Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Graad 7-leerder wen nuwe hoërskooluniform in afvalherwinningsuitdaging
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 03/12/2019

​'n Graad 7-leerder van Kayamandi Primêr het vir hom 'n splinternuwe hoërskooluniform van De Jagers in Stellenbosch losgeslaan as wenner van 'n afvalherwinningsuitdaging in Enkanini.

Liyahluma Peteni (15) is een van 11 leerders wat aan die uitdaging deelgeneem het wat deel uitmaak van 'n omgewingsopvoedingsprojek, genaamd Iqhawe Yemvelo (Natuurheld). Hierdie projek bemagtig leerders van informele nedersettings om uitdagings wat te make het met water en afval in hull onmiddellike omgewings, te hanteer. Dit is die opvoedkundige arm van die Amanzi Yimpilo (Water is Gesondheid) projek, 'n gesamentlike poging tussen die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI) wat daarop gemik is om munisipale water-, afval- en sanitasiedienste in Enkanini te verbeter.

Dr Leanne Seeliger, senior navorser by SUWI en projekleier, sê hulle wil graag hê dat 'n uniform-in-ruil-vir-herwinbare-afval-inisiatief, 'n program sal word wat deur individuele skole in Kayamandi aangeneem word: “Ons wil potensiële borge aanmoedig om aan boord te kom sodat herwinbare afval 'n kommoditeit kan word wat gesinne kan gebruik om skooluniforms mee te koop. Dit sal nie slegs die ouers help nie, maar ook bydra tot skoner strate en riviere in die gebied."

Afhangend van hoeveel herwinbare afval hulle bymekaargemaak het, het die ander leerders items soos skoolskoene, skoolhemde of -broeke ontvang, wat ook deur De Jagers geborg is.

Mnr Devon Strauss, bestuurder van De Jagers se Stellenbosch-tak, sê hulle is bly dat hulle 'n verdienstelike inisiatief op so 'n wyse 'n hupstoot kon gee: "Liyahluma Peteni en sy vriende het 'n onmiddellike impak op hul omgewing en gemeenskap gehad, en kan baie trots wees op hulself. Dit is vir ons 'n voorreg om op hierdie manier 'n bydra te maak om die projek te ondersteun." 

Die jong leerder se ma, me Ntombesizwe Peteni, sê sy is baie trots op haar seun, want hy het selfs rommel by die rivier en in die bosse bymekaar gemaak om te verseker dat hy meer as die ander kon inhandig.

Mnr Saliem Haider, bestuurder van die afdeling vir vaste afval van die Stellenbosch Munisipaliteit, het die leerders gelukgewens en De Jagers bedank vir hulle ruim bydrae.

Mnr Lwando Bottomane, 'n afvalentrepreneur van Kayamandi en lid van die Amanzi Yimpilo- span, sê méér afval kan herwin word indien hulle toegang tot gepaste houers by die plaaslike skole sou kon hê.

Vir meer inligting, of indien jy betrokke wil raak by die afvalherwinningsinisiatief, kontak mnr Bottomane by 060 407 9676 of lbhobhoyi@gmail.com

Op die foto: Liyahluma Peteni (15), 'n graad 7-leerder van Kayamandi Primêr het hierdie week sy hoërskooluniform van De Jagers in Stellenbosch ontvang, nadat hy die wenner was van die afvalherwinningsuitdaging in Enkanini. Op die foto van links na regs is: me Ntombesizwe Peteni en haar seun, Liyahluma Peteni, saam met dr Leanne Seeliger (SUWI). Agter is mnr Lwando Bottomane en me Nasiphi Mgqwetno (Amanzi Yimpile), mnr Saliem Haider (Stellenbosch Munisipaliteit) en mnr Divan Strauss (De Jagers). Foto: Wiida Basson​