Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konvokasie: US floreer deur inklusiwiteit en meertaligheid
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 15/11/2019

​“Ons gegradueerdes is goed gekwalifiseerd en internasionaal in aanvraag, ons navorsing is innoverend en relevant en ons impak op die samelewing is omvangryk. Dit alles doen ons deur inklusief uit te reik en nie net na binne te kyk nie," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), tydens die jaarvergadering van die Konvokasie op Donderdag 14 November 2019 gesê.

Die vergadering het in die Adam Small-teaterkompleks plaasgevind en is bygewoon deur 253 lede van die Konvokasie, bestaande uit alumni en akademiese personeellede van die Universiteit. Dr Leslie van Rooi is tydens die vergadering met 'n oorweldigende meerderheid verkies tot vise-president van die Konvokasie. Hy is Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit, en inwonende hoof van Simonsberg-koshuis. Esterbeth Singels is verkies as 'n addisionele lid, in die plek van Michael Jonas.​

De Villiers het enkele van die suksesse van die US uitgelig:

  • Meer as 9 000 grade, diplomas en sertifikate, insluitend 308 doktorsgrade, 'n nuwe rekord, is die afgelope akademiese jaar (2018) toegeken;
  • Digby 43% van die Universiteit se 32 000 studente kom nou uit die bruin, swart, Indiër of Asiër bevolkingsgroepe, en sy studentesukseskoers is bo 85% – een van die hoogstes in die land;
  • Die US is die enigste universiteit in Afrika wat genooi is om aan te sluit by die gesogte Global Alliance of Universities on Climate. Die ander lede sluit in die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; die Universiteit van Cambridge; Imperial College Londen; die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap; Massachusetts Instituut vir Tegnologie en Tsinghua-Universiteit in China; en
  • Die bekendstelling van die nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, 'n wêreldgehalte inisiatief wat regoor al tien van die US se fakulteite werksaam sal wees met interdissiplinêre samewerking. 'n Nuwe kursus in data-ingenieurswese, en nuwe interdissiplinêre studie-opsies is beskikbaar in vakgebiede soos bioinformatika en berekeningsbiologie.

De Villiers het die Universiteit se voortgesette verbintenis tot meertaligheid benadruk, nadat die Konstitusionele Hof verlede maand eenparig Gelyke Kanse se aansoek teen die US se 2016-Taalbeleid verwerp het. Die uitspraak het dit duidelik gemaak dat die Taalbeleid grondwetlik geregverdig is en dat die proses wat die Universiteit gevolg het om dit te aanvaar, deeglik, omvattend en inklusief was, en dat daar behoorlike oorlegpleging plaasgevind het.

“Ons bly verbind tot die gebruik van Afrikaans – tesame met Engels – as onderrigtale teen die agtergrond van inklusiwiteit en meertaligheid," het hy bygevoeg.

“Soos u weet, is ʼn afgetrede regter aangestel om ʼn klagte teen my te ondersoek dat ek by die taalhofsaak probeer inmeng het. Ek verwelkom die ondersoek en sien uit na die verslag wat aan die Raad gelewer sal word. Die Universiteit sal dán verder oor die saak kommunikeer," het De Villiers gesê.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, was die gasspreker. Hy het oor die huidige stand van Suid-Afrika (2019) gepraat en hoe ons kan verseker dat dit teen 2029 verbeter.

Hy het aangevoer dat die toekoms vir Suid-Afrikaners baie onseker is, met Eskom se onvermoë om elektrisiteit te verskaf, die regering se gebrek aan aksie, toenemende werkloosheid en die swak toestand van die ekonomie wat veral kommerwekkend is.

Pelser waarsku dat as die huidige stand van sake voortduur, “sal die ekonomie nie sy volle potensiaal bereik nie, werkloosheid sal toeneem, populisme sal floreer en dienslewering sal verder verswak".

Hy meen egter daar is hoop en gee drie redes daarvoor:

“Krisisse stel soms nuwe energie vry, wakker teenstand aan en dit stimuleer innovasie op gebiede waar ons wel ʼn toekoms het. Tweedens, al duur staatsverval voort, leef baie Suid-Afrikaners steeds baie goeie lewens. En laastens, die toekoms is baie moeilik om te voorspel, baie dinge kan nog gebeur, en dit is goeie nuus."

Hy het afgesluit deur te sê dat die toekoms van Suid-Afrika in 2029 afhang van diegene wat geleenthede kan benut wat ander nie sien nie.

Advokaat Jan Heunis, President van die Konvokasie, het sy toespraak gebruik om die Universiteit en die Konstitusionele Hof oor die Taalbeleid-saak te kritiseer. Hy was deel van die Gelyke Kanse-aansoek, wat deur die hof van die hand gewys is.

Hy het bewerings herhaal dat die rektor in die saak ingemeng het deur regter Edwin Cameron te nader om vir die posisie van Kanselier te staan. Heunis het ook gedreig om te bedank as die Rektor en Voorsitter van die Raad nie bedank nie, en as die Kanselier ingehuldig word.

  • Klik hier vir toegang tot die Rektor se toespraak