Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lewende Skooltuin ’n baanbrekerprojek
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 19/12/2019

Gebruik so min as moontlik hulpbronne om voedsame groente van hoë gehalte te produseer. Dit – in kort – is die doelwit van die Lewende Skooltuin-projek wat deur me. Thanja Allison, Sosiale Impak-koördineerder van die Departement Genetika, bedryf word en deur die Afdeling vir Sosiale Impak by die Universiteit Stellenbosch ondersteun word.      

Die projek is in 2019 afgeskop toe me. Allison groentetuine by die drie terreine van die SEED Trust se Babin-skool in Stellenbosch aangelê het.     

 “My eie kinders was in Babin en ek beskou dit as my manier om terug te gee," sê me. Allison.     

“Ons het by elke skoolterrein 'n stuk grond wat nie as speelruimte gebruik is nie, gevat en dit in 'n groentetuin omskep. Die doel is om voedsame groente te kweek om by die skool se voedingskema in te sluit. Dit beteken dat elke kind minstens een gekookte, voedsame maaltyd per dag ontvang.      

“Die skool het by elke terrein iemand voorsien om die tuin te onderhou en die opleiding van hierdie persoon maak 'n belangrike deel uit van hierdie projek."    

Groente wat maklik groei, soos spinasie, wortels, aartappels en botterskorsies, is geplant, sowel as blomme om bye te lok.       

Om die groente aan te vul wat op die skoolterreine gekweek word, word die projek ondersteun deur die Welgevallen Toekenningstuin-projek, wat ook deur die Afdeling vir Sosiale Impak gesteun word en bestuur word deur dr. Paul Hills van die Instituut vir Plantbiotegnologie en Indren Govender van die Departement Wiskunde.

“Ons plant dieselfde groente daar om die voorraad aan te vul – ons kan nie genoeg op die skoolterreine produseer nie," voeg me. Allison by.

Die projek steun swaar op vrywilligers en mees onlangs was dit internasionale studente van EARTH University in Costa Rica wat hul hande in Afrika-grond vuilgemaak het.      

Die skool is verantwoordelik vir die voorbereiding van die groente en me. Allison stel in die vooruitsig dat studente van ander departemente, soos die Departement Voedselwetenskap, gevra kan word om personeellede by Babin te leer om groente op verskillende maniere voor te berei om dit só meer aantreklik vir kinders te maak.    

Tans ondersoek die projek alternatiewe tuinmaakmetodes weens 'n gebrek aan grond en son by sommige van die terreine.        

“Ons eksperimenteer byvoorbeeld met die gebruik van strooibale. Dit is moontlik om 'n tuin in strooibale te maak, sonder enige grond. Jy behandel 'n vars strooibaal met bemesting en water vir 12 dae totdat dit soos 'n broeikas word. Jy plant dan saailinge in gate in die strooi. 'n Strooibaal kan tot drie jaar gebruik word voordat dit ontbind.      

“Dit beteken dat enigeen – selfs al bly hulle iewers sonder enige grond of ruimte – 'n tuin kan hê."

Me. Allison eksperimenteer ook met hidroponiese tuinmaak. Sy het in 2019 haar 25e jaar by die Universiteit Stellenbosch gevier en 'n hidroponiese eenheid as geskenk gevra.

Sy glo die kennis wat ingewin word deur hul eksperimente met verskillende tuinmaakmetodes – met die doel om so min as moontlik hulpbronne te gebruik om voedsame groente te produseer – 'n groot bate in Suid-Afrika kan wees.    

Sy beplan om meer formele werkswinkels en opleidingsgeleenthede oor die basiese beginsels van tuinmaak, erdwurmkompos, en strooibaaltuine aan te bied.

Volgens Hlumile Malahlekani, wat na die groentetuin by Babin se een skoolterrein omsien, het hy 'n hele paar nuwe vaardighede aangeleer en sal hy lede van sy gemeenskap in Kayamandi wat hul eie groente wil kweek, kan bystaan.    

Die projek steun swaar op vrywilligers en mees onlangs was dit internasionale studente van EARTH University in Costa Rica wat by die projek betrokke geraak het.      

Sandra Kalua van Malawi, Lisbeth Castro van die Dominikaanse Republiek en Grace Aguti van Uganda – is dit glad nie vreemd om by gemeenskapswerk betrokke te wees nie. EARTH is 'n private, niewinsuniversiteit wat 'n voorgraadse graad in Landbouwetenskap aanbied en daar word van studente verwag om elke week een dag gemeenskapsdiens te verrig.

Hulle het al soortgelyke projekte op 'n groter skaal gesien en glo dat die Lewende Skooltuin-projek groot potensiaal het.       

Die projek se planne vir volgende jaar sluit in om meer navorsing oor strooibaal- en hidroponiese tuinmaak te doen en verskillende grondbedekkings te toets.

“Ons het klein begin, maar ons droom groot," sê me. Allison. “Daar is NOU 'n behoefte aan hierdie soort projekte."