Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
USB se Daniel Malan aangestel in sleutelposisie by B20
Outeur: USB
Gepubliseer: 06/02/2020

Prof Daniel Malan, medeprofessor in etiek en korporatiewe bestuursgedrag aan die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool (USB), is aangestel as medevoorsitter van Besigheid Twintig (B20) se taakspan belas met integriteit en voldoening vir 2020.

Die B20 is die amptelike struktuur vir dialoog tussen die besigheidswêreld en die Groep van Twintig (G20), en verteenwoordig die besigheidsgemeenskap in al die G20-lande; dit is die lande wat verantwoordelik is vir meer as 80% van die wêreld se Bruto Nasionale Produk. Die B20, wat in 2010 tot stand gekom het, was die eerste amptelike skakel met die G20, wat leiers van beide ontwikkelde en ontwikkelende lande bymekaar bring. Suid-Afrika is die enigste Afrika-lid van die G20.

Die taakspan het onlangs in Riyadh, Saudi-Arabië, vergader. Volgens prof Malan sal daar noue samewerking wees met die G20 se werksgroep oor antikorrupsie.

“Die aanstelling is vir my persoonlik ‘n groot eer, asook belangrike internasionale erkenning vir die USB. Die belangrikste bydrae van die B20 is die ontwikkeling van beleidsvoorstelle. Lidlande van die B20 fokus tans op die verbetering van integriteit en voldoening in alle industrieë. Ons sien daarna uit om saam met die ander taakspanne te werk, asook met ander strukture van die G20, om sodoende integriteit in al die lidlande te bevorder,” het hy gesê.

Die oorgrote meerderheid van die ses taakspanne van die B20 bestaan uit sakeleiers uit die onderskeie lande, met slegs ‘n paar verteenwoordigers uit die akademie. “Dis nie ‘n teoretiese oefening nie,” sê prof Malan. “Die fokus is op beleidsvoorstelle en spesifiek op die implementering daarvan, wat die sukses van die B20-aktiwiteite gaan bepaal.” Daar kan onder meer gekyk word na die rol van tegnologie, staatsaankope en ondernemings in staatsbesit – wat alles besonder relevant in Suid-Afrika is.

Die taakspan sal vanjaar ‘n paar keer vergader om beleidsvoorstelle en uitvoerbare optrede vir die G20 te ontwikkel, voordat hulle hul aktiwiteite afsluit met die formele oorhandiging daarvan aan die G20-leiers by die jaarlikse B20-beraad in Riyadh in Oktober 2020.