Die navorsing-medewerking tussen Dr Menán du Plessis, 'n medeprofessor in die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, en die Khoisan-gemeenskap het nie net gelei tot die eerste uitgebreide dokumentering van die verlore Khoisan-taal, Kora, nie, maar het nou ook daartoe gelei dat Du Plessis erken word vir hierdie baanbrekerswerk.
Du Plessis se werk, wat bevat word in die boek getitel Kora: A Lost Khoisan Language of the Early Cape and the Gariep, het verseker dat sy verder erkenning sal geniet wanneer sy die gesogte Hiddingh Currie Toekenning ontvang van die Senaat-Publikasiekomitee van UNISA Uitgewers. Die boek is die eindresultaat van 'n samewerking-projek wat aangepak is in noue konsultasie met die Khoisan-gemeenskap in Bloemfontein.
Kora, gespel !Ora in die taal self, “was die Khoisan-taal gepraat deur die Khoi-herders van die vroeë Kaap en die Gariep". Diegene wat die taal gepraat het, het hulself geïdentifiseer as Korana en het hulself beskou as 'n gemeenskap afsonderlik van ander Khoehoe-sprekers.
“Kora, wat some Korana genoem word, is 'n inheemse Suid-Afrikaanse taal wat behoort aan die Khoekhoe-tak van die Khoe-familie. Hoewel dit verwant is aan ander Khoekhoe-variëteite soos Nama, Dama en Giri (of Griekwa), verskil dit in baie opsigte van hierdie dialekte," verduidelik Du Plessis.
Die taal is die eerste keer gedokumenteer in 1879 en is later bestudeer deur 'n aantal linguiste wat met Kora-sprekers interaksie gehad het in die 1920s en 1930s. Met die laaste weergawes van die taal wat in die 1930s opgeneem is, is gemeen dat dit heeltemal uitgesterf het.
In 2007 het wyle Mike Besten, 'n geskiedkundige van die Universiteit van die Vrystaat, egter 'n uitsonderlike ontdekking gemaak – hy het drie bejaarde persone in en om Bloemfontein ontdek wat steeds die taal praat.
“Mike se ontdekking was baanbrekerswerk in sowel historiese as linguistiese konteks. Kora is die naaste taal, meer as Nama, aan die taal wat eens gepraat is deur die oorspronklike Khoi-inwoners van die vroeë Kaap," voeg Du Plessis by.
“Voor sy ontdekking was daar slegs twee klankopnames van die taal wat in die 1930s gemaak is.""
Ander gedokumenteerde bronne was òf uit druk òf moeilik toeganklik en baie van die Kora-materiaal is slegs na Duits vertaal en het gesit in kelderverdiepings van universiteitsbiblioteke.
Toe Besten uitgereik het na taalkundiges om te help met die dokumentering van die taal, het Du Plessis, wat aan die Universiteit van Kaapstad gewerk het aan 'n PhD oor die suidelike Afrikaanse Khoisan-tale, dadelik met hom kontak gemaak.
“Hier was 'n byna wonderbaarlike laaste geleentheid om vir die nageslag opnames te maak van die oorspronklike taal van die vroeë Kaap en die Gariep."
Kort daarna het Du Plessis by Besten aangesluit op 'n besoek aan een van die sprekers, wat gewoon het in die landelike buitewyke van Bloemfontein. Vir die volgende jaar het sy die werk wat sy vir Besten gedoen het probeer inpas saam met haar werk aan haar PhD, terwyl die twee aansoek gedoen het om befondsing vir die projek wat Besten bevorder het.
Met net 'n paar bejaarde sprekers wat oorleef het, het hulle geweet dat as hulle die laaste oorblyfsels van die taal wou opneem, hulle vinnig iets moes doen. Du Plessis het besluit om die taal op te neem in 2011 deur onderhoude te voer met twee van die laaste sprekers, Oupa Dawid Cooper en Ouma Jacoba Maclear. Ongelukkig is albei in 2013 oorlede. Hierdie “skaars klankopnames", wat na verwys word as redding-dokumentasie, is toeganklik as individuele oudio-lêers – 800 in totaal – in die finale aanlyn-weergawe van die boek, wat reeds in druk-formaat beskikbaar is.
Vir Du Plessis is die erkenning wat sy ontvang deur die Hiddingh Currie Toekenning nie hare om op te eis nie.
“Daar was van die uitset 'n mate van maatskaplike aanspreeklikheid, aangesien die hele idee van die projek ontstaan het in die konteks van die huidige maatskaplike beweging bekend as die Khoisan-herlewing, en in vergaderings met verskillende mense van die Griekwa en Korana gemeenskappe in die Vrystaat. Hierdie persoonlike verbinding met individue wat sterk genoop is om hul kultuurerfenis op te eis maak dit belangrik vir my dat die boek geskryf moes word op 'n relatief toeganklike wyse, en dat dit 'n baie meer eenvoudige grammatikale beskrywing moes insluit. Die doel was om sover moontlik 'n omvattende hulpbron in een volume te verskaf," sê sy.
Die eindresultaat is 'n boek wat 'n versameling van meer as 40 tekste in die oorspronklike taal insluit, sowel as parallelle vertalings en 'n gekonsolideerde tweetalige woordeboek. Dit is gevul met gesamentlike en persoonlike geskiedenisse sowel as sosiale en ekonomiese geskiedenisse, vertellings oor handwerk en vaardighede van vroeër dae, en volksverhale.
“Die woordeboek is hier om lesers te help om deur die tekste in die oorspronklike erfenis-taal te werk, maar sluit ook woordeskat van kulturele belang in, soos die name van sterre, of musiekinstrumente, tradisionele kledingstukke, en die name van die maande in die ou maankalender."
'n Gratis, aflaaibare weergawe van die boek is beskikbaar by South African History Online, mede-uitgewers van die elektroniese weergawe, terwyl die gedrukte weergawe uitgegee is deur Unisa Uitgewers onder 'n Oop Toegang ooreenkoms. Du Plessis het enige tantieme geweier.
Wanneer 'n mens luister na die passie waarmee Du Plessis praat van 'n akademiese projek wat ontstaan het uit 'n gebaar van kulturele restitusie wat sowel deur haar gedryf en gevorm is as deur die Korana gemeenskap, is dit verrassend om te hoor dat sy nooit beplan het om Khoisan-tale te bestudeer nie. Haar pad na die akademiese wêreld het met 'n ompad gekom.
“My akademiese loopbaan is nogal ingewikkeld," lag sy.
“My eers roman, A State of Fear, is gepubliseer terwyl ek nog 'n voorgraadse student was in die Engels-departement van die Universiteit Kaapstad. Terselfdertyd het ek 'n pad van politieke aktivisme gevolg wat reeds begin het terwyl ek op hoërskool was – waar ek een van die medestigters was van 'n beweging genaamd National Youth Action. Boonop het ek 'n stryd gevoer met depressie en was dikwels in daardie vroeë jare gehospitaliseer."
“Ten spyte daarvan was ek teen 1983 in staat om te dien as hulpdosent in die splinternuwe Departement Taalwetenskap wat toe pas gestig is by die Universiteit Kaapstad. Ek was ook ingeskryf vir 'n PhD, met 'n fokus op semantiese teorie. Maar dit was presies die tyd toe die United Democratic Front ontstaan het, en terwyl ek in 'n ivoortoring gewoon het, het baie Suid-Afrikaners gely onder apartheid en baie was aktief betrokke by die stryd. Ons kon nie ons koppe in die sand begrawe en nie betrokke raak nie."
Tussen 1983 en 1985 het Du Plessis, wat teen daardie tyd by die plaaslike tak van die UDF in Observatory aangesluit het, betrokke geraak by verskeie aktiwiteite, help skryf aan pamflette en die verspreiding daarvan, die bring van huisbesoeke aan groepe bekommerde landsburgers wat meer wou weet van die stryd, die bywoon van byeenkomste, en ongelukkig meer en meer begrafnisse. Van haar vriende is gearresteer en toegesluit, terwyl ander geteister is. Sy het geleef in voortdurende vrees vir arrestasie en opsluiting vir wat, onder die apartheid-regering, as onwettige aktiwiteite beskou is. Haar tweede roman, Longlive!,is in 1986 gepubliseer, maar teen hierdie tyd het die spanning van 'n balans skep tussen 'n kreatiewe lewe sowel as 'n akademiese lewe – en om boonop 'n aktivis te wees – hul tol geëis, en sy het onttrek uit die akademie.
In 1990 is sy getroud met Renfrew Christie, 'n anti-apartheid aktivis en akademikus wat sy voorheen geken het uit haar jare in die National Union of South African Students (NUSAS). Hulle het mekaar weer raakgeloop nadat hy, na sewe jaar, uit die tronk vrygelaat is. Chistie se intelligensie-insameling namens die ANC het gelei tot die bom-aanslag op die Koeberg kernkragstasie naby Kaapstad. Hy is verskeie kere toegesluit, gemartel en in eensame aanhouding gehou. Du Plessis en Christie se eerste dogter is aan die einde van 1990 gebore, gevolg deur 'n tweede in 1992. Haar gesondheid het egter agteruitgegaan – sy het gesukkel met wat uiteindelik as ME gediagnoseer is – en dus het sy vir die volgende dekade bloot gefokus daarop om hul geliefde dogters groot te maak, terwyl haar man gewerk het as Administrateur van Navorsing aan die Universiteit van die Wes-Kaap.
Teen die tyd dat die meisies hoërskool toe is, was dit moontlik vir Du Plessis om te begin dink daaraan om terug te keer tot haar studies.
“Ek het altyd Europese tale soos Italiaans en Duits bestudeer. Maar toe ek begin oplees en die idee om terug te keer na my PhD verken het, het my fokus verskuif. Ek het meer begin kyk na Afrika-tale, en in die proses ontdek deur is 'n kennisgaping wat betref die Khoisan-tale. Dit is waarheen my fokus toe verskuif het," verduidelik Du Plessis.
Sy het teruggekeer na UK en weer ingeskryf vir 'n PhD, maar hierdie keer met die fokus op die Khoisan-tale in Suidelike Afrika, met 'n vergelykende benadering. Sy het haar PhD in 2009 behaal, en eers daarna kon sy meer intensief fokus op die Kora-werk.
“My belangstelling was aanvanklik bloot in die strukture van die tale," sê sy as sy nadink oor hoe daardie reis gelei het tot by Besten, die Korana gemeenskap en later die skryf van 'n boek oor die Kora-taal.
“Maar op 'n manier was dit onmoontlik om onbetrokke te bly en nie by die werklike gemeenskappe betrokke te raak nie."
Mike Besten se skielike dood in 2011 was 'n groot slag, maar dit het haar nog meer vasberade gemaak om die projek tot sy eer voort te sit. Befondsing was 'n groot probleem, sê Du Plessis, maar sy was gelukkig om uiteindelik 'n toekenning te ontvang van die Endangered Languages Documentation Programme (ELDP) by SOAS in Londen. Hierdie klein bietjie befondsing sou egter net die veldwerk dek.
Gelukkig het nog 'n bietjie ondersteuning betyds gekom toe Du Plessis en haar man albei uitnodigings ontvang het om vir 'n semester klas te gee aan die Universiteit van Kentucky in die VSA. Toe hulle eers terug was in Suid-Afrika, bevry van finansiële kommer, was dit vir Du Plessis 'n eenvoudige taak om te gaan sit en die Kora-boek te voltooi.
“Vir my was die oorkoepelende doel van hierdie werk, wat gesien is as 'n stap van kulturele restitusie, om die byna verlore taalkundige erfenis van die Korana en die Griekwa mense in Suid-Afrika te herwin – nie slegs vir die afstammelinge van hierdie gemeenskappe nie, maar tot voordeel van alle Suid-Afrikaners."
Foto: Dr Menán du Plessis (links), 'n medeprofessor in die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs erkenning gekry vir haar werk wat gelei het tot die eerste uitgebreide dokumentering van die verlore Khoisan-taal, Kora. Sy sal vroeg in 2020 die gesogte Hiddingh Currie Toekenning ontvang van die Senaat-Publikasiekomitee van UNISA Uitgewers. By haar op die foto is Kaptein Johannes Kraalshoek, 'n senior lid van dieKorana-gemeenskap in Bloemfontein, by die Letterkundefees wat deel was van die Vrystaat Kunstefees in Julie 2019. (Charina Bartlett, HeSheDigital)