Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Verlengde Graadprogram bied omvattende steun aan studente
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 07/11/2019

Danksy die Verlengde Graadprogram (VGP) wag daar 'n blink toekoms op studente soos Axola Dlepu, een van die studente wat toelating tot die Universiteit Stellenbosch (US) deur dié program verkry het.

Hierdie innoverende program is 'n aantal jare gelede ontwikkel om sistemiese struikelblokke tot gelykheid en studentetoegang te oorkom en om studente met bykomende akademiese ondersteuning by te staan.

Die koördineerder van die program, dr Anita Jonker, sê die VGP se rol is om ongelykhede uit die verlede reg te stel en hoër onderwys te transformeer deur op die nuwe werklikhede en geleenthede te reageer.

Volgens Jonker is die program gemik op studente wat 'n gemiddelde van 60–64,9% in hul Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen behaal het en graag 'n B-graad wil verwerf. Sy voeg by dat kandidate se uitslae van die Nasionale Normtoets (NNT), hul sosio-ekonomiese status en die beskikbaarheid van plekke in ag geneem word vir toelating.

VGP- en hoofstroomstudente verwerf dieselfde grade ná voltooiing van hul voorgraadse studies. Die enigste verskil is dat die VGP-studente hul eerste jaar oor twee jaar doen. Bo en behalwe hul hoofstroom vakke, ontvang VGP-studente bykomende akademiese ondersteuning en volg hulle sekere verpligte modules wat hulle beter voorberei vir hul voorgraadse studie. Dit sluit in Tekste in die Geesteswetenskappe, Inligtingsvaardighede en Inleiding tot die Geesteswetenskappe.

Die klem in die eerstejaarmodule van Tekste in die Geesteswetenskappe val op akademiese lees- en skryfvaardighede, plagiaat en verwysing, kritiese denke, retoriese struktuur, samehang, kohesie, teks-linguïstieke eienskappe, kritiese denke en argumentasie. Die lesings word in aparte Afrikaanse en Engelse klasse aangebied om optimale akademiese ondersteuning in studente se voorkeuronderrigtaal te bied.

In Inleiding tot die Geesteswetenskappe word VGP-studente aan vier afsonderlike vakgebiede blootgestel, met 'n spesifieke klem op meertalige tegniese konsepte wat 'n grondslag bied vir ander vakgebiede in die Geestes- en Sosiale Wetenskappe. Al die terminologie en klasnotas is in Engels, Afrikaans en Xhosa beskikbaar en studente kan met behulp van tolke aan die lesings in hul moedertaal deelneem.

'n Nagraadse tutor, Jocelyn Solomons, fasiliteer tutoriaalbesprekings vir Afrikaans- en Kaapssprekende studente (en sprekers van verwante taalvariëteite).. Tutbesprekings vir Engels-  en onder meer Xhosa-sprekende studente word deur nog 'n nagraadse tutor, Busiswa Sobahle, gefasiliteer.

Uitgebreide ko-kurrikulêre ondersteuning is ook in die akademiese aanbod ingebou om studente se kanse op sukses te verbeter. Dit sluit 'n VGP-geakkrediteerde mentorprogram in, wat ko-kurrikulêre erkenning verwerf het en wat deur Shona Lombard gekoördineer word, in. In dié program tree senior VGP-studente as mentors op vir eerstejaarstudente wat soortgelyke BA-programme volg, om hulle te help om die uitdagings van die universiteitslewe te bowe te kom.

Dlepu het sy dank uitgespreek oor die feit dat hy gekies is om deel te wees van die program. “Die addisionele akademiese steun en die mentorgroepe in die VGP-program het my baie gehelp. Dit het my lewe baie makliker gemaak as 'n hoofstroom eerstejaarstudent. "

Die 20-jarige van Saldanahbaai het VGP-studente aangemoedig om die program te gebruik om uit te blink.

Hy het gesê die VGP-modules gee aan studente 'n breër wêreldbeskouing wat hulle leer om gemaklik gesprek te voer met meertalige studente uit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde.

Bavani Naicker, 'n 20-jarige BA Sosiale Dinamika-student van KwaZulu-Natal (KZN), beskryf die VGP as 'n omvattende ondersteuningstelsel. Sy sê dit bied aan hulle grondslagkennis om hulle in hul studies te help.

“Vir my was die hoogtepunt van die kursus toe ons die Parlement besoek het en met verteenwoordigers van die verskillende politieke partye kon gesels," sê sy.

Chloe Krieger, 'n BA Internasionale Studies-student van Kaapstad, sê as dit nie vir die VGP was nie, sou sy al in haar eerstejaar opgeskop het. “Deur die VGP het ons belangrike geletterdheids- en lewensvaardighede geleer wat die meerderheid studente nie in die basiese onderwysstelsel leer nie."

Krieger sê die VGP het haar gehelp om bewus te word van kritiese kwessies waarvan sy andersins nie bewus sou wees nie. “Dit het my ook aangemoedig om 'n aktivis en 'n agent vir verandering te word. Ek dien tans op die 2019/2020-SR en ek leer ongelooflik baie oor kwessies wat gemarginaliseerde groepe op die kampus te bowe moet kom waarvan baie mense nie eens bewus is nie."

Studente wat voorlopig tot die VGP toegelaat is, word genooi om op Vrydag, 24 Januarie 2020 van 09:30 tot 12:00 saam met hul ouers of voogde die eerste vergadering met VGP-dosente en mentors in Kamer 3001 in die Wilcocks-gebou by Rynelveldstraat 52 by te woon.

Voornemende studente wat meer oor die VGP te wete wil kom, kan die VGP-webtuiste besoek by http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/arts/edp.​