Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ek het my eie pad geloop'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 12/11/2019

“Ek het my eie pad geloop. As 'n vrou van kleur wat werk in 'n bedryf waar daar skaars enige vroue  van kleur is, met inagneming van ons land se geskiedenis met die wynbedryf en alkoholafhanklikheid by sommige gemeenskappe, het ek my eie pad geloop. Toe ek in die bedryf begin het was my ma nie baie gelukkig met my nie, want dit was nie 'n veld waarin jy gestudeer het nie."

Dit was die woorde van sakevrou Natasha Boks, 'n alumnus van die Fakulteit AgriWetenskappe en voormalige wynmaker, by die derde Loopbaankafee wat onlangs aangebied is. Die reeks TedTalk-styl praatjies is in 2016 deur die Alumni-betrekkinge afdelingr geloods om 'n platform te skep waar alumni met die universiteit kan skakel op 'n nuwe wyse deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbane wat hulle verlang. Terselfdertyd word voorgraadse en nagraadse studente blootgestel aan 'n diverse groep alumni wat verskillende loopbane gevolg het en verskeie uitdagings beleef het onderweg na die bou van 'n suksesvolle loopbaan.

Tydens haar praatjie het Boks sommige van die belangrike dinge gedeel wat sy in haar lewe en loopbaan-reis geleer het wat haar geïnspireer het om uiteindelik haar eie onderneming te loods – een wat fokus op die wynproduksie-bedryf in Suid-Afrika en die ander gemik op wynuitvoer en wynverspreiding in die res van Afrika.

“Ek dink dat om jou eie sukses te vind, moet jy 'n begrip hê van jou eie uniekheid," sê sy.

Dit, voeg sy by, vereis van 'n mens om opreg te wees en 'n keuse te maak vir jou lewe en jou loopbaan gebaseer op die dinge wat vir jou waarde het.

“Vra jouself af: hoekom ding ek mee en vir wie en vir wat? Jy moet jou eie standaard stel en jou waarde en dit wat jy het om aan te bied, ken."

Om te weet wie jy is, sê Boks, vereis dat jy jou eie pad loop.

“Wanneer ek kyk na my reis by Nederburg: ja ons het 'n klomp toekennings gewen en ons was 'n wonderlike span, maar jy besef dat, wanneer jy nie weet wie jy is nie, jy altyd gaan meeding met ander mense. Die lewe wat jy vir jouself kies, moet jou eie wees. Ek verstaan die druk wat mense ondervind, veral met sosiale media, maar kies altyd jou eie pad."

Hierdie les, sê Boks, is iets wat sy geleer het toe sy die pos van hoofwynmaker by Nederburg Wynlandgoed aanvaar het, een van die wynlandgoedere met die meeste toekennings in Suid-Afrika.

“Ek was die hoofwynmaker en ek moes verseker dat ons steeds kwaliteit Nederburg wyne maak wat toekennings kon wen onder my leierskap. Maar die vraag was, moes ek soos almal wees om dit te doen?"

Sy het die studente aangemoedig om te luister na die menings van diegene wat opbouende kritiek lewer wat sal bydra tot hul ontwikkeling, maar om katvoet te wees vir daardie kritici wat wil afbreek wat die studente mag opbou sonder om by te dra tot hul ontwikkeling.

“Mense sal 'n opinie hê oor jou, maar wanneer hulle jou daardie opinie gee, moet jy vra: Wie is die persoon wat die opinie gee? Is die persoon wat advies gee iemand wat jy vertrou en as rolmodel sien? Indien nie, luister na die opmerking en beweeg aan."

Dit, voeg sy by, is baie belangrik wanneer jy misluk. Dit was ook onmisbaar in die opbou van haar eie onderneming.

“Wanneer dit kom by besigheid moet jy weet wie jy is, want as jy nie weet nie, sal mense hul visie of plan op jou afdwing en dit mag jou van die pad wegneem wat jy moet vat. Jy gaan misluk, jy gaan huil en jy gaan op jouself vloek en vra 'hoekom het ek 'n gemaklike, veilige werk verlaat?'. Maar een ding kan ek jou sê, jy gaan gelukkig en vervuld wees as jy jou passie en doelwit volg. Ja, dit is harde werk, maar jy gaan tevrede wees met jou keuse en jy sal vrede hê as jy verstaan dat net jy verantwoordelik is vir dit wat jy in jou lewe bereik."

Dat sy geweet het wat sy werd is, sê Boks, is nog 'n rede hoekom sy nog nooit in haar lewe vir werk moes soek nie. Deur haar waarde te ken en deur dit te demonstreer in die werk wat sy gedoen het by die maatskappye waar sy gewerk het, het Boks die posisie as assistent-wynmaker en hoofwynmaker by verskillende maatskappye beklee. Dit was egter die maatskappye wat haar genader het, pleks van andersom.

Sy het die studente aangemoedig om hulself verby hul grense te druk en hul doelwitte op 'n maandelikse, halfjaarlikse en jaarlikse basis te evalueer.

“Gee jouself 'n tydlyn en begin iets doen oor die doelwitte wat jy vir jouself gestel het. 'n Stuk papier met jou doelwitte sal net vir jou vertel wat jy wil doen, en behoort te doen, maar dit sal jou nie dwing om dit te doen nie. Doen stappe om jou doelwitte te behaal en vermy selfvoldaanheid."

En, terwyl Boks die studente aangemoedig het om hard te werk om hul doelwitte te bereik, het sy hulle aangeraai om te verseker dat hulle 'n balans skep in hul lewe. Dit, sê sy, was 'n belangrike les wat sy geleer het in Junie 2017 toe sy fisies uitgebrand en byna 'n hartaanval gekry het.

“Voordat ek by Distell bedank het in Julie 2017 het ek reeds geweet dit was tyd om die korporatiewe omgewing te verlaat en my eie ding te doen. Ek het 'n mentor in die maatskappy gehad en ek was tevrede met hoe my loopbaan gevorder het. Maar in die eerste week van Junie 2017 het ek besef ek is uitgebrand."

“Ek onthou daardie oggend goed. My man het vroeg gaan werk. Ek het gaan stort en het 'n erge pyn in my bors gekry. Die oomblik toe ek uit die stort klim het ek ineengestort. Ek het op die badkamer-vloer gelê en was steeds bewus van my omgewing, maar die pyn in my bors was so erg dat ek nie by my foon kon kom nie. Nogtans was die eerste ding waaraan ek gedink het dat ek by die werk moes kom."

“Ek het my man geskakel en toe hy nie antwoord nie het ek 'n vriendin gebel. Sy het my gekalmeer en ek het aangetrek en werk toe gegaan. Ek het aan my assistent haar take vir die dag gegee en toe self na die hospitaal gery."

Boks is onmiddellik toegelaat. Sy was slegs 35, maar 'n spier in haar hart het ontsteek en sy was op groot risiko om daardie oggend 'n hartaanval te kry.

“Ek het geweet dat daar iets met my verkeerd was, want niemand wie se kop reg is sal, nadat hulle byna 'n hartaanval gehad het, eers werk toe ry en dan hospitaal toe nie."

“Dit was tyd om myself te vra waarheen is ek op pad? En dit is die dag wat ek besluit het ek kies my, ek gaan nie myself langer so druk nie. Ek het begin oefen, ek het gekyk na my dieet en ek het besluit om my eie ondernemings te loods."

Sy voeg egter by dat die besluit nie gedryf is deur ontnugtering met die maatskappy waar sy gewerk het nie, maar die besef dat sy die bydrae gemaak het was sy wou maak by Distell en dat dit tyd was om 'n nuwe uitdaging te aanvaar.

Terwyl Boks glo dat dit belangrik is om gebalanseerd te wees en jou eie waarde te besef, het sy aan die studente gesê dat dit ewe belangrik is om ander mense en hul bydraes te waardeer.

“Verseker dat jy goeie mense het wat aan jou rapporteer, dat daardie mense gewaardeer voel en dat hulle die waarde wat hulle tot die tafel bring, besef."

Om die punt te demonstreer het sy die studente vertel van 'n werker wat vir 20 jaar by Distell gewerk het, maar nooit die geleentheid gegee is om aan 'n wynproe-geleentheid deel te neem nie, iets wat hy graag wou ontwikkel. Toe sy aan die werker die geleentheid bied om deel te neem aan een van die wynbedryf se bekende wynproe-geleenthede was hy huiwerig. Sy moes hom ompraat om haar te vergesel na die geleentheid.

“Ek het hom na 'n paar van die ander stalletjies by die geleentheid geneem. Toe hy met die mense begin praat, het hy besef hoeveel hy weet van wynmaak. Na 20 jaar by Distell het hy nog nooit so 'n geleentheid gehad nie. Open die platforms wat aan jou gegee word vir ander mense, sodat hulle ook kan groei. Soms vergeet ons dat ons beter af is as ander, dus moet jy, wanneer jy kan, vir ander die geleentheid gee om te kom waar hulle wil wees."

Boks het haar praatjie afgesluit: “Die laaste ding wat ek wil hê jy moet doen, is om vasberadenheid te ontwikkel. Jy gaan misluk, maar jy sal dit benodig om op te staan en weer te probeer. Om dit te doen moet jy vasberadenheid ontwikkel, deursettingsvermoë en veerkragtigheid, want jy gaan dit benodig om te slaag."

  • ​Foto: Sakevrou Natasha Boks (heellinks), 'n alumnus van Agriwetenskappe en voormalige hoofwynmaker, was die genooide spreker by die derde Loopbaankafee wat onlangs aangebied is. By haar is Marvin Koopman (heelregs), Alumni-betrekkinge Koördineerder in die afdeling Alumni-betrekkinge, en die twee studente wat die geleentheid gehad het om saam met Boks te gaan eet. Hulle is Dimpho Mathibe (naaslinks) en Amy Goliath (derde van regs). (Henk Oets)