Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voortgesette hernuwing verbeter studente se leer-ervaring
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 24/01/2020

Uitstekende nuus vir die Fakulteit se studente is dat die eerste fase van die CGW Schumanngebou-hernuwingsprojek – die opgradering van drie voorgraadse lesingsale op die grondvloer deur die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Fasiliteitsbestuur – afgehandel is. Lokale 101 en 107 (met 137 sitplekke elk), asook lesingsaal 104 (met 217 sitplekke) is slaggereed vir die akademiese jaar van 2020.

Nie net spog die lokale met 'n splinternuwe voorkoms en stoffering nie, hulle is ook met WiFi en die jongste tegnologie toegerus.

Mnr Johan van Rooyen, bestuurder van die Fakulteit se rekenaargebruikersareas (Fharga), sê: “Die lokale is toekomsgereed en beskik oor fasiliteite wat interaktiewe en hibriede leer ondersteun. Daar word ook voorsiening gemaak dat studente hul eie toestelle gedurende klasse kan gebruik en herlaai."

Die eerste amptelike geleentheid wat in die groot 'nuwe' lesingsaal plaasgevind het, is die dekaansvergunningseksamen wat op Vrydagoggend (24 Januarie) daar afgelê is. (Sien foto.)

Volgens mnr MJ Brooks, fakulteitsbestuurder, sal die tweede fase van die hernuwingsprojek in Junie vanjaar afskop. “Die tweede verdieping van die Schumanngebou kom dan aan die beurt kom. Dié area word hoofsaaklik vir nagraadse studente aangewend."​