Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-aanlyn en gemengde kortkursusse nou op SUNOnline beskikbaar
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 07/02/2020

Wil jy jou taalvaardighede opskerp, jou leierskappotenisaal ontwikkel of jou eie sakeonderneming begin?

Dan is een van die Universiteit Stellenbosch Afdeling Kortkursusse se meer as 500 kortkursusse dalk net die ding wat jou kan help om jou opvoedkundige en professionele doelwitte te bereik.

Danksy 'n samewerkende vennootskap wat in middel-2017 tussen Innovus: Afdeling Kortkursusse, die US se Sentrum vir Leertegnologieë en Informasietegnologie gevestig is, het die US se nuwe aanlyn leer-portaal, bekend as SUNOnline, in Mei 2019 tot stand gekom.

US fondse is beskikbaar gestel om die SUNOnline-projek ten volle te befonds en die projek het sowat 22 maande geneem om voltooi te word.

Volgens Carol Kat, Hoof: Kopiereg en Kortkursusse aan die US, is die nuwe platform in lyn met en voldoen dit aan sekere institusionele doelwitte van die Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 – van 'n transformerende, genetwerkde en samewerkende onderrrig-en-leerondervinding deur die skep van gepaste geleenthede vir werksgeïntegreerde leer en om die US se kennisaanbod uit te brei om nuwe studentemarkte te bedien.

“Die Universiteit Stellenbosch was nog altyd bekend vir sy akademiese uitnemendheid en sal hopelik nou hoë gehalte aanlyn kortkursusse meer vaartbelyn deur hierdie platform kan aanbied," sê Kat.

Sedert die Afdeling Kortkursusse in Januarie 2007 tot stand gekom het, registreer en voltooi tussen 13 000 en 15 000 plaaslike en internasionale studente elke jaar kort leerprogramme. Die Afdeling koördineer die operasionele en administratiewe dienste wat nodig is vir die fasilitering van kortkursusse aan die US en ondersteun ook hierdie standaardprosesse.

Die kortkursusse dek verskillende vakgebiede, insluitende bestuursontwikkeling, gemeenskapsinteraksie en -ontwikkeling, publieke administrasie, opvoeding, ingenieurswese en regsgeleerdheid en die verskillende US omgewings bestuur en administreer self die kortkursusprosesse. Die US het, ingevolg die Raad op Hoër Onderwys (RHO) en die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) se regulasies, volle verantwoordelikheid vir die akademiese gehalteversekering van kortkursusse, asook ander gedelegeerde funksies aanvaar. Die RHO behou sy oorkoepelende verantwoordelikheid rakende hierdie aspekte.

Die Afdeling hoop om deur die nuwe SUNOnline-platform die uitdagings en bykomende uitgawes van die gebruik van eksterne bedienersplatforms te verminder en om studente se vermoëns om web-gebaseerde instrumente en tegnologieë te gebruik, te bevorder.  

Beide die openbare en private sektore kan i by kortkursusse wat deur die US aangebied word, baat, sê Kat.

Gaan na https://www.shortcourses.sun.ac.za/ en besoek SUNOnline by https://www0.sun.ac.za/online/courses/ om te sien wat die Afdeling Kortkursusse alles aanbied.