Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wanneer die portjacksons val, staan ander indringerspesies op
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 07/11/2019

'n Algemene metode om die indringer akasiabome in Suid-Afrika uit te roei, is om hulle af te kap, op mekaar te stapel en dan aan die brand te steek. Maar dit kan ook 'n toename in die voorkoms van ander indringerspesies wat nie geteiken is nie (of te wel sekondêre indringers) tot gevolg hê – selfs drie jaar nadat die akasias in 'n spesifieke gebied uitgeroei is, het navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Duitse Nürtingen-Geislingen-universiteit vir Toegepaste Wetenskappe bevind. Hul navorsingsbevindinge het onlangs in die vaktydskrif, South African Journal of Botany, verskyn.

Hoofnavorser dr Mlungele Nsikani van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die US, sê hulle het as deel van hul navorsing op 'n spesifieke groep indringer-akasiabome, bekend as Acacia saligna, ook bekend as portjacksons, in die Kaapse Vlakte-sandfynbos en Bergsandsteenfynbos in die Wes-Kaap, waar hierdie bome algemeen voorkom, gefokus. Hulle het die Blaauwberg-natuurreservaat vir eersgenoemde en Glencairn vir laasgenoemde gekies, aangesien die portjacksons in albei gebiede uitgeroei is en toe gelos is om vanself te herstel.

Die navorsers wou uitvind watter sekondêre indringerspesies in die gebied voorkom nadat die portjacksons uitgeroei is en of daar ná die skoonmaak 'n verskil in die aantal spesies en dekking van sekondêre indringers in gebiede waar lae- en hoë-intensiteit brande of geen brande voorkom, was, en of hierdie verskille in die jare ná die uitroeiing verander het. Hulle wou bepaal of die aantal spesies en sekondêre bedekking deur indringers ná uitroeiing verskil in en tussen laaglande en bergfynbos, en of hierdie verskille in die jare ná uitroeiing verander het.

Nsikani sê sekondêre indringing kom voor wanneer primêre indringers – in hierdie geval akasias – uit 'n gebied verwyder is en ander indringerspesies (ongeag die akasias) dan daaruit voordeel trek en die gebied oorneem. Mlungele.jpg

“Sekondêre indringerspesies kan in gebiede wat voorheen ingedring is, floreer omdat die uitroeiing van primêre indringers dikwels 'n 'ruimte' skep vir hul aanwassing uit saadbanke wat in die grond opgehoop het vóór primêre indringing en/of uit sade wat van omliggende dele gemigreer het deur die vermindering van mededinging."

Rakende hul vernaamste bevindinge, sê Nsikani hulle het 32 sekondêre indringerspesies in bogenoemde gebiede waar portjacksons verwyder is, opgeteken. Hy voeg by dat die opgetekende aantal sekondêre indringerspesies aansienklik meer is as wat in vorige navorsingsprojekte opgeteken is.

“Hierdie spesies het grasse (22%), bossies (72%) en struike (6%) ingesluit. Ons het bevind dat 50% van die sekondêre indringerspesies in albei tipes fynbos voorgekom het, terwyl 9% slegs in die Kaapse Vlakte-sandfynbos en 41% slegs in die bergsandsteenfynbos gevind is.

“Uit die sekondêre indringerspesies wat ons geïdentifiseer het, het 91% in gebiede wat hoë-intensiteit brande ondervind, voorgekom, 91% is in gebiede met lae-intensiteit brande en 88% in gebiede wat glad nie gebrand het nie, gevind.

“Altesame 78% van die sekondêre indringerspesies was in die eerste vyf jaar ná uitroeiing teenwoordig, terwyl 72% in die tweede jaar ná uitroeiing en 84% in die derde jaar ná uitroeiing voorgekom het."

Nsikani sê die aantal sekondêre indringerspesies in die Kaapse Vlakte-sandfynbos het in die tweede jaar nadat dit uitgeroei is, aansienlik toegeneem met 64%, maar dit het nie daarna merkbaar verander nie. In die bergsandsteenfynbos het die voorkoms van sekondêre indringers nie merkbaar verander in al die jare ná die uitroeiing van die primêre indringers nie.

“Wat sekondêre indringerbedekking (die gebied wat deur hierdie indringerspesies bedek word) betref, het dit in die Kaapse Vlakte-sandfynbos in die tweede jaar ná uitroeiing aansienlik toegeneem met 388%, maar in die derde jaar het dit merkbaar afgeneem met 65% tot 'n vlak gelykstaande aan die eerste jaar. In die bergfynbos het dit met 90% toegeneem in die tweede jaar ná uitroeiing, maar dit het nie in die derde jaar merkbaar verander nie."

Hy voeg by dat die inheemse spesiebedekking in die Kaapse Vlakte-sandfynbos in die derde jaar ná uitroeiing met 81% toegeneem het, terwyl dit in die bergfynbosnavorsingsgebied met slegs 28% vermeerder het.

Gegewe die aantal sekondêre indringerspesies wat hulle in hul navorsing opgeteken het, sê Nsikani restourasie-ekoloë moet bewus wees van die strekking van hierdie spesies wat dominant en hardnekkig mag wees nadat indringer-akasias uitgeroei is. Hulle moet ook ander maniere om dit te bestuur, ondersoek.

“Wat die verwydering van indringer-akasias betref, het ons gevind dat houtoorblyfsels regoor die restourasiegebied versprei moet word, eerder as om opeengestapel en verbrand te word om te voorkom dat akasia-saadbanke in die grond opgegaar word. Om die groei van 'n tweede generasie van indringer-akasias te voorkom, kan die kiemplante wat ontkiem wanneer dit reën, met die hand uitgeroei, afgesny en met onkruiddoder beheer word.

“Ons doen 'n beroep op restourasie-ekoloë om sekondêre indringers deur onder meer onkruiddoder, weiding, sny, voorgeskrewe brande, grondstikstofbestuur, die gebruik van die son se krag om onkruid te beheer en onkruidmatte te bestuur."

Hoewel hulle restourasie-ekoloë aanmoedig om hierdie metodes te gebruik, erken Nsikani en sy medenavorsers egter dat sny, weiding en die gebruik van onkruiddoders ook die verlies van inheemse spesies in die gebied tot gevolg kan hê.

  • BRON: Nsikani MM, Gaertner M, Kritzinger-Klopper S, Ngubane NP, Esler, KJ 2019. Secondary invasion after clearing invasive Acacia saligna in the South African fynbos. South African Journal of Botany 125: 280–289.

Hooffoto: Portjacksons-bome. Krediet: Wikimedia. Foto 1: Dr Mlungele Nsikani

SLEGS VIR MEDIANAVRAE:

Dr Mlungele Nsikani

Sentrum vir Indringerbiologie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3403

E-pos: mlungele@sun.ac.za

​UITGEREIK DEUR:

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za