Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visuele regstellingsprojek maak US-landskap vir almal meer verwelkomend
Outeur: Corporate Communication - Sandra Mulder
Gepubliseer: 28/01/2020

Die fisieke landskap van die Universiteit Stellenbosch (US) se kampusse sal oor die volgende drie jaar nog verskeie veranderinge ondergaan en byvoegings kry nadat verskeie visuele regstellingsinisiatiewe en die begroting daarvoor onlangs deur die US-Raad goedgekeur is.

Visuele regstelling bly een van die Universiteit se belangrikste prioriteite om die kampusse meer verwelkomend vir 'n multikulturele kampusgemeenskap te maak, sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die US.

“Veranderinge aan 'n kampusomgewing kan die institusionele kultuur verander en is belangrik vir transformasie om plaas te vind. Die US se visuele regstellingsprojek sal oor die volgende drie jaar (2020–2022) uitgebrei word nadat die eerste fase van die projek wat die afgelope twee jaar (2018–2019) onderneem is, afgehandel is," sê Van Rooi, voorsitter van die Visuele Regstellingskomitee wat onder meer oor die visuele regstellingsproses toesig hou.

Die volgende visuele regstellingsprojekte word vir die volgende drie jaar beplan:

  • Kontekstualisering van bestaande standbeelde en simbole op die kampusse in samewerking met die verskillende omgewings
  • 'n Geskiedkundige laan kunswerke word vir die oop ruimte langs Wilgenhof in Ryneveldstraat in die vooruitsig gestel (dit sal die Universiteit verder met Stellenbosch as dorp verbind)
  • Tuinprojek waardeur die US die Suid-Afrikaanse erfenis ook in sy tuine en ander openbare ruimtes sal vier
  • Visuele verteenwoordiging wat by die kulture van die studente wat in US-koshuise (insluitende die Universiteit se Luister, Leef en Leer [LLL]-gemeenskappe) woon, inskakel
  • Ontwikkel Die Vlakte wandelpaadjie en tuin. Hierdie inisiatief, in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit en inwoners van die geskiedkundige Die Vlakte-gemeenskap, sal die erkenning gee aan hierdie gemeenskap en die gedwonge verskuiwings wat 'n verskriklike uitwerking op hulle gehad het.
  • Werksessies by die onderskeie fakulteite oor visuele regstellingsinisiatiewe wat die fakulteite self kan aanpak

Die US se Fasiliteitsbestuur is een van die belangrikste instaatstellers van die US se visuele regstellingsprojek in openbare ruimtes op kampus. Hulle is onder meer verantwoordelik vir die aanbring van die nuwe naamborde regoor al die kampusse.

“Die regstellingsprojek fokus daarop om die Universiteit se landskap te verander in 'n poging om die onreg van die verlede en die skade wat visuele simbole aangerig het, reg te stel. Die nuwe visuele simbole is Afrika-gesentreerd. Die simbole wat op die kampusse agterbly en nie verander word nie, word wel in die regte konteks geplaas," sê mnr Francois Swart, Direkteur: Ontwikkeling, Beplanning en Ontwerp by die US.  

Die Visuele Regstellingskomitee het in samewerking met US Fasiliteitsbestuur verskeie byvoegings en veranderings in 2018 en 2019 aangebring, insluitende:

MatielandVisualRedressRedressAgain-24 - Copy.jpg

•    Die Kring, 'n brons kunsinstallasie langs die Rooiplein bestaande uit 11 vrouefigure wat die toekoms van Suid-Afrika en leierskap in die verlede, hede en toekoms uitbeeld.


•    Die gegraveerde bankies op die sentrale Stellenbosse kampus verwelkom studente, personeel en lede van die gemeenskap in 15 tale.Die Vlakte walking route benches.jpg





•    'n Kaart van Die Vlakte, 'n gebied van waar gesinne in 1964 onder die Groepsgebiedewet deur die Apartheidsregering verwyder is, is by die ingang van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou in Ryneveldstraat aangebring.Vlaktewalking route design.jpg

•    Spesiale boodskappe in Afrikaans, Engels en isiXhosa is op die mure van die Universiteitsbiblioteek aangebring om die US se rol in die ongeregtighede van die verlede te erken.MatielandVisualRedressAssebliefnouklaar-3 copy.jpg


•    Verskeie kaarte van die wyer Stellenbosch-gebied is op die mure van die Universiteitsbiblioteek aangebring.

•    Kontekstualiseringsborde is by die Adam Small-teaterkompleks, Pieter Okkers Huis, die Rooiplein en die Fakulteit Teologie aangebring.

MatielandVisualRedressRedressAgain-2 COPY.jpg


•    Werksessies oor visuele regstelling is by die Fakulteite Regsgeleerdheid, Teologie en Geneeskunde en Mediese Wetenskappe aangebied.

Verskeie mense verbonde aan die verskillende fakulteite en die professionele administratiewe steundienste (PASD), veral van die Departement Beeldende Kunste en Fasiliteitsbestuur, maak deel uit van die Transformasiekomitee en neem aan besprekings en gesprekke oor die fisieke landskap, beplanning, ontwerp, skep van tekens en naamborde, simbole, kunswerke en die implementering daarvan deel.


Namate die nuwe visuele regstellingsinisiatiewe meer sigbaar word, word 'n nuwe era vir die US ingelui. Dit is dus heel gepas dat die huidige inisiatiewe in die US se Eeufeesjaar afgeskop het. Van Rooi sê navorsing toon dat visuele regstelling moontlik 'n manier bied om onderliggende, onuitgesproke en onderbewuste uitdrukkings van uitsluiting wat steeds op die kampusse van hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika voorkom, aan te spreek.  



Die US se visuele regstellingsprojek is 'n katalisator vir die strategiese temas van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2040:

  • 'N FLORERENDE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH

Visuele regstelling het 'n direkte uitwerking op 'n veranderende kampus deur nuwe simbole by te voeg, sterk simbole te verhef en pynlike simbole te verwyder.

  • 'N TRANSFORMERENDE STUDENTE-ERVARING

Die nuwe simbole is transformerend van aard en studente is deur middel van werksessies direk by kommentaar oor, die kies van en oprigting van nuwe simbole betrokke.

  • DOELGERIGTE VENNOOTSKAPPE EN INKLUSIEWE NETWERKE

Visuele regstelling strek oor institusionele grense heen deur direkte skakeling met ander universiteite om nuwe vennootskappe te vorm wat direk by dít wat die US met visuele regstelling wil bereik, inskakel.

  • GENETWERKTE EN SAMEWERKENDE ONDERRIG EN LEER

Deur middel van werksessies kan visuele regstelling en direkte skakeling met fakulteite onderrig-en-leer-praktyke versterk, waar studente en dosente oor kontemporêre kwessies op só 'n manier kan praat dat dit tot nuwe simbole en/of die verwydering van pynlike simbole lei. 

  • NAVORSING VIR IMPAK

Die US kan die leier in navorsing oor die uitwerking van visuele regstellingsprosesse op ons kampusse word. In hierdie verband kan die US met ander instellings wat met soortgelyke kwessies worstel, saamwerk vir groter insig in die lesse wat geleer is.

  • VOORKEURWERKGEWER

'n Omgewing waar personeel meer welkom voel, sal hulle in staat stel om te floreer en tuis te voel.