Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US word lid van invloedryke globale netwerk van universiteite
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/11/2019


Die Universiteit Stellenbosch (US) se doelgerigte poging om met van die wêreld se voorste navorsingsgerigte universiteite kragte saam te snoer, het pas 'n reusehupstoot gekry. Die Vergadering van die Venesiese Internasionale Universiteit (VIU) – 'n konsortium van 19 universiteite uit 15 lande op vier vastelande met 'n gemeenskaplike kampus op die San Servolo-eiland in Venesië – het onlangs die US se toelating as lid eenparig goedgekeur.

Die US is die eerste universiteit in Afrika om tot die groep navorsingsintensiewe universiteite toegelaat te word. Dit volg op vergaderings met die VIU en 'n besoek deur prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, aan die VIU in Junie 2018.

Die Universiteit se amptelike byvoeging tot die VIU is verlede week (1 November 2019) op die Stellenbosse hoofkampus onderteken. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê hy is baie bly dat die VIU die Universiteit Stellenbosch aanvaar het, veral oor al die voordele en geleenthede wat dit vir studente en personeel van die US inhou ten opsigte van beweeglikheidsprogramme, moontlikhede van gesamentlike en gedeelde grade en die nuwe dimensies wat dit by die US se geïdentifiseerde navorsingsgebiede sal voeg.

Mnr Lorenzo Fioramonti, die Italiaanse Minister van Onderwys, Universiteite en Navorsing, het die US se toetrede tot die VIU as 'n lanseerblad vir die versterking van verhoudinge tussen Italiaanse en Suid-Afrikaanse universiteite beskryf.

Volgens Fioramonti het die Italiaanse regering besluit om saam met 'n uitgesoekte groep universiteite wat die potensiaal het om die grootste impak op wetenskaplike navorsing te hê, te werk en in hulle te belê.

Ambassadeur Umberto Vattani, die president van die VIU, het die US as 'n wetenskaplike leier beskryf wat baie aan die VIU-vennote kan bied. Hy het gesê hy sien “met genoeglike verwagting" uit na die US-navorsers se bydrae.

VIU vervul sy rol as 'n konsortium deur 'n innoverende platform vir transnasionale opleiding en navorsing te verskaf. Die liduniversiteite stel studieprogramme saam wat hul studente daarop voorberei om hedendaagse wêreldkwessies soos volhoubare ontwikkeling, klimaatsverandering, veroudering, stedelike groei en volhoubare stede te hanteer.

“Die VIU-lidmaatskap versterk die US se strategiese temas om genetwerkte en samewerkende onderrig en leer te skep en om navorsing te lewer wat 'n plaaslike, nasionale en wêreldwye impak het, terwyl die Universiteit 'n bydrae tot die transformerende leerervaring van studente en dosente lewer wat aan samewerkende, interdissiplinêre navorsingsprojekte deelneem," het prof Klopper gesê.

As 'n uitvloeisel van die US se toelating, is prof De Villiers nou 'n ex officio-lid van die VIU-vergadering. Hy sal by die volgende byeenkoms van die Vergadering die US se verteenwoordigers op die VIU-raad van direkteure en akademiese raad aanwys.

Die volledige lys van VIU-vennote is:

  • Boston-kollege in die VSA
  • Duke-universiteit in die VSA
  • Die Ludwig Maximilian-universiteit van München
  • Tel Aviv-universiteit van Israel
  • Korea-universiteit in Seoel
  • Tsinghua-universiteit van Beijing
  • Ca' Foscari-universiteit  van Venesië
  • Universiteit IUAV van Venesië
  • Europese Universiteit in St Petersburg
  • Waseda-universiteit van Tokio
  • Metropolitaanse Stad van of Venesië
  • Universiteit van Padua
  • Universiteit van Bordeaux in Frankryk
  • Nasionale Navorsingsraad van Italië
  • Universiteit van Lausanne in Switserland
  • Nasionale Instituut vir Wetenskaplike Navorsing van Quebec-stad in Kanada
  • Universiteit van Rome Tor Vergata in Italië
  • KU Leuven van België
  • Universiteit van Ljubljana in Slowenië
  • Universiteit Stellenbosch

 

Hooffoto: 

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, saam met die Italiaanse Minister van Onderwys, Universiteite en Navorsing, mnr Lorenzo Fioramonti, by die ondertekening van die US se toevoeging as lid van die Venesiese Internasionale Universiteit. Agter van links: dr Pierguido Sarti, Wetenskap en Tegnologie-gesant; me Nicoletta Cocco, ministeriële sekretaris; mnr Emanuelle Pollio, Italiaanse Konsulgeneraal; en mnr Raimondo De Cardona, Diplomatieke Raadgewer.

Tweede foto:

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, saam met Ambassadeur Umberto Vattani, president of van die Venesiese Internasionale Universiteit by die ondertekening van die ooreenkoms tussen die US en die VIU. ​


​Fotograaf: Stefan Els