Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SPL-direkteur stel diens aan ander eerste
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/11/2019

​Wat jou bybly wanneer jy met die nuutaangestelde direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap (SPL), prof Zwelinzima Ndevu, gesels, is sy nederigheid. Dit is daar wanneer hy sy kollegas, verlede, prestasies en toekomsplanne vir dié afdeling van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) bespreek.

Dit is waarskynlik dieselfde nederigheid wat sy kollegas beïnvloed en gemotiveer het om vir hom as nuwe SPL-direkteur te stem. Dis 'n pos wat hy vanaf 1 Januarie 2020 sal beklee.

“Ek het nie verwag dat hulle my sou nomineer en vir my stem nie," sê hy beskeie. “Maar ek was so ontroer deur hul vertroue in my dat ek nie nee kon sê nie. Ek hoop ek slaag daarin om hulle trots op my te maak."

Ndevu, 'n medeprofessor en die hoof van die SPL-honneursprogram op die Bellvilleparkkampus, sê hy is dankbaar vir die geleentheid.

“Ek wil veral die huidige direkteur, prof Johan Burger, en die vorige direkteur, prof Kobus Muller, wat my aanvanklik aangestel het, bedank. Hulle het my gementor en my die geleenthede gegee om te floreer in wat ek regtig geniet om te doen, naamlik navorsing. Daaroor is ek ewig dankbaar."

Hy het ook die dekaan van EBW, prof Ingrid Woolard, en die vise-dekaan: Sosiale Impak en Transformasie, prof Pregala Pillay, bedank.

“My aanstelling wys dat die Universiteit Stellenbosch ernstig is oor diversiteit en billike indiensneming en ek waardeer dit opreg," sê hy.

Dis alles goed en wel, maar hierdie aanstelling moet sekerlik 'n reuse-pluimpie wees vir dié voormalige inwoner van Ugie, 'n plattelandse nedersettting in die Oos-Kaap?

Maar hy sê net: “Hierdie posisie maak dit vir my moontlik om ander te dien, om met nuwe idees vorendag te kom, om voort te gaan met die goeie grondslag wat my voorgangers gelê het. My hooffokus is die welstand van personeellede, veral administratiewe personeellede. Wat ons suksesvol maak, is die kwaliteit van ons personeel en hul toewyding en passie vir hul werk. Ek wil verseker dat ons personeellede gelukkig is, want as jy gelukkig is, is jy produktief.

“Ek is ook van plan om ons navorsingsuitsette te verhoog en om meer personeellede betrokke te kry by navorsingsaktiwiteite. Dit sal kontinuïteit en volhoubaarheid vir alle betrokkenes bevorder."

Ndevu, wat sy loopbaan in 2009 by SPL in Bellville afgeskop het, sê hy beoog om sy rol as direkteur te desentraliseer. 'n US-alumnus wat sy PhD in Publieke Bestuur in 2015 voltooi het

“Ek wil almal betrokke kry en verantwoordelikheid delegeer. Die doel is om kampusbestuurders by die drie SPL-kampusse te Stellenbosch, Bellville en Lynedoch aan te stel. Hulle sal direk aan my rapporteer."

Hy sê een van die grootste uitdagings wat die skool in die gesig staar, is die gebrek aan opvolgbeplanning, mentorskap en lewensafrigting.

“Ons ervare akademici tree af en hul intellektuele eiendom word nie aan die volgende generasie oorgedra nie. As ons niks hieromtrent doen nie, sal die skool vorentoe probleme ondervind as gevolg van die verlies aan institusionele intelligensie. Die navorsing sal ook nie op die gewenste vlak wees nie," sê Ndevu.

Dié getroude pa van twee seuns wat sy gesin as “'n groot bron van sterkte en ondersteuning" bestempel, staan by die leuse dat harde werk die moeite werd is.

“My ouers was nie opgeleide mense nie, maar hulle het ons altyd daaraan herinner dat harde werk die sleutel tot 'n beter toekoms is. Niks is verniet nie. Jy maai wat jy saai."

Hy sê hy put inspirasie uit die ontslape US-rektor en visekanselier, prof Russel Botman, se Bybelse filosofie: “Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen".

Dit is duidelik dat Ndevu dié filosofie ter harte geneem het.

  • ​Foto van prof ​Zwelinzima Ndevu​ deur Anton Jordaan.