Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Raamwerk deur PhD-gegradueerde help humanitêre organisasies met data oor vlugtelinge
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/12/2019

'n Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) het met 'n raamwerk vorendag gekom wat dit vir humanitêre organisasies makliker kan maak om noodsaaklike data – wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken – in te win oor gedwonge migrasie.

“Die dilemma met vlugtelingkrisisse soos dié wat ons in Sirië en Venezuela sien, is die ernstige tekort aan data. Selfs die rekords oor mense in vlugtelingkampe is nie altyd akkuraat nie. Baie vlugtelinge is boonop ongedokumenteer, terwyl ander kies om binne die grense van hulle eie land rond te beweeg en dus binnelands ontwortel is. Dít maak dit uiters moeilik vir humanitêre organisasies om die skaal en dinamiek van hierdie individue se bewegings te voorspel," sê dr Christa de Kock van die US se Departement Bedryfsingenieurswese. Sy het Maandag (9 Desember 2019) haar doktorsgraad in Bedryfsingenieurswese by die US se eerste Desember 2019-gradeplegtigheid ontvang.

Dr De Kock sê hoewel die internasionale gemeenskap nou meer bewus is van vlugtelingkrisisse, en veral van konflikgegronde gedwonge ontworteling, bly dit 'n uitdaging om die ware skaal en dinamiek van die kwessie akkuraat uit te beeld omdat nie alle beskikbare data geloofwaardig of volledig is nie.

Sy voeg by dat die vereiste data vir  langtermynontwikkelingsbeplanning in krisissituasies beduidende leemtes bevat.

“Baie dikwels fokus die navorsing nie op persone wat binnelands ontwortel is of op ongedokumenteerde migrante nie, wat bloot die leemtes in die beskikbare data vergroot. Die onbekende aantal gedwonge ontworteldes is 'n struikelblok vir humanitêre organisasies, veral in kritieke omstandighede."

Om hierdie uitdagings te help aanspreek, het dr De Kock met 'n generiese raamwerk vorendag gekom wat die werklike erns en omvang van die konflikomstandighede, die kenmerke van die betrokke bevolking en veral ook die onderliggende besluitnemingsproses van die gedwonge ontworteldes op grond van hulle persoonlike eienskappe kan help modelleer.

Die raamwerk is in die vorm van 'n gerekenariseerde demonstrasiemodel in werking gestel wat ontwerp is om die bewegings van gedwonge ontwortelde Siriërs, asook die instroming van vlugtelinge en ongedokumenteerde migrante in lande wat aan Sirië grens, na te spoor.

Dr De Kock sê die raamwerk kan in gevalle van konflikgegronde gedwonge migrasie gebruik word om 'n simulasiemodel van die spesifieke bestudeerde groep te ontwikkel. Dít sal gebruikers nie net die oorsake van sulke migrasies help verstaan nie, maar ook die gedrag en optrede van binnelandse ontworteldes, vlugtelinge en ongedokumenteerde migrante wanneer hulle voor konflik te staan kom. Sodoende kan dit die modellering van die besluitneming en bewegings van hierdie gedwonge ontworteldes fasiliteer, voeg sy by.

“Dit kan ook gebruik word om die aantal gedwonge ontworteldes, vlugtelinge, ongedokumenteerde migrante en binnelandse ontworteldes te skat, om skommelinge in die bevolkings van krisisgeteisterde lande te voorspel, en om die resultate van die simulasiemodel gebruikervriendelik aan te bied."

Op die vraag oor die waarde van haar navorsing, sê dr De Kock “die vermoë om die beweging van gedwonge ontworteldes met redelike akkuraatheid te voorspel, is uiters noodsaaklik om noodlenigingsorganisasies met die fasilitering van logistieke beplanning en hulpbronverkryging te help wat daarop gemik is om diegene wat van geweld en vervolging wegvlug, te ondersteun."

Daarbenewens, sê dr De Kock, kan die raamwerk in enige konflikomstandighede waar gedwonge migrasie plaasvind, toegepas word. “Owerhede kan dit gebruik om ondersoek in te stel na die konflikomstandighede wat veroorsaak dat vlugtelinge na 'n bepaalde land stroom."

Sy sê haar navorsing en die implementering van die voorgestelde raamwerk sal hopelik humanitêre organisasies en beleidvormers met hul strategiese beplanning kan help. Dit sal uiteindelik hopelik help sorg dat gedwonge ontworteldes die bystand kry wat hulle nodig het, voeg dr De Kock by.

​Foto: Dr Christa de Kock na afloop van die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Christa de Kock

Departement Bedryfsingenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4231

E-pos: christadk@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za