Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer John Kani met eredoktorsgraad
Outeur: Corporate Communication Division/Sandra Mulder
Gepubliseer: 13/12/2019

​​

 



“Die mag om die land te verander, is in die hande van die landsburgers. Ons is die regering. Ons het vir hulle gestem en ons kan hulle uitstem." Dit was een van die inspirerende boodskappe in die internasionaal-bekroonde akteur en dramaturg, John Kani, se aanvaardingstoespraak nadat hy 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het.

Die voorsittende beampte en Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het vanoggend (13 Desember 2019) by die US se negende en laaste Desember 2019-gradeplegtigheid die eredoktorsgraad, Doktor in die Wysbegeerde (DPhil), honoris causa, onder luide toejuiging van die gehoor aan Kani toegeken. Dit is gedoen in erkenning en ter ere van sy lewenslange toewyding om die uitvoerende kunste as 'n instrument vir opheffing te gebruik.

In Kani se boeiende boodskap van hoop aan elkeen in Suid-Afrika, het hy grappenderwyse gesê dat toe hy die nuus van die eredoktorsgraad gekry het, sy eerste gedagte was dat hy “beroemd geraak het op Stellenbosch". “Om op hierdie ongelooflike manier vereer te word, het my so goed laat voel en dat my 76 bestaansjare en al ons pogings nie verniet was nie."

Een van die staaltjies wat hy by die geleentheid vertel het, was toe hy en Athol Fugard in 1984 op Stellenbosch moes kom optree. Hulle het aanvanklik gedink dat hulle nie Stellenbosch toe kon kom nie, omdat dit as die “hoofkwartier van die Afrikanerdom" beskou is. “Ek het by myself gewonder wat die comrades van ons sou dink en dat hulle sou dink ons het hulle uitverkoop." Maar hulle het tog gekom en vir 'n week op Stellenbosch opgetree. “Ek was beïndruk met die goeie gesprekke wat ons met professore en dosente gehad het. Maar ek is die meeste deur jong mense wat Afrikaans praat, beïndruk. Ek het besef ek en die Afrikaner het dieselfde probleem: Ons het nêrens anders om heen te gaan nie. Dit sal my taak wees om stories te vertel wat as getuienis van die reise wat elke individu onderneem, dien."

In 1982 het Kani se naam op 'n sluipmoordlys verskyn, maar hy het dit geïgnoreer. Hy is deur die veiligheidspolisie aangeval. Sy vrou het hom gevind en hy is met 11 steekwonde in 'n hospitaal in Port Elizabeth opgeneem. “In die hospitaal was daar 'n wit dokter wat my in die afsonderingsaal vir aansteeklike siektes weggesteek het. Toe die veiligheidspolisie uitvind dat ek nie dood is nie, het hulle na die hospitaal gekom om hul taak af te handel, maar hulle wou nie by die saal ingaan nie. Ek is my lewe aan hierdie jong wit dokter te danke," het hy gesê.

Die laaste staaltjie wat Kani vertel het, het oor sy pa gegaan wat altyd gesê het dat hy (John) die geld wat sy pa op sy onderrig gespandeer het, aan hom in rand en sent moes terugbetaal wanneer hy begin werk. “Ek het dieselfde storie aan my agt kinders vertel, maar my geldeenheid het verskil. Ek het vir hulle gesê hulle moes iets van hulself maak en 'n waardevolle bydrae tot die mensdom en die samelewing lewe. Dit is hoe hulle my kon terugbetaal."

Motivering vir eregraad aan Kani

Die Universiteit se Raad en Senaat het besluit om die graad aan hom toe te ken uit erkenning en bewondering vir sy onwrikbare en passievolle toewyding aan die uitvoerende kunste as akteur, regisseur en skrywer; vir sy verbintenis om toegang tot die uitvoerende kunste vir jongmense uit gemarginaliseerde gemeenskappe te verseker; vir die benutting van die kunste om op te voed, om gemeenskap te skep en as 'n uitingsvorm vir die onderdruktes; en uit erkenning vir sy uitnemendheid in sy internasionale loopbaan in die uitvoerende kunste oor 50 jaar.

Kani is op 30 August 1943 in New Brighton, Port Elizabeth, gebore. Sy band met drama, wat reeds op skool begin het, duur voort ná matriek.

As 'n jong swart man wat in apartheid-Suid-Afrika grootword, was sy eerste begeerte altyd om deel van die vryheidstryd te wees. Sy behoefte om die verdruktes se stories te vertel en die uitwerking daarvan op mense te sien, lei tot die ontwikkeling van sy diepliggende oortuiging dat die teater ʼn magtige instrument vir verandering is en dit word uiteindelik die katalisator vir al sy werk: as akteur, regisseur en dramaturg.

In 1965 sluit hy by die Serpent Players aan en hier begin sy vriendskap met Winston Ntshona en Atholl Fugard. In 1972 ontwikkel Kani, Fugard and Ntshona die invloedryke Sizwe Banzi is Dead en in 1973 skep en vervaardig hulle The Island. Hulle voer albei op plaaslike en internasionale verhoë op en in 1974 wen Kani en Ntshona albei die gesogte Tony-toekenning vir beste akteur in dié twee toneelstukke.

In 1977 stig Kani en Barney Simon die Markteater, wat in gelyke mate op teaterwerk en sosiale opheffing fokus. In 1990 stig hulle die Markteater Laboratorium, wat aan jongmense uit gemarginaliseerde omstandighede die geleentheid sou gee om die uitvoerende kunste te bestudeer.

Met hul soen op die verhoog in 1982 skud Kani en Sandra Prinsloo die fondasies van die wit Suid-Afrikaanse gevestigde orde in hul hoofrolle in Strindberg se Miss Julie in die Baxterteater. In 1987 word hy ook die eerste swart Suid-Afrikaner om Shakespeare se Othello in ons land te vertolk.

Kani skryf drie toneelstukke: Nothing but the Truth (2002), Missing (2014) en Kunene and the King (2018). Al drie toneelstukke handel oor diep-ingewikkelde Suid-Afrikaanse temas van vergifnis, ballingskap, afsondering, identiteit en verlies. Hy speel die hoofrol in al drie toneelstukke, onder meer saam met sir Antony Sher in Kunene and the King.

Onlangse internasionale suksesse sluit in sy rolle in die rolprente Black Panther (2018), The Lion King (2019) en Murder Mystery (2019).  

Kani het reeds vier eregrade ontvang en sy lang lys toekennings sluit die Hiroshima-prys vir vrede van die Sweedse Akademie, die Olive Schreiner-prys, die Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekenning vir lewenslange bydrae, die kykNET Fiesta-toekenning vir lewenslange bydrae en die Naledi World Impact Theatre Award in.