Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale studieleiers van Afrika-universiteite deel waardevolle idees op Stellenbosch byeen
Outeur: CREST/Prof Jan Botha
Gepubliseer: 13/11/2019

Verskeie aspekte van doktorale studieleiding binne die Afrika-konteks het onder die loep gekom toe 'n uitgesoekte groep van 18 promotors van doktorale kandidate afkomstig uit 13 Afrikalande onlangs op Stellenbosch bymekaar gekom het.

Die doktorale studieleiers het van 5–8 November 2019 aan die DIES/SENWET Alumni-netwerkvergadering by die Universiteit Stellenbosch (US) deelgeneem. Hierdie inisiatief staan onder leiding van prof Jan Botha van die US se Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET).

Die deelnemers is uit 155 (meestal nuwe) promotors verbonde aan Afrika-universiteite wat die DIES/SENTWET kursus vir doktorale promotors aan Afrika-universiteite aanlyn suksesvol voltooi het, gekies. SENWET, gesetel binne die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, bied sedert 2018 die kursus aan. Die Sentrum vir Hoëronderwysnavorsing en Onderrig en Leer (of te wel CHERTL) by die Rhodes-universiteit en die Sentrum vir Hoër en Volwasse Onderwys (SHVO), geleë binne die US se Fakulteit Opvoedkunde. Die kursus maak deel uit van die Dialogue for Innovative Higher Education Strategies-program (DIES) van die Duitse Konferensie van Rektore en die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD), wat deur die Duitse Federale Ministerie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling befonds word.

Volgens prof Sahaya G Selvam van die Tangaza-universiteitskollege in Kenia, was die seminaar inderdaad 'n hoogtepunt, met uitnemende, kundige mense en vooraanstaande navorsers uit Afrika wat daar teenwoordig was. “Ek het die geleentheid gekry om idees met die ander navorsers en promotors te deel en uit te ruil. Die groepbesprekings het my laat besef dat my projek nie uniek is nie en dat dit aan my die geleentheid bied om met diegene wat soortgelyke idees het, saam te werk," sê Selvam.

Prof Kukunda Elizabeth Bacwayo, dekaan van die Skool vir Navorsing en Nagraadse Studies aan die Uganda Christenuniversiteit, sê toekomstige gesprekke sal baie makliker wees omdat hulle nou van aangesig tot aangesig ontmoet het. Voor die seminaar het hulle net aanlyn gekommunikeer.

“Ek het geleer dat doktorale supervisie 'n vakgebied is wat die moeite werd is om vir verdere navorsing te ondersoek. Tendense in doktorale supervisie van streeks- tot op wêreldvlak is uitgelig, asook die groei in navorsing en navorsingsgapings in doktorale supervisie. Die insigte het waarde tot my begrip van doktorale supervisie gevoeg en my vaardighede verbeter," sê dr Katherine Fulgence van die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië. Sy sê dit stel haar in staat om met vertroue professionele ontwikkelingskursusse oor doktorale supervisie aan te bied.

Oudstudente van die kursus is genooi om projekte voor te lê oor hoe hulle beplan om die kennis en vaardighede wat hulle by die kursus bekom het, by hul eie universiteite in hul eie lande te vermenigvuldig. Hul projekte moes drie aspekte insluit: navorsing en die bou van kapasiteit en netwerke op die gebied van doktorale promotorskap. Die doel van die vergadering op Stellenbosch was om netwerke tussen die oudstudente te vorm en te versterk, om hul projekte te verfyn en om hul kennis oor verskeie aspekte van doktorale studieleiding uit te brei en om goeie praktyke in doktorale studieleiding binne die Afrika-konteks met mekaar te deel.

Referate oor onderwerpe soos neigings in wetenskapproduksie en doktorale studies in Afrika; kwessies met doktorale studieleiding (wêreldwyd en in Afrika); navorsing oor nagraadse studieleiding; uitdagings wat doktorale studieleiers by Afrika-universiteite ondervind; institusionele digitale transformasie-strategieë en nagraadse studieleiding; hulpbronne vir doktorale studieleiding; die gebruik van elektroniese platforms vir akademiese netwerke en die gebruik van informasiekommunikasietegnologie in doktorale studieleiding. Referate is aangebied deur proff Jan Botha (SENWET), Liezel Frick (SHVO), Chrissie Boughey en Sioux McKenna (albei van CHERTL), Johann Mouton, dr Lauren Wildscut en Gabriele Vilyte (almal van SENWET), en dr Nompilo Tshuma en Mine de Klerk van die US se Sentrum vir Leertegnologieë. Twee Europese kundiges, dr Lucas Zinner, direkteur van navorsing aan die Universiteit van Wenen, en Michael Hörig, die hoof van strategiese beplanning by die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD) in Bonn, Duitsland.