Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ekonomie-professor stel koderingsplatform vir skole bekend
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 28/11/2019

'n Prettige rekenaarprogrammeringsplatform wat deur prof Rachel Jafta van die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontwikkel is, is Maandag (25 November 2019) in die Media24-sentrum in Kaapstad bekendgestel.

Dié platform, WeCode24, word aangebied in samewerking met Naspers (befondser), Media24 (mediavennoot en digitale internskappe) en die US Departement Ekonomie.

WeCode24 is in wese daarop gemik om hoërskoolleerders van graad 8 tot 11 te help om programmeringsvaardighede te ontwikkel om in die tegnologiese era te presteer.

Dié platform is die eerste keer in 2017 by vier histories benadeelde skole in die Wes-Kaap bekend gestel. Dit fokus op teksgebaseerde programmering en gebruik Python as programmeertaal. Dit bevat ook 'n tekenfunksie genaamd Turtle Graphics.

Dié diverse en kragtige platform stel gebruikers in staat om waarde tot byna alle lewensterreine toe te voeg. Volgens die WeCode24-webwerf kan dié platform 'n mens help om kuns of speletjies te skep, slim huise te bou wat na sy inwoners omsien, robotte te ontwerp wat jy met jou gedagtes kan beheer en om virtuele wêrelde te skep om te verken.

Jafta, wat ook as direkteur van Naspers en voorsitter van die Media24-direksie dien, het in haar verwelkomingsrede gesê dat tegnologie groot geleenthede vir jongmense bied.

“Een van Suid-Afrika se grootste bates is die aantal jongmense. Ons het meer as 20 miljoen mense jonger as 34 jaar. Dink net wat ons kan bereik as ons al daardie potensiaal kan ontsluit."

Sy het bygevoeg dat haar vakgebied, Ekonomie vir Tegnologiese Verandering, dit vir haar makliker maak om geleenthede vir jongmense, asook gebiede waar 'n mens 'n verskil kan maak, raak te sien.

“Werksgeleenthede wat met nuwe tegnologieë gepaard gaan, groei hand oor hand; daarom moet ons jongmense die kans gee om vir daardie poste voor te berei aangesien ouer, meer tradisionele werksgeleenthede aan die uitsterf is. Rekenaarstudie aan 'n universiteit is ook nie altyd vir almal beskore nie en hierdie inisiatief bied dus 'n alternatiewe manier om wel vir daardie werksgeleenthede in aanmerking te kom," het sy gesê.

Jafta sê dié program sal aanvanklik na daardie skole met 'n gebrek aan hulpbronne in die Kaapse Metropool en Boland uitgebrei word, en hulle word aangemoedig om aansoek te doen om vir die program in te skryf. Suksesvolle skole sal teen middel Januarie 2020 aangewys word. Deelname is gratis.

Die doel is om teen 2020 meer as 500 Wes-Kaapse leerders by die program betrokke te kry.

“Benewens kodering sal leerders ook advies en hulp kry met hul selfbeeld, toekomstige loopbaanplanne, studiegewoontes en ander behoeftes wat ons by die kinders bespeur," het Jafta gesê.

​Om in aanmerking te kom vir dié jaar lange program, sal kinders beoordeel word "volgens hul begeerte om hulself tot die program te verbind en nie noodwendig op grond van hul wiskundevaardighede nie".

Sy sê hulle is bereid om met ander vennote saam te werk om sodoende dié platform ook aan jongmense in ander streke bekend te stel.

​“Ons het die program ontwerp om skaalbaar te wees. So as iemand met soortgelyke inisiatiewe graag by ons platform wil aansluit, maar dit in 'n ander provinsie wil bestuur, sal dit ons help om vinniger te skaal," het sy gesê.Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, het gesê die projek sluit aan by die groep se sosiale impakinisiatief, Naspers Labs, wat daarop gemik is om werkloosheid onder die jeug te bestry deur hulle vir toekomstige werksgeleenthede op te lei.

Tot dusver het meer as 1 500 jeugdiges die Naspers Lab-program voltooi, en het 79% van die afgestudeerdes reeds hul eerste pos losgeslaan.

  • Skole in voorheen benadeelde gebiede in die Kaapse Metropool en die Boland wat belangstel om by die program aan te sluit, kan teen 15 Januarie 2020 'n e-pos aan info@wecode24.com stuur. Die naam en kontakbesonderhede van die skool moet ingesluit word, asook 'n kort oorsig waarin die skool motiveer wat dit vir die leerders sal beteken om aan hierdie program deel te neem.
  • Foto van prof Rachel Jafta en een van die leerders wat aan die bekendstelling van WeCode24 deelgeneem het, deur Daniel Bugan.