Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die jongste inligting oor die coronavirus (COVID-19)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/03/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) hou die gebeure rondom die uitbreking van die coronavirus (COVID-19 wat deur die nuwe coronavirus SARS-CoV-2 veroorsaak word) wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as 'n wêreldwye gesondheidsnoodtoestand verklaar is, baie fyn dop.

'n Gebeurlikheidskomitee bestaande uit verskeie kundiges, insluitende personeel van die Infeksiesiektes-sentrum (ISS) en die Afdeling Mediese Virologie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA), die US se Kampusgesondheidsdiens en ander, is saamgestel. 

COVID-19

  • Die virus word deur persoonlike kontak versprei. Daarom is die doeltreffendste manier om te voorkom dat jy daarmee besmet word, om nabye persoonlike kontak met mense wat siek is en moontlik besmet is, te vermy.
  • Die situasie verander voortdurend. Die Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sal almal op hoogte hou van die jongste verwikkelinge. Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om op hoogte te bly en hulself daarvan te weerhou om onbevestigde gerugte te versprei.
  • Indien daar 'n uitbreking sou wees, is dit baie belangrik dat mense nie paniekerig moet raak nie, en almal moet hul volle samewerking aan die Universiteitsbestuur en openbare gesondheidsbeamptes gee.

SIMPTOME

Simptome sluit in hoofpyne, 'n koors, kortasem en hoes.

MOETS EN MOENIES

  • Indien jy vermoed dat jy besmet is, moenie sonder enige vooraf kennisgewing dokter, kliniek of hospitaal toe gaan nie. Dit kan gesondheidwerkers en ander (insluitende siek mense) onnodig en onbewustelik aan die virus blootstel.
  • Bly intussen tuis en vermy alle nabye sosiale kontak.
  • Bel eers die dokter, kliniek of hospitaal om hulle te laat weet dat jy siek is, sodat hulle kan voorberei om jou veilig en doeltreffend te ontvang.
  • Personeel en studente wat vrees dat hulle dalk besmet is, kan Kampusgesondheid op die Stellenbosse kampus skakel by tel 021 808 3496/3494, op die Tygerberg-kampus by tel 021 938 9590, en ná ure op die noodnommer, 076 431 0305.
  • Was jou hande gereeld deeglik met seep en water. Indien jy bekommerd is, oorweeg dit om 'n handontsmettingsmiddel (handreiniger) met 'n minimum alkohol-inhoud van 70% aan te skaf vir wanneer jy buite rondbeweeg.
  • Bedek jou mond met 'n stuk materiaal of jou elmboog wanneer jy hoes of nies. Probeer om nie oppervlaktes met jou ekskresie te besmet nie.
  • Dit word ten sterktes aanbeveel dat jy teen griep (die 2020-entstof sal binnekort beskikbaar wees) en ook teen pneumokkale siektes (indien vir jou aangedui) ingeënt word. Dit sal die las op die gesondheidsorgstelsel verlig, jou vermoë om te werk beskerm, en dit mag voorkom dat jy as 'n moontlike COVID-19-geval aangedui word. Die belangrikste is dat dit siekte, ongeag COVID-19, sal voorkom.

​REISVERBOD

  • Ná samesprekings met rolspelers het die Rektoraat besluit om 'n tydelike reisverbod op personeel en studente wat na die volgende land wil reis, te plaas: China, Suid-Korea, Iran en Italië .
  • 'n Protokol is ingestel om die risiko van internasionale studente, personeel en besoekers aan die Universiteit Stellenbosch te beperk.

INLIGTINGSBRONNE

Die bestuur van die US doen 'n beroep op die Universiteitsgemeenskap om op hoogte te bly van die jongste nuus wat deur sosiale media en die Universiteit se amptelike webwerf versprei sal word.

Belangrike skakels:

Die Universiteit sal die situasie monitor en die Universiteitsgemeenskap inlig oor die jongste verwikkelinge.

NOTA: Hierdie is 'n opdatering van 'n vroeer weergawe van hierdie artikel.

​Foto: Centres for Disease Control and Prevention (skakel vir inligting)