Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soeke na nuwe geneesmiddels motiveer Malawiese biochemikus se doktorale studies
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 11/12/2019

'n Intense belangstelling in die ontdekking van nuwe geneesmiddels om die vlaag van infeksiesiektes in Malawi te bekamp, het Dr Collins Edward Jana sedert 2008 vasbeslote gehou om vas te byt met sy studies om uiteindelik 'n PhD in biochemie aan die Universiteit Stellenbsoch (US) te verwerf.

Hy is een van 27 PhD-kandidate in die Fakulteit Natuurwetenskappe wat hulle grade op 11 Desember 2019 by die US se gradeplegtigheidseremonie sal ontvang.

Dr Jana, tans 'n navorser en dosent aan die Universiteit van Malawi se Kollege van Geneeskunde, is van plan om 'n navorsingsgroep op die been te bring wat fokus op die ontwikkeling van  geneesmiddels, met die ondersteuning van sy studieleier en mentor van die afgelope tien jaar, Prof Erick Strauss van die US se Departement Biochemie.

Dr Jana se navorsing het gefokus op 'n nuwe klas antimikrobiese verbindings, genaamd PanSulfAms, gebaseer op 'n goed gevestigde strategie wat gebruik maak van vitamien-analoë as antibiotika. Hierdie strategie het oorspronklik gelei tot die ontdekking van die eerste sintetiese antibiotika, waarvan sommige vandag steeds klinies gebruik word.

Volgens Prof Strauss is daar 'n dringende behoefte aan die ontwikkeling van nuwe antimikrobiese middels: “In Dr Jana se ondersoek het hy die biologiese meganisme waarvolgens die PanSulfAms werk, bepaal, asook die basis vasgestel vir hulle keuraffiniteit vir die bakterie Staphylococcus aureus, wat 'n groeinde bedreiging vir gesondheid inhou – veral in terme van hospitaalverworwe infeksies."

Hy glo dat baie meer gedoen moet word ten einde 'n kerngroep navorsers in Afrika te vestig. Maar dit verg tyd, fondse en dikwels groot opofferings aan die kant van die studente wat hulle gesinne moet agterlaat wanneer hulle nagraadse studiegeleenthede in ander lande wil benut.

Dr Jana se akademiese loopbaan het in 2000 begin toe hy sy BSc-graad in chemie en plantkunde aan die Islamic University in Uganda verwerf het. In 2003 is hy aangestel as medelektor in biochemie aan die Universiteit van Malawi se Kollege van Geneeskunde. Op advies van Prof Edward Senga wat op daardie stadium die departementshoof was, het hy besluit om in hierdie veld voort te gaan, alhoewel geen instelling in Malawi die kapasiteit of kundigheide gehad het om nagraadse opleiding hierin te verskaf nie.

Vyf jaar later het sy groot deurbraak gekom toe hy 'n beurs van die Noorweegse Regering ontvang het om nagraads in biochemie te studeer by enige instelling in Noorweë, Malawi of Afrika.

In sy aanlyn soeke na 'n gepaste instelling, het hy op die US se Departement Biochemie afgekom: “Ek was beïndruk met die departement se hoëkwaliteit navorsingsuitsette en die universiteit se internasionale rangorde. En gegewe die feit dat Malawi een van die lande is wat die ergste deurloop onder infeksiesiektes, wou ek ook by 'n navorsingsgroep aansluit wat fokus op die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels," verduidelik hy.

Dit was die begin van 'n tien jaar lange reis waartydens hy sy vrou en jong kind vir lang tydperke moes agterlaat, en hy dikwels gesukkel het om sy navorsing betyds af te handel volgens die befondsers se voorgeskrewe tydperke. Maar dit was ook die geleentheid van 'n leeftyd om saam met “ongelooflike en onvergeetlike navorsers" te werk en nuwe vriende in Stellenbosch te maak.

Hy het in 2008 'n HonsBSc-graad in biochemie verwerf en in 2011 'n MSc onder studieleiding van Prof Strauss. Maar dit het nóg vier jaar geneem voordat hy vir 'n PhD kon terugkeer: “In 2012 moes ek terugkeer Malawi toe aangesien die beurs vereis het dat ek vir twee tot drie jaar by die Kollege moes werk alvorens ek kon voortgaan met PhD-studies. Op die ou end het ek egter vier jaar in Malawi gewerk, aangesien daar 'n personeeltekort in my departement was."

Toe die situasie verbeter het, is hy toegelaat om in Julie 2015 vir 'n PhD in te skryf. Sonder genoegsame befondsing moes hy egter staatmaak op bykomende fondse van Prof Strauss se navorsingsgroep. In 2016 het hy uiteindelik 'n beurs vir drie jaar van die Malawiese Regering gekry.

Maar weer eens het die befondsing opgedroog voordat die laboratoriumwerk afgehandel en tesis geskryf was: “Dit was erg! Daar was tye wat ek gedink het ek gaan nooit my graad kry nie.  Maar wéér moet ek Prof Strauss bedank wat my deurentyd ondersteun het."

As dosent aan die Kollege van Geneeskunde, sê Dr Jana dat hy probeer om ten minste 30% van sy tyd aan navorsing te bestee, so tussen die klasgee en studieleiding van navorsingsprojekte deur. “Ek wil graag my eie navorsingsgroep by die Kollege tot stand bring wat saam met die US en ander instellings kan werk. My uiteindelike doelwit is om 'n professor in biochemie te word," sluit hy af.

Sy raad aan ander studente in 'n soortgelyke situasie is: “Jy moet besef dat die reis na jou uiteindelike doelwitbestemming nie sonder opdraandes gaan wees nie. Fokus, vasberadenheid, harde werk, uithouvermoë en kommunikasie is uiters belangrik. Uitdagings is deel van die lewe en nie noodwendig 'n beperking nie. Bly positief!"

Slegs vir medianavrae

Prof Erick Straus

Tel: +27 _21 808-5866/5861

E-pos: estrauss@sun.ac.za

 

Dr Collins Jana

Tel: +265-1-871911

Sel: +265-888851520

E-pos: cjana@medcol.mw

Op die foto bo: Prof Erick Strauss saam met Dr Collins Jana na afloop van die Desember 2019 gradeplegtigheid. Foto: Wiida Fourie-Basson