Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dis net omdat ek gewaag het, sê Songezo Mabece
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 04/11/2019

“Ek het gewaag. Ek het niks gehad om te verloor nie. Ek het myself die geleentheid gegee. Hier waar jy nou sit, sit jy op 'n nee, maar jy kan ook in 'n ander posisie wees as waar jy nou is as jy dit waag om te vra. Dis net omdat ek gewaag het," het Regsfakulteit-alumnus, SAFM radio-aanbieder en gekwalifiseerde prokureur Songezo Mabece gesê toe hy meer as 400 studente toegespreek het by 'n onlangse Loopbaankafee aangebied by die Universiteit Stellenbosch (US).

Dit was die belangrikste wenk wat Mabece met die studente gedeel het uit sy Top 5 Wenke oor hoe om 'n suksesvolle loopbaan te bou.

Mabece was die tweede alumnus wat deelgeneem het aan die jaarlikse Loopbaankafee-reeks. Die TedTalk-styl reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge afdeling om 'n platform te verskaf waar alumni met die universiteit op 'n nuwe manier kan skakel deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbane wat hulle verlang. Terselfdertyd is voorgraadse en nagraadse studente blootgestel aan 'n diverse groep alumni wat verskillende loopbane gevolg het en verskeie uitdagings in die gesig gestaar het op hul weg om 'n suksesvolle loopbaan te bou.

Mabece, wat groot geword het in Sada, 'n landelike gemeenskap in die Oos-Kaap, werk vandag as regsadviseur en uitvoerende assistent van die Kommissaris van die Mededingingskommissie van Suid-Afrika.

Terwyl hy die studente toegespreek het, het hy gedeel hoe sy reis begin het toe hy net agt jaar oud was en ingeskryf is by die Selborne Laerskool nadat hy toegelaat is tot die koshuis. Toe hy aanvaar is as leerder sou Mabece een van slegs agt swart leerders wees in die skoolkoshuis saam met 60 wit leerders. Twee van die agt swart leerders was toevallig sy broers.

“Vir die volgende 11 jaar is my lewe gereël deur 'n klok," het Mabece vertel terwyl hy die uitdagings gedeel het van verhuis na 'n skoolkoshuis op die ouderdom van agt en om te moet aanpas by 'n wêreld gevul met uitsonderlike bevoorregting, iets waaraan hy toe blootgestel is as 'n jong swart leerder onder duisende wit leerders aan Selborne Laerskool.

“Die klok het aangedui wanneer ek in die oggend moes opstaan, wanneer ek moes eet, wanneer ek moes was en aantrek, en wanneer ek klas toe moes gaan. My lewe is gedikteer deur 'n klok. Daar was geen ma of pa om saans na huis toe te gaan, om my in die bed te sit nie. Dink jou in hoe dit was vir 'n agtjarige."

Dit was 1992, De Klerk was nog president en apartheid was aan die sterf, maar het nog sy laaste skoppe gegee.

“As jy in 'n Model C skool was, is van jou verwag om soos al die ander te wees. In 1992 was dit jou enigste opsie. Dit was aaklig om Mabece te wees: ek is Sangezo genoem pleks van Songezo, of was bekend as Mabeke. Ek was nie in 'n posisie om te bevestig wie ek was nie, want ek was 'n swart seun in 'n wit ruimte," het hy verduidelik. "Ek moes assimileer of die gevolge ly omdat ek anders was."

“Ek moes my keuses maak en ek moes hulle vinnig maak, aangesien my ouers nie by my was nie."

Ten spyte van hierdie uitdagings het Mabece matriek goed genoeg geslaag om universiteitstoelating te kry en was 'n kranige redenaar, atleet en rugbyspeler in sowel die laerskool as die hoërskool.

“Ek het huis-kaptein, skool-kaptein, atletiek-kaptein en meer geword. My broer, Loyiso, was hoofseun – 'n geskiedkundige oomblik in die 130-jarige geskiedenis van Selborne College. Dit nadat ons ouer broer, wyle Luvuyo, in 1998 geskiedenis gemaak het deur vir die skool se eerste XV rugbyspan uit te draf in die nommer 12-trui."

Nadat hy sy skoolopleiding voltooi het, het Mabece ingeskryf by die Fort Hare Universiteit om 'n regsgraad te verkry.

“Ek is trots op waar ek vandaan kom. Ek is trots op wat dit van my familie vereis het om my daar te kry. Ek is trots op die wonderlike geleentheid om Selborne Laerskool en Hoërskool by te woon, en ek is super-trots dat ek deur die stelsel gegaan het en anderkant uitgekom het met wonderlike prestasies," het hy gesê.

“Maar my verhaal is nie uniek of baie spesiaal nie – baie van my landgenote het deur dieselfde stelsel gegaan en 'n soortgelyke pad van uitnemendheid en prestasie geloop. Baie van daardie mense is by hierdie universiteit, in hierdie lokaal."

In Januarie 2009, nadat hy sy graad behaal het aan Fort Hare, het Mabece 'n internskap aanvaar by die SABC. Maar na 'n maand en 'n karige salaris van R3 000, het hy by Maties ingeskryf vir 'n LLM in Internasionale Handelsreg by die Regsfakulteit en begin studeer in Februarie 2009.

'n Week nadat hy by die SABC bedank het, was hy op Stellenbosch en het in die leë huis van sy broer in Brackenfell ingetrek. Maar op die eerste dag van reis van die huis na die US het Mabece 'n skok gekry. Publieke vervoer in die Wes-Kaap kon hom nie betyds by die universiteit kry nie aangesien dit 'n uur se stap na die naaste spoorwegstasie verg, nog 'n uur om by Stellenbosch te kom as die treine betyds was, 30 minute om by sy lesingsaal te kom van die Stellenbosch stasie, en boonop sou die vervoerkoste geld vereis wat hy nie gehad het nie.

“Nadat ek langs die pad gestaan het met 'n Maties-bord in my hand om duim te gooi na die universiteit het ek besluit om  die volgende dag by die huis te bly. 'n Dag later het ek teruggekeer en 'n mede-student van Zimbabwe het my in sy woonstel verwelkom en my die nag daar laat slaap."

Die dag daarna het hy na die divisie vir nagraadse studente se me Schwartz gegaan en sy saak gestel. Teen die einde van die dag het die fakulteit geld gevind om hom by te staan en dit in sy bankrekening gedeponeer om met sy lewenskoste te help. Kort daarna is hy aanvaar as inwoner van Huis de Villiers en later, deur sy belangstelling as rugbyskeidsregter, het baie deure vir Mabece oopgegaan.

“Dit was die einde van my gesukkel en die begin van die goeie lewe in Matieland, soveel so dat ek eers agt jaar later graad gevang het," lag hy. “In werklikheid was ek nie gereed vir daardie LLM nie en daaruit het ek 'n kritiese les geleer."

Nogtans het hy dit uiteindelik voltooi. 'n Jaar vroeër (Mei 2016) het Mabece die Algemene Bestuursprogramsertifikaat aan die IEDC-Bled Bestuurskool in Slovenië  behaal, gevolg deur 'n kortkursus in Mededingingsreg aan die Universiteit van Kaapstad.

In 2017 het hy nog 'n risiko geneem. Nadat hy gelees het van die LLM in Staatsverkrygingsreg aan die George Washington Universiteit (GWU) in die VSA het hy aansoek gedoen, hoewel hy geweet het hy het nie die R750 000 wat hy sou benodig vir klasgeld en lewenskoste in Washington nie.

Deur sy volharding het Mabece volle befondsing verkry deur 'n beurs van GWU wat aangevul is deur sy werkgewer, wat hom verlof van 10 maande toegestaan het om die graad te voltooi.

“Ek het myself 'n geleentheid gegee," het hy herhaal.

“Ek weet dat ek ongelooflik gelukkig was. Baie van wat in my lewe gebeur het is die uitspeel van 'n draaiboek wat geskryf is lank voordat ek gebore is. Toe ek by die US was, was ek nog nie gereed vir 'n meestersgraad nie, en dit is oukei om nie gereed te wees nie."

Met verwysing na nog 'n wenk het hy die studente aangemoedig om nie vertragings te sien as geleenthede wat misgeloop is nie.

“Daar is êrens daar buite 'n bus wat wag om by jou halte te stop."

Hy het die studente aangemoedig om die geslag te wees wat streef daarna om beter te wees as die voorafgaande geslag, nie net om hul eie onthalwe nie, maar vir diegene wat sal volg. Mabece het bygevoeg: “Evolusie vereis dit van jou en ons omgewing vereis dit van jou. Wanneer ek in hierdie lokaal rondkyk en die energie hier voel, het ek absoluut geen voorbehoud om te dink dat hierdie universiteit in goeie hande is nie, en dat ons land gelei sal word deur verantwoordelike burgers."

“Die een ding wat ek by julle wil laat, indien niks anders nie – glo in jou waansinnige droom, en gee jouself 'n kans."

  • ​Foto: Regsfakulteit-alumnus, prokureur en SAFM-aanbieder Songezo Mabece (heel regs) was die genooide spreker by die tweede Loopbaankafee. By hom is die studente wat 'n ete saam met hom gewen het vir bywoning van die geleentheid, sowel as Marvin Koopman (derde van links), Alumni-betrekkinge-koördineerder in die Alumni-betrekkinge afdeling. Van links is die studente Takudzwa Masunda, Motsoari Nthunya, Noku Katom, en Olona Ndzuzo. (Henk Oets)