Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-graduandi goed toegerus vir die toekoms
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 06/12/2019

Desember is 'n opwindende tyd by die Universiteit Stellenbosch (US): Dit is die maand van die gradeplegtighede. Te midde van hierdie opwinding moet graduandi ook belangrike besluite oor hul toekoms neem: Gaan hulle verder studeer? Gaan hulle tot die werksmark toetree? Gaan hulle hul eie ondernemings begin? Gaan hulle reis en die wêreld verken? 'n Hele paar mag dalk ook bekommerd wees oor hul toekoms: Gaan hulle werk kry? Het hul studies hulle goed genoeg vir die werkplek voorberei? Is hulle kwalifikasie relevant vir die werk wat hulle gekry het?  

Die US het in 2017 sy graduandi-bestemmingsopname (GBO) bekend gestel om aan die Universiteit meer insig oor sy graduandi te gee en om op 'n breë en institusionele vlak antwoorde op hierdie en ander vrae te probeer vind. Die opname het ook ten doel om aan die instelling inligting te verskaf oor moontlike intervensies om graduandi beter op die werkplek voor te berei, veral deur hulle met die regte mengsel van vaardighede vir indiensneembaarheid toe te rus.

Die opname is oor die afgelope paar jaar verfyn en word jaarliks gedurende die Desember- en Maart/April-gradeplegtighede onderneem. Nagenoeg 9 000 studente gradueer jaarliks aan die US en hulle word almal uitgenooi om aan die GBO deel te neem.

Altesame 2 253 van 2018 se graduandi het die opname voltooi. Van die interessante bevindinge wat na vore gekom het, is:

  • 37% van die graduandi was reeds seker van 'n werk toe hulle gegradueer het en sal die werksmark betree;
  • 38% van die graduandi beplan om verder te studeer;
  • 3% van die graduandi het reeds hul eie ondernemings begin of gaan hul eie ondernemings begin; en
  • 2% van die oorblywende 22% beplan om te reis, 16% sal werk soek en 4% was nog onseker oor hul toekomsplanne.

Selfs teen die tyd dat hulle gegradueer het, en dus baie kort nadat hulle gehoor het dat hulle hul studies suksesvol voltooi het, was die meerderheid van die US se graduandi seker dat hulle goed toegerus is vir die toekoms.

Volgens Marquard Timmey van die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste by die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling, moet “data van die GBO konstruktiewe rigting aan intervensies deur fakulteits- en ondersteuningsdienste gee, veral met betrekking tot die ko-kurrikulêre aanbieding en hoe dit kan help om US-graduandi met nuttige vaardighede vir indiensneembaarheid toe te rus. Die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste is bewus van die feit dat graduandi-bestemmingsinligting toenemend as 'n katalisator vir universiteitswye besprekings gebruik word oor hoe alle interne en eksterne belanghebbers aktief kan bydra ter ondersteuning van die loopbaangereedheid van US-graduandi."

Van die interessante bevindinge van die GBO verskaf waardevolle bykomende insigte:

  • Sowat 75% van die studente het reeds werksondervinding teen die tyd dat hulle afstudeer.
  • Nagenoeg 81% van die studente wat verder gaan studeer, sal dit by die US doen.
  • Sowat 52% van die studente wat direk na graduering gaan begin werk, sal in die private sektor werk, terwyl 25% by regeringsdepartemente gaan werk en 11% het werk gekry in die regeringsonderwyssektor.
  • Die meeste graduandi het deur netwerke van vriende, familie of kennisse werk gekry – met die internet en elektroniese media net 'n kortkop agter.
  • Nagenoeg 85% van graduandi sal in Suid-Afrika werk, 10% elders in Afrika en 5% gaan oorsee werk.
  • Laastens het agt uit elke 10 studente wat reeds teen graduering 'n werk gekry het, aangedui dat hul toekomstige werk beslis nou inskakel by hul kwalifikasie.

Die graduandi van 2019 voltooi tans die opname. Die uitslae sal verwerk en bekendgemaak word nadat die res van die klas van 2019 in Maart/April 2020 gegradueer het. Volgens Timmey word opvolgstudies ook vir die toekoms beplan om te bepaal hoe gesog US-graduandi regtig in die werksmark is.

Vir meer inligting oor die graduandi-bestemmingsopname, stuur 'n e-pos na careerservices@sun.ac.za.

Graduandi in Desember kan hier die nuutste opname doenhttp://bit.ly/355LOf4