Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Befondsingsinisiatief verander lewens en vooruitsigte
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 20/01/2020

Projek  Zero, 'n inisiatief van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe om studente te help om hul studies sonder finansiële kommer of studieskuld te voltooi, het 'n vrugbare oes opgelewer, met 17 beurshouers wat in 2019 gegradueer het. Dit verteenwoordig boonop 'n groot toename, aangesien vyf Projek Zero-studente die vorige jaar gegradueer het.

Projek Zero is in 2015 deur die Fakulteit van stapel gestuur om die werklike koste van studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) vir talentvolle studente tot 'n nulbedrag af te bring. Die beurse word op grond van akademiese meriete toegeken en dek die ontvangers se studie-, verblyf- en lewenskoste. Omtrent 50% van die ontvangers kom uit 'n agtergrond wat arm is aan hulpbronne.

In 2017 het die bankwese se sektorale onderwys- en opleidingsowerheid (Bank SETA) – wat toe ongeveer 50% van die Projek Zero-studente befonds het – 'n groot bydraer tot die inisiatief geword. Verlede jaar is al die 55 eerstejaar-, nie-finalejaar- en finalejaar-Projek Zero-studente deur die Bank SETA befonds.

Liam Cloete, 'n 2016-begunstigde wat onlangs 'n BCom (Aktuariële Wetenskap) graad verwerf het, het vertel dat die beurs hom die vryheid gegee het om die omgewing en geleenthede aan die US te benut.

“Ek het myself in my koshuis, Eendrag, en sy mense verdiep en selfs drie jaar lank acapella gesing. Ek was uiteindelik bevoorreg genoeg om by die huiskomitee aan te sluit, en het in my finale jaar as primarius gedien.

“Ek het ook 'n leierskapkursus ontwikkel wat deur die US geakkrediteer is. Die kursus is gerig op die verbetering van persoonlike leierskap- en bestuursvaardighede en ons het dit selfs bekendgestel aan 'n nuwe hoërskool in Stellenbosch genaamd Calling Education."

Maar dit was nie net maanskyn en rose vir dié jong Johannesburgse boorling nie en in 2019 was hy genoodsaak om sy derde jaar te herhaal.

“Ek was seker dat ek my beurs sou verbeur, maar die fakulteit het besluit om dit weer aan my toe te staan sodat ek my graad kon verwerf. Daarvoor is ek vir ewig dankbaar. "

Hy raak stil om sy emosies onder beheer te kry. “Maar positiewe dinge kan uit mislukking kom," sê hy. “Ek het geleer hoe om mislukking te hanteer, en dat sukses en mislukkings nie wedersyds eksklusief is nie. Naderhand het ek ook geleer hoe om my emosies te hanteer en om met mislukking saam te leef. As 'n groentjie vars van die hoërskoolbanke, het ek geen idee gehad hoe maklik dit is om te misluk en hoe moeilik dit is om te slaag nie. "

Hy beoog om sy honneursgraad in 2020 te voltooi, en daarna, eendag as hy finansieel stabiel is, om terug te ploeg in hierdie inisiatief waaruit hy soveel geput het.

Nog ʾn Projek Zero-student, Kamir Arjun, het sy BAcc (Rekeningkunde) graad cum laude in 2018 verwerf.

“As gevolg van julle vertroue in my vermoëns kon ek die lewe as 'n werkende man begin sonder die las van studieskuld," het Arjun aan die fakulteit gesê. “Dit is 'n groot verligting en eerlikwaar 'n groot las van my skouers af."

Volgens hom het die Projek Zero-beurs hom in staat gestel om 'n gebalanseerde leefstyl te beoefen.

“Ek kon die vereistes van sportoefening, netwerkgeleenthede, die ontwikkeling van my vaardighede, my werk as 'n privaat tutor en koshuismentor met my studies balanseer.

“In die toekoms beoog ek om 'n professionele driekampatleet te word, aan 'n 100-mylwedloop deel te neem, vir 'n meestersgraad in belasting te studeer en 'n MBA aan die Harvard Besigheidskool te verwerf voordat ek 30 is. Ek weet nou dat ek enigiets kan bereik. Dankie dat julle my die geleentheid gegee het om groot te kan droom en om myself te kan bevorder. "

Ahmed Dada, voormalige Matie en Projek Zero-begunstigde, het gesê die beurs het hom die sekuriteit gegee wat hy nodig gehad het gedurende 'n baie moeilike tyd in sy lewe.

“Universiteit op sy eie is al klaar uiters stresvol. As jy persoonlike faktore soos my ouers se egskeiding daarby voeg, kan dit ondraaglik word. Dit is waar Projek Zero ingekom het. Dit het my die versekering gegee dat ek my graad aan die beste universiteit in Afrika kon voltooi, maak nie saak wat gebeur nie. Dankie vir die grootste geleentheid en voorreg van my lewe. "

Vorentoe beoog hy om aan studente terug te gee wat die Universiteit deur die Projek Zero-inisiatief aan hom gegee het.

  • Hooffoto: Projek Zero-studente van 2019.
  • Foto regs: Liam Cloete
  • Kontak die fakulteitsbestuurder, mnr MJ Brooks, by tel 021 808 2078 of mjbrooks@sun.ac.za as jy graag tot Projek Zero wil bydra, of verdere inligting benodig.LiamCloete_klein.jpg