Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe om mense te help met die maak van ingeligte gesondheidskeuses
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 21/01/2020

Wanneer dit kom by bewerings in verband met produkte in die veld van geneeskunde, voeding, ekonomie en ander gebiede, hoe bepaal ons wat waar is en wat nie? Wat kan ons vertrou en wat beslis nie?

Dis die onderwerp wat onlangs deur Anel Schoonees, 'n navorser by die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg, getakel is. Sy het deel uitgemaak van 'n internasionale groep navorsers wat 'n "Kommentaar-gebaseerde artikel" in die gesondheidsjoernaal Nature gepubliseer het.

In die artikel, met die titel Key Concepts for Making Informed Choices, het die alliansie van navorsers uit 'n wye reeks velde die raamwerk bepaal vir die maak van besluite wat gebaseer is op kritiese denke oor bewerings en vergelykings.

Die Informed Health Choices Key Concepts is tussen 2012 en 2017 ontwikkel, en is gelei deur die Centre for Informed Health Choices by die Instituut van Openbare Gesondheidsorg in Noorweë.

Schoonees het verduidelik dat die "ontwikkeling van Key Concepts for Informed Choices (Sleutelkonsepte vir Ingeligte Besluite) kritiese denke geïnspireer het oor 'n verskeidenheid velde, en dat dit gelei is deur dr. Andrew Oxman van Noorweë.

"My kollega dr. Dr Celeste Naude, 'n senior navorser by die CEBHC, en ek is albei deel van hierdie groep. Ons rol bestaan spesifiek daaruit om die 'Key Concepts' in die veld van voeding te kontekstualiseer."

Sy het voortgegaan: “Die Kommentaar-artikel in Nature bevat die Key Concepts for Making Informed Choices (Sleutelkonsepte vir Ingeligte Besluite), wat as 'n raamwerk dien om mense dwarsoor verskillende velde te help om krities te dink oor bewerings, en om hulle te help om ingeligte besluite te maak in hulle daaglikse lewens. Enigiemand, uit watter veld ookal, kan die Key Concepts neem, hulle aanpas soos benodig, en hulpbronne vir hulle veld ontwikkel wat op hulle spesifieke gehoor gemik is – laerskoolkinders, tieners, pasiënte, joernaliste, studente in die geneeskunde, ens."

Schoonees, wat aanvanklik by die Universiteit van Stellenbosch 'n BSc in Voedselwetenskap gestudeer het, het voortgegaan om haar Meestersgraad in Voeding te verwerf.​

Gesetel in die Afdeling van Menslike Voeding, onder die mentorskap van prof. Jimmy Volmink, het sy as 'n navorsingsassistent gewerk, en het later ingeskryf vir 'n MSc in Kliniese Epidemiologie onder professor Taryn Young. Sy het ook gekwalifiseer as dieetkundige by die Universiteit van Kaapstad.  

Schoonees het in 2011 by die CEBHC begin werk.

Sy het gesê dat die Key Concepts for Informed Choices-projek vir haar van besondere betekenis was, as gevolg van haar agtergrond in voeding, 'n veld waarin  mense dikwels 'soveel nonsens' teëkom.

“Dit is baie belangrik dat hierdie projek verder gevoer word met die doel om na voeding te kyk.  Celeste en ek werk tans hieraan."

Dit hou vir haar spesiale betekenis in, aangesien sy selfs as kind bewus was van die valse gevolgtrekkings wat te vinde was in sekere media- en bemarkingsmateriaal.

“Ek kan onthou dat ek die voeding- en gesondheidsbladsye van my ma se tydskrifte gelees het. Ek het alles geglo wat ek gelees het tot ek in die hoërskool gekom het. Een dag sou hulle een ding kwytraak, en die volgende maand sou dit heeltemal weerspreek word. Dit het my verwar."

Terwyl sy haar MSc in Kliniese Epidemiologie gedoen het, het sy 'n 'Tydskrif-studie' onderneem – 'n beskrywende opname van die advertensies vir voedingsaanvullers in Suid-Afrikaanse vrouetydskrifte.

“Vir 'n jaar het ek al die uitgawes van vyf gewilde vrouetydskrifte in die land gekoop en gekyk na die hoeveelheid stellings oor gesondheid wat daar in advertensies vir voedselaanvullers gemaak is, en wat as bewyse vir daardie stellings gegee is."

Die tydskrifstudie het gedui op die behoefte wat verbruikers het om die basiese kennis van die beginsels van bewysgebaseerde gesondheidsorg en voeding te verstaan, en dis wat die Key Concepts-projek aanspreek.

Schoonees is opgewonde om deel van hierdie projek te wees. “Nie alle bewyse is op 'n gelyke voet nie, en dit is 'n uitdaging om uit te pluis watter aannames meer betroubaar is. Hierdie projek verskaf 'n goeie raamwerk waarbinne om te werk,, en die werklike geleentheid om ander te bemagtig om besluite te neem wat op goeie inligting gebaseer is."

Vir verdere inligting, kyk na die webblad www.thatsaclaim.org. Die artikel kan hier gelees word: https://www.nature.com/articles/d41586-019-02407-9.