Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekords spat by vandeesweek se US-gradeplegtighede
Outeur: Corporate Communication / Elsabe Barlow
Gepubliseer: 09/12/2019

​'n Rekord aantal van 5 853 studente van die Universiteit Stellenbosch (US) pluk van vandag tot Vrydag die vrugte van baie ure, dae, maande en jare se harde werk wanneer hulle hul kwalifikasies by die US se nege Desember-gradeplegtighede vir 2019 – wat self ook 'n rekord vir die Universiteit is – ontvang.

Die US se Desember-gradeplegtighede het vanoggend (Maandag, 9 Desember 2019) afgeskop toe 554 studente van die Fakulteit Ingenieurswese en 69 van die Fakulteit Teologie hul grade en nagraadse diplomas by die eerste gradeplegtigheid in die Coetzenburg-sentrum ontvang het.

Onder die Ingenieurs-graduati was 'n jong egpaar, Wouter en Louzanne Bam, wat albei hul doktorsgrade in Bedryfsingenieurswese ontvang het. Vir Wouter is daar dubbele rede om te glimlag – hy ontvang ook sy PhD in Ekonomie. Albei sy grade is gesamentlike grade wat in samewerking met die KU Leuven in België toegeken word. Die egpaar is onder die 30 doktorale studente van Ingenieurswese en sewe van Teologie wat hul doktorsgrade by vanoggend se gradeplegtigheid ontvang het.

Altesame 483 Baccalaureus- en 84 Meestersgrade en 19 nagraadse diplomas is ook vanoggend toegeken.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het in sy verwelkomingstoespraak by die geleentheid genoem dat 2019 'n mylpaal-jaar vir albei fakulteite was. “Teologiese opleiding het 160 gelede op Stellenbosch begin en Ingenieurswese het vanjaar hul 75ste bestaansjaar by die US gevier – en hulle het beslis met rasse skrede vooruitgegaan. Ons Fakulteit Teologie het vanjaar die eerste plek in Afrika op die QS-wêrelduniversiteitsranglys per vak behaal. En by die Ingenieursfakulteit is al ses hul programme deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) geakkrediteer," het De Villiers gesê.

Hy het gesê die Fakulteit Teologie lewer gegradueerdes wat 'n verskil in 'n wêreld gevul met ongelykheid, armoede, misdaad, geweld en korrupsie maak. “Die Fakulteit Teologie is een van ons mees diverse fakulteite en sy graduati styg gewoonlik uit om leierskapposisies in die samelewing in te neem om die dryfkrag agter maatskaplike verandering en ontwikkeling vir 'n beter land, vasteland en wêreld te word."  

Volgens De Villiers is ingenieurs die perfekte voorbeeld van sogenaamde “beroepslui wat openbaar voordelig is" – gegradueerdes wie se beroep 'n positiewe uitwerking op die samelewing het. “Ons weet ons staar as 'n land baie groot ontwikkelingsuitdagings in die gesig; daarom sal hierdie rol van die Fakulteit – om ingenieurs te lewer wat goed kan bou en dit kan laat werk, wat met innoverende oplossings vir ingewikkelde probleme vorendag kan kom – so belangrik bly," het De Villiers by die geleentheid gesê. ​

By vanaand se tweede gradeplegtigheid van die dag ontvang die eerste groep van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – die US se grootste fakulteit – hul grade. By hierdie plegtigheid sal altesame 798 grade toegeken word, wat 488 BCom- (insluitende BCom Regsgeleerdheid), 273 BCom Honneurs-, 32 MCom- en vyf doktorsgrade insluit.

Onder die BCom-graduandi is die eerste groep van 22 studente wat hul BCom (Internasionale Besigheid)-grade behaal. Hierdie vier jaar lange program, wat in 2016 ingestel is, was 'n eerste in Suid-Afrika en 'n baanbrekerskursus in sake-opleiding op voorgraadse vlak vir die land.

Die program vir die Desember-gradeplegtighede is soos volg:

  • Maandag, 9 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Teologie end Ingenieurswese
  • Maandag, 9 Desember 2019 (17:30): Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep A)
  • Dinsdag, 10 Desember 2019 (10:00): Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (Alle programme behalwe Nagraadse Diplomas)
  • Dinsdag, 10 Desember 2019 (17:30): Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep B)
    Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (slegs Nagraadse Diplomas)
  • Woensdag, 11 Desember 2019 (10:00): Fakulteit Natuurwetenskappe
  • Woensdag, 11 Desember 2019 (17:30): Fakulteite Opvoedkunde en Krygskunde
  • Donderdag, 12 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (Groep A), AgriWetenskappe en Regsgeleerdheid (met uitsondering van BA (Regsgeleerdheid), BCom (Regsgeleerdheid) en BRekLLB)
  • Donderdag, 12 Desember 2019 (17:30): Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep C)
  • Vrydag, 13 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (Groep B)

Regstreekse stroomuitsending: Al die gradeplegtighede kan regstreeks op die internet gevolg word by www.sun.ac.za/streaming.