Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verklaar 2020 as Jaar vir Persone met Gestremdheid
Outeur: Corporate Communication Division/Sandra Mulder
Gepubliseer: 03/12/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het verklaar dat 2020 die jaar sal wees waarin transformasie aangevoor sal word met 'n spesifieke fokus op die insluiting van gestremdheid.

Ter viering van die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede, het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, vandag (3 Desember 2019) bekendgemaak dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die US se aspirasies sluit aan by die internasionale dag se tema van “volle deelname en gelykheid". Prof De Villiers het ook belowe om, waar moontlik, persoonlik by sommige van die voorgestelde aktiwiteite vir 2020 betrokke te wees.

Die US se verklaring is 'n uitvloeisel van die US se verbintenis tot inklusiwiteit en gelykheid vir elkeen met akademiese meriete om ten volle op gelyke vlak aan die akademiese reis by die Universiteit deel te neem. Die Universiteit en sy departemente, afdelings en eenhede sal reg deur die jaar by seminare, referate, algemene inligting en aanbiedings betrokke wees. By hierdie aktiwiteite sal suksesse beklemtoon word, terwyl daar ook op die werk wat nog gedoen moet word om volle deelname en gelykheid te bereik, gefokus sal word.

Die hoogtepunt van die Jaar van Persone met Gestremdheid sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word.  

AfriNEAD, 'n streeksbewysgebaseerde navorsingsnetwerk vir verskeie gestremdheidskampvegters, plaaslike en internasionale akademici en navorsers, gesondheidsorgverskaffers en verteenwoordigers van verskeie regeringsdepartemente, is in 2007 in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies (SGRS) op die been gebring. AfriNEAD verbind akademici in gestremdheid-studies oor Afrika en werk ook met hul eweknieë in ekonomies ontwikkelde lande soos Noorweë, die Britse Koninkryk en Kanada.

Die onderwerp van die 2020 AfriNEAD-konferensie is “Disability unplugged – Beyond Conventions and Charters: What really matters to persons with disabilities in Africa". Dit bied aan die Universiteit 'n platform om 'n institusionele verbintenis en 'n aspirasie aan te bied om die debat oor 'n inklusiewe universiteitsgemeenskap te bevorder. “Dit is met hierdie onderneming dat die Universiteit Stellenbosch 2020 as 'n jaar van gestremdheid hier by die US verklaar, namate ons ons verbintenis tot inklusiwiteit van gestremdheid op ons kampusse verder voer en inklusiwiteit bevorder," sê Mji.

"Terselfdertyd is die volgehoue werk van die US se Eenheid vir Gestremdhede om nie net toeganklikheid tot fisieke ruimtes en inligting te verbreed nie, maar ook om mense meer bewus van die regte van mense gestremdhede te maak, 'n onvoltooide werk wat voortgaan," sê dr Marcia Lyner-Cleophas, hoof van die Eenheid vir Gestremdhede.

Volgens Lyner-Cleophas leer die Universiteit steeds elke dag meer oor die behoeftes van mense met gestremdhede. Die eerste studente met gestremdhede het reeds voor die sewentigerjare by die Universiteit ingeskryf.

Vandag het die Universiteit 'n goedgekeurde Beleid oor Gestremdheidstoegang (2018) wat van toepassing is op alle mense op kampus, insluitende besoekers. “Met die Beleid op Gestremdheidstoegang wil ons verseker dat ons alle aspekte van mense se funksionering in elke liewe departement op kampus dek, sodat ons planne kan implementeer om gestremdheid op 'n holistiese en ware inklusiewe aan te spreek," sê sy.

Onder die algemene studentebevolking op kampus, het die aantal geestesgesondheidstoestande wat bekendgemaak is, van 53 in 2018 tot 73 in 2019 gestyg het. Oor die algemeen is die aantal studente wat hul gestremdhede bekendmaak en ondersteuning vra, vinnig aan die toeneem, sê Lyner-Cleophas. Hierdie syfers dui egter nie op die werklike aantal studente wat ondersteuning vir psigies-sosiale probleme vra nie.

“Statistieke toon dat al hoe meer studente gemaklik voel om openlik oor hul behoefte aan ondersteuning vir geestesgesondheidstoestande te praat. Die realiteit is ook dat die meeste gestremdhede nie sigbaar is nie, soos byvoorbeeld studente met leergestremdhede, geestesgesondheidsprobleme en ander siektetoestande.

“Hoewel die Eenheid vir Gestremdhede reeds ver gevorder het om die uitdagings aan te spreek om die kampus meer toeganklik te maak, is daar nog baie werk wat gedoen moet word," sê Lyner-Cleophas.

“Om bewustheid te skep en verbondenheid aan universele toegang, universele ontwerp asook universele ontwerp vir leer moet op alle vlakke deel word van die maatskaplike samestelling van die Universiteit deur die bevordering van 'n kultuur van etiese gedrag, respek en die omarming van diversiteit. Hierdie kultuur moet intern begin met die akademiese instelling wat as rolmodel optree vir inklusiwiteit, demokrasie, gelyke regte en universiteitsburgerskap vir alle mense, insluitende persone met gestremdhede," meen Mji.

“Daar is departemente, sentrums en spesiale eenhede binne ons Universiteit wat die US gehelp het om sy reaksie op die insluiting van studente en personeel met gestremdhede te verbeter. Ná 'n maratonsessie van 11 jaar om streekskonferensies aan te bied, kom AfriNEAD terug huis toe na die US. AfriNEAD is ook 'n navorsingsnetwerk wat die debat oor die verwesenliking van die regte van persone met gestremdhede in Afrika bevorder," sê Mji.

Die US se Beleid oor Gestremdheidstoegang, wat reeds in April 2018 in werking getree het, help ook om rigting te gee oor die internasionale neiging om universele toegang regoor alle hoëronderwysinstellings te verhoog, sê Lyner-Cleophas.

Afgesien van die US se beleid, verskaf ander strukture soos die Verenigde Nasies (VN) se Handves oor die Regte van Persone met Gestremdhede (2007), die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte op die Regte van Persone met Gestremdhede in Afrika en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 ook die stukrag om 'n voorspoedige en beter lewe vir almal in die vooruitsig te stel en te verwesenlik. Daar word sterk klem gelê op gestremdheid-inklusiewe omgewings in alle aspekte van die lewe, insluitende fisieke insluiting in alle ruimtes, deelname aan onderrig, sake wat met gesondheid verband hou en die ekonomie.

Volgens Lyner-Cleophas, staar die Eenheid vir Gestremdhede steeds nuwe uitdagings oor die insluiting van studente en personeel met gestremdhede in die gesig. Toegang tot geboue, plekke op kampus en akademiese en algemene inligting oor die kampus in elektroniese formaat en Braille- of skermlesers is alles op hul lysie om te doen. In werklikheid moet dit op elkeen op kampus se lysie wees om te doen. Inklusiwiteit gaan oor elkeen, nie net die Eenheid vir Gestremdhede nie, sê Lyner-Cleophas.

Elke jaar registreer meer en meer studente met gestremdhede by die US. Die Eenheid verskaf ondersteuningsdienste wat spesifiek op die individuele behoeftes van elke student gemik is. Lyner-Cleophas sê dit is belangrik dat hulle oor studente se unieke, spesifieke omstandighede ingelig word ten einde doelmatig te kan optree.

Die eerste plek vir die bekendmaking van 'n gestremdheid is wanneer die persoon by die Universiteit aansoek doen. Dit beteken dat die registrasie van gestremdhede nie direk deur die Eenheid gedoen word nie. Gestremde studente registreer soos alle ander studente by die US, waarna hulle kan besluit of hulle verdere ondersteuning benodig en of hulle verder saam met ons in 'n vennootskap 'n pad wil stap om hul studies suksesvol te voltooi.

“Ons dwing nie studente om hul gestremdheid bekend te maak nie en die onus rus dus op die studente om met die Eenheid te skakel. Ons speel egter 'n integrale rol om gepaste ondersteuning te bied soos dit deur spesifieke studente met gestremdhede benodig word wat direk by ons kom aanklop, of deur universiteitsdepartemente of die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling verwys word, sê Lyner-Clephas.

​Van die sowat 32 000 US-studente is daar 423 studente met gestremdhede wat hul gestremdhede by aansoek tot die Universiteit bekendgemaak het. Wanneer hierdie bekendgemaakte gestremdhedevanaf die toelatingskantoor  ontleed word, is 1,32 % van die studentetal studente met bekendgemaakte gestremdhede. Wanneer na  die totale aantal studente wat aanklop vir ondersteuning, kyk word, ontvang 2,66% ondersteuning (852 van die nagenoeg 32 000 studente). Hierdie syfers is laag in vergeleke met internasionale syfers, wat daarop dui dat sowat 10–15% en meer mense gestremdhede het, veral in gebiede met lae tot gemengde hulpbronne en toegang.. Die US is oorgehaal om hoër insluiting en deelname van studente en personeel aan die US te bevorder.