Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bongani se nalatenskap sal nog vir lank op US-kampus agterbly
Outeur: Corporate Communication Division/Sandra Mulder
Gepubliseer: 12/12/2019

Al het Bongani Mapumulo, 'n honneursgraduandus, se reis aan die Universiteit Stellenbosch (US) nou tot 'n einde gekom en al moet hy nou die kampus vaarwel toeroep om sy loopbaan te begin, sal sy nalatenskap om die US 'n beter plek vir persone met gestremdhede te maak, vir lank nog op die kampus agterbly en sigbaar wees.

Bongani het sy honneursgraad in Interkulturele Kommunikasie by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se gradeplegtigheid vandag (12 Desember) in absentia by die Coetzenburgsentrum op Stellenbosch ontvang. Hy was vir vyf jaar 'n voltydse inwonende student wat eers sy voorgraadse BA-studies en toe sy honneursgraad voltooi het met Politieke Wetenskap, Sosiologie en Sosiale Antropolgie as hoofvakke. Hy het die volle vyf jaar in Huis Russel Botman gewoon. Hy was ook die voorsitter van Dis-Maties, 'n vereniging wat 'n bewustheid van studente met gestremdhede bevorder en om te verseker dat hulle 'n positiewe akademiese en sosiale ervaring op kampus het.

 “As 'n inwoner van die enigste koshuis wat na die denkleier en akademikus, wyle prof Russel Botman, vernoem is, het ek my gewete en my pligsgeoriënteerde lewensuitkyk gegrond op sy idees en onderrig ontwikkel. Sy invloed, selfs uit sy graf, was van onskatbare waarde vir wie en wat ek geword het," sê hy.

'n Deel van Bongani se nalatenskap kom van die afgelope jaar toe hy 'n lid van die Studenteraad (SR)  was waar hy die portefeulje vir spesiale behoeftes behartig het. Hy het bygedra deur bewustheid oor persone met gestremdhede te skep. Hoewel hierdie portefeulje aanvanklik net tydelik as 'n loodsprojek geïmplementeer is, word dit nou as 'n permanente portefeulje in die SR oorweeg.

“Die SR verteenwoordig die studenteliggaam van die US. Daar is baie studente met spesiale behoeftes en daarom het hulle verteenwoordiging nodig. Die kampusgemeenskap sal beslis meer deernis en begrip vir hierdie studente se probleme hê indien die SR betrokke raak," meen Bongani.

Maar een van die goed waarvoor Bongani waarskynlik die meeste onthou sal word, is die voorbeeld wat hy aan huidige studente, voornemende studente met gestremdhede en ander wat die een of ander uitdaging moes oorkom, gestel het. Sy reis aan die US is 'n bewys van sy lewensbeskouing dat daar “'n ander wêreld buite jou gestremdheid of uitdaging is. Ons moet daarna streef om met oorgawe te leef, vry van die fisieke beperkings wat ons liggame op ons plaas."

Bongani se storie het in Durban in KwaZulu-Natal, waar hy gebore en getoë is, begin. Hy het as vierjarige 'n besering aan sy rugmurg opgedoen. Dit het jare se mediese prosedures geneem om hom weer baie stadig en met behulp van beenstutte en krukke te laat loop. Hy was totdat hy gematrikuleer het, in spesiale skole vir gestremdes. Hy gebruik 'n elektroniese rolstoel om mee rond te beweeg en deur die jare het hy 'n bekende gesig op die Stellenbosse kampus geword.

“Ek het daaraan gewoond geraak om op kosskool te wees waar ek deur baie ander leerders in rolstoele, op krukke of met die een of ander gestremdheid omring was. Ek het Zoeloe gepraat en het nooit buite die grense van KwaZulu-Natal gereis nie. Toe ek op Stellenbosch aanland, was ek die enigste een op kampus in 'n rolstoel – en dít boonop in 'n vreemde provinsie, ver weg van die gemak van my bekende omgewing," vertel Bongani.

Bongani onthou nog steeds goed hoe hy, kort nadat hy in 2013 sy aansoek aan Stellenbosch gestuur het,'n oproep van die US se Eenheid vir Gestremdhede ontvang het. “Die mense van die Universiteit het my gebel om meer uit te vind oor my gestremdheid, wat ek nodig gehad het en watse toestelle en hulpmiddele ek gebruik het. Ek was verras en het gevoel dat die Universiteit omgee en dat ek in goeie hande sou wees. Daarom het ek Stellenbosch gekies. Ek het nooit weer eens iets gehoor van die ander twee universiteite waar ek aansoek gedoen het nie," onthou hy.

Gedurende sy vyf jaar aan die US het hy inderdaad 'n transformerende studente-ervaring beleef. Stellenbosch en die Wes-Kaap het sy tweede tuiste geword, terwyl die netwerk van mense wat hy opgebou het, ook van onskatbare waarde is. Hy het persoonlik gegroei en sterker geword en baie wysheid opgedoen – soveel so dat hy nou gemaklik is met die idee om die Wes-Kaap sy permanente tuiste te maak.

Sy dryfkrag is die gedagte “om net te word". “Ek sien uitdagings – wat ek al my hele lewe lank het – as geleenthede om myself te verbeter. Terwyl ander mense sal sê 'n uitdaging het 'met hulle gebeur, sal ek sê die uitdaging het 'vir my gebeur'. Uitdagings bou jou karakter en jou vermoë om aan te pas. Ek is my ewige optimistiese gees wat ek omarm het en wat alles wat ek doen, bepaal, aan hierdie uitdagings te danke."

Een van die volgende uitdagings wat “vir hom sal gebeur", is om werk te kry in die veld van menskapitaal en ontwikkeling waar hy met mense sal kan werk en wat hom in staat sal stel om die lewe as die uitgaande en visionêre mens wat hy is, met oorgawe te geniet.