Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ek kán lees'-projek bemagtig leerders én studente
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/12/2019

Die “Ek kán lees"-geletterdheidsprojek poog nie net om grondslagfaseleerders se geletterdheidsvlakke te verbeter nie, maar ook om voornemende onderwysers bewus te maak van hoe konteks hul onderrigbenadering kan en moet beïnvloed.

Hierdie Sosiale Impak-projek is die geesteskind van dr. Zelda Barends, 'n dosent in Kurrrikulumstudie en Grondslagfase-programkoördineerder in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). 

“Ons almal weet wat die statistieke is – dat 78% van ons leerders nie met begrip kan lees nie. Suid-Afrika beleef 'n groot geletterdheidskrisis. My navorsing en my werk met onderwyseropleiding het ook vir my aangedui dat onderwysers se onderrig soms verlore gaan omdat hulle nie altyd die konteks verstaan waarin hulle werk nie."

Barends het 'n naskoolse taalontwikkelingsprogram ontwerp, gefokus op grondslagfaseleerders (Graad 1 tot 3) by 'n skool in die Stellenbosch-omgewing. Dié program vul die bestaande kurrikulum aan.

Altesame 75 onderwysstudente in hul vierde jaar het vir 11 weke in die eerste semester op Dinsdae- en Donderdaemiddae taalondersteuning aan 330 leerders by die skool gebied. Die lesse het bestaan uit klankleer- en woordbou-aktiwiteite en is afgesluit met die lees van 'n storie om leerders se woordeskat te ontwikkel en kennis te verbreed.

Aan die einde van die 11 weke het elke leerder sy of haar eie storie geskryf oor 'n sosiale kwessie waarmee hulle in hul lewe gekonfronteer word. Hierdie stories en illustrasies is toe in graadverband in boeke saamgevat en aan elkeen van die leerders in die betrokke graad oorhandig. 

“Hierdie boeke gee vir hulle 'n gevoel van agentskap (agency). Hulle sien nou hulle kán lees en hulle kán skryf. Die “Ek kán lees"-projek is 'n ondersteuningsprojek, maar dit bemagtig ook die leerders en gee hulle selfvertroue," verduidelik Barends.

“Die onderwysers se terugvoer was ook kosbaar. Hulle het gesê die kinders skryf nou beskrywende sinne."

Die studente is in pare verdeel en moes saam aan hul lesbeplanning werk, met klem op die leerders se reaksie in die lesse en bespreking oor hoe dit hul onderrigstrategie beïnvloed.

“Dit was vir my belangrik om leergeleenthede te skep waar studente werk in kontekste wat vir hulle vreemd is, sodat hulle bewus kan word van hoe hul keuses, opinies en wêreldbeskouiing hul onderrig beïnvloed."

Haar droom is dat die US onderwysers lewer wat in verskillende kontekste doeltreffend onderrig kan gee, en daarmee saam aandag te gee aan die behoeftes wat in skole bestaan. Die studente moes aan die einde van die semester 'n omvattende opdrag oor hul ondervinding voltooi.

“Dit is harde werk om 'n onderwyser te wees – jy word uitgedaag op alle vlakke. Jy kan nie bevooroordeeld wees nie en 'n “one size fits all"-benadering is nie tot enigiemand se voordeel nie. Ons moet erkenning gee aan wie die leerders is en van waar hulle kom."

Volgens Barends is hierdie projek 'n goeie voorbeeld van hoe die verskillende verantwoordelikhede van akademici (navorsing, onderrig en leer, en sosiale impak) uitgeoefen kan word.

“Ek het gebruik wat navorsing sê, dit toegepas in my onderrig en leer, en dit saam met my studente uitgebrei tot 'n sosiale impak-projek."

Barends hoop om die projek volgende jaar na minstens een ander skool toe uit te brei.