Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
900 TygerMaties kry grade by Desember-plegtigheid
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 10/12/2019

​Meer as 900 studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het graad gevang by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid.

Onder die FGGW se 908 graduandi is 418 pas gekwalifiseerde gesondheidsorg-beroepslui wat in 2020 die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel gaan betree. Op 10 Desember is die grade van 264 mediese dokters en 154 dieetkundiges, arbeidsterapeute, fisioterapeute en spraak-taal- en gehoorterapeute toegeken by die Coetzenburg-sentrum in Stellenbosch.

Met 41 mediese studente wat met lof slaag, het die klas van 2019 die meeste graduandi nog in die fakulteit se 64 bestaansjare wat die sesjaar-lange MB,ChB-graad cum laude voltooi.

“Elkeen van julle het plegtig beloof om ʼn professionele gesondheidswerker te wees wat mense respekteer, na jouself omsien en ander met waardigheid, integriteit en deernis hanteer," was die boodskap van die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink (in absentia) aan studente by die Toewyding Seremonie waar graduandi beloof om etiese praktyk te handhaaf deur die loop van hul loopbane as gesondheidsorg beroepslui.

“As jy hierdie belofte maak, verbind jy jouself tot jou beroep, jou pasiënte, en daaraan om die publiek te dien, ongeag van wie hulle is," het dr Matumo Ramafikeng gesê by die toewydingseremonie vir FGGW-studente wat hul Baccalaureus grade in Arbeidsterapie en Spraak-taal- en gehoorterapie, asook die Baccalaureus in Natuurwetenskappe in Fisioterapie en Dieetkunde onderskeidelik ontvang. Ramafikeng is ʼn senior lekor in Arbeidsterapie aan die Universiteit van Kaapstad en president van die Arbeidsterapie Afrika Streeksgroep.

Dr Garth Japhet, die gasspreker by die toewydingseremonie vir die MB,ChB-program, het ook die belangrikheid beklemtoon van die belofte wat graduandi maak. “Wat jou sal laat uitstyg as ʼn mediese dokter is die waardes van deernis, empatie, kreatiwiteit en integriteit. Daarom wil ek hê dat jy hierdie belofte baie ernstig opneem en dat jy die moed moet hê om die waardes uit te leef wat in hierdie belofte vervat is," het Japhet gesê. Hy is die hoof- uitvoerende beampte van Heartlines.

Onder die ander FGGW-graduandi is 74 Magister in die Geneeskunde-studente wat kwalifiseer as mediese spesialiste, 20 studente wat doktorsgrade (PhD) ontvang, 44 studente wat Magister-grade ontvang, 90 wat Honneursgrade ontvang, en 262 studente wat nagraadse diplomas ontvang. 


Foto-onderskrif 1: Dr Matumo Ramafikeng

Foto-onderskrif 2: Dr Garth Japhet​