verskillende mediatoestelle wil reguleer en hul media-multitaakverrigting wil verminder in nie, maar ook vir die bestuur van inmenging geassosieer met multitaakverrigting, veral onder studente wat hulle mag terugwend tot dit wanneer hulle 'n lesing as vervelig of irrelevant sien.

“Sukses in die werkplek, op universiteit en in verskillende sosiale kringe berus op ons vermoë om irrelevante afleidings uit te filtreer, om die begeerte om te dagdroom te weerstaan en te veg teen die aanloklikheid van sosiale media ten einde gefokus te bly op die taak op hande."

Om die haalbaarheid van sy intervensie te bepaal, het Parry voor- en na-assesserings gebruik waartydens die deelnemers 'n reeks standaard prestasie-gebaseerde (speletjie-tipe situasies op 'n rekenaar om spesifieke kognitiewe prosesse te isoleer) en self-verslag-evaluasies (vraelyste) gedoen het van werkende geheue (tydelike stoor en bestuur van inligting), onderdrukkingsbeheer (vermoë om jou gedrag, gedagtes en aandag te beheer om eksterne afleidings of interne begeertes opsy te sit en om te doen wat meer gepas is), kognitiewe buigbaarheid (die vermoë om tussen take of gedagtes rond te skuif) en aandagbeheer (konsentrasievermoë). Hulle het ook 'n toepassing oor die frekwensie van slimfoongebruik  benut om hulle te help om hul eie mediagebruik (bv selfone, skootrekenaars, sosiale netwerke, kitsboodskaptoepassings, ens) in verhouding tot 'n spesifieke doelwit (maksimum van 90 minute per dag) te reguleer. Deelnemers het ook verslae wat deur die toepassing gegenereer is, verskaf wat hul totale uurlikse toestelgebruik en aantal inwerkingstellings per dag aandui. Onderhoude is na afloop van die intervensie met sommige van die deelnemers oor hul ervarings gevoer.

Parry sê die bevindinge van sy navorsingstudie dui op veranderinge in die gedrag van deelnemers wat tot meer gevalle waar hulle die media-afleidings onderdruk het en eerder op akademiese take gekonsentreer het, gelei het. Hierdie veranderinge het die deelnemers in staat gestel om meer tyd te spandeer om 'n enkele taak te verrig en om nie net op akademiese sukses te fokus nie, maar ook op sukses in hul persoonlike en sosiale lewens.

“Die intervensie het tot gedragsveranderinge gelei wat meer gevalle van enkeltaakverrigting deur selfreguleringstrategieë teweeggebring het soos om spesifieke tye opsy te sit vir die gebruik van 'n foon, om in bondels op inkomende boodskappe te reageer en om die foon buite sig en buite bereik te plaas gedurende lesings of werksure.

“Selfregulering van media-multitaakverrigting het groter bewustheid van mediagebruikspatrone geskep, wat deelnemers in staat gestel het om hul toestelle meer doelbewus te gebruik en om nie so refleksief op te tree nie. Die regulering van mediagebruik en die vermindering van media-multitaakverrigting kan daartoe lei dat mense meer op hul werk fokus en ook 'in die oomblik leef', eerder as om te wonder wat besig is om aanlyn te gebeur."

Parry sê die deelnemers was positief oor die intervensie en was baie verras en geskok oor hoeveel hulle eintlik hul toestelle gebruik en hulself daarmee onderbreek.

“Hierdie bewustheid het hulle aangemoedig om hulself te reguleer en het hulle gehelp om strategieë te ontwikkel om hul gedrag te beheer. Dit het hulle ook gehelp om daaraan te werk om hul akademiese doelwitte te bereik, hul tyd beter te bestuur, in die klas op te let en minder uit te stel."

Parry sê 'n intervensie gegrond op selfregulering wat deur 'n toepassing vir die frekwensie van slimfoongebruik ondersteun word, kan maklik deur studente toegepas word.

​Hy voeg by dat studente sonder 'n strategie en selfgemotiveerde gedragsveranderings heel waarskynlik sal sukkel om hul media-multitaakverrigting in hierdie situasies te reguleer en dikwels ly prestasie daaronder.  

Parry sê ons moet 'n beter begrip van ons eie gedrag, ons persoonlike doelwitte en werk ontwikkel ten einde ons mediagebruik in ooreenstemming met hierdie doelwitte te bring, want net dan sal ons in staat wees om prosedures (bv tydblokke, moenie-steur-metodes, ens) te ontwikkel om ons te help om ons eie gedrag te reguleer.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Douglas Parry

Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep

Departement Inligtingswetenskap

Universiteit Stellenbosch

Epos: dougaparry@sun.ac.za

UITEGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za