Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe opdrag vir Institusionele Transformasiekomitee
Outeur: Office of the Vice-Rector: Social Impact, Transformation & Personnel
Gepubliseer: 05/12/2019

Die Rektoraat het onlangs 'n nuwe opdrag vir die US se Institusionele Transformasiekomitee (ITK) goedgekeur. Die ITK bevorder Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, die US se Transformasieplan sowel as die implementering van die transformasievereistes wat in fakulteite en verantwoordelikheidsentrums se omgewingsplanne verwoord word.

Die ITK staan die transformasiekomitees van die verskillende fakulteite en verantwoordelikheidsentrums (VS'e) by om die Transformasieplan te benut as 'n instrument om transformasieprosesse by die Universiteit te beplan, te rig, te koördineer en te bevorder. Daarbenewens moniteer en doen dit (intern) verslag oor vordering met transformasiemikpunte. Die ITK dien ook as 'n adviesliggaam vir die Rektoraat, die Transformasieportefeulje, die Institusionele Forum (IF), die Aanstellingskomitee van die Senaat, fakulteite, VS'e en ander omgewings.

Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van elk van die fakulteite en VS'e, die Studenteraad (SR), die Institusionele Transformasiekomitee vir Studente sowel as die IF. Ex officio-lede van die ITK is:

  • die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel (as voorsitter);
  • die senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie;
  • die direkteur/hoof van die Transformasiekantoor;
  • die direkteur van Diensbillikheid; en
  • die direkteur/hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid.

Enige vakatures in die komitee word deur die onderskeie omgewings gevul. Ander lede van die Rektoraat, dekane en ander senior bestuurders sowel as ander verteenwoordigende liggame kan na gelang van behoefte na ITK-vergaderings genooi word.

Die ITK kry sy opdrag van die Rektoraat en doen ten minste twee keer per jaar aan die Rektoraat verslag. Die komitee kan ook spesiale verslae indien oor spesifieke belangrike kwessies wat die Rektoraat moet bespreek. ITK-lede voorsien tersaaklike inligting aan fakulteits- en VS-transformasiekomitees, en omgekeerd.