Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Loopbaanvoorligtingprojek vestig aandag op visie 2021
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 02/11/2019

Die span agter die sosiale-impakprojek “Om loopbaanbeperkinge en -kompromieë te oorkom" – wat loopbaanvoorligting aan graad 9-leerders in gemeenskappe met min of geen hulpbronne gebied het – verskuif ná 'n suksesvolle twee jaar hul fokus nou na hul visie 2021, wat verskeie opwindende vooruitsigte insluit.

Die projek is 'n gesamentlike poging tussen die Departemente Sielkunde en Bedryfsielkunde by die Universiteit Stellenbosch (US). Meer as 80 studente en personeellede het vroeër vanjaar saamgewerk om materiaal te ontwikkel en werksessies te hou om loopbaanvoorligting aan meer as 1 200 leerders in agt histories-benadeelde skole in Stellenbosch, Franschhoek en Delft te bied.

Dit word deur die Rupert Stigting en die Afdeling Sosiale Impak aan die US gefinansier.

By die terugvoeringsessie op 24 Oktober, het die projekleiers gesê dat met die verskuiwing in onderwys na die Uitkomsgebaseerde onderwyskurrikulum (OBE), een van die ernstige probleme in die hoëronderwysstelsel die gebrek aan beroepsvoorligting is.

As gevolg van ongunstige sosio-ekonomiese toestande het baie leerders 'n beperkte perspektief op loopbaanopsies en die paaie om hul loopbaanaspirasies te bereik, en is hulle geneig om hul potensiële keuses in te perk en te kompromitteer.

Hierdie ingryping is daarop gerig om leerders te help om, onder meer, hul beroepsbelange en ander loopbaaneienskappe te verken en te identifiseer, hul loopbaaneienskappe aan loopbaankeuses te koppel en ingeligte besluite rakende hul keuse van senior skoolvakke te neem. Dit is baie belangrik in graad 9 wanneer leerders hul matriekvakke moet kies.

Volgens een van die projekleiers, mev. Michelle Visser, is dit ook 'n uitstekende voorbeeld van hoe die universiteit se drie fokusgebiede – naamlik, leer en onderrig, sosiale impak en navorsing – kan saamwerk vir 'n gewenste uitkoms.

Nagraadse studente kry die geleentheid om teorie in die praktyk toe te pas, die gemeenskap trek voordeel uit die ingryping en die projek skep geleenthede vir navorsing. Een van die navorsinguitkomste was 'n hoofstuk in die Springer Handbook of Innovative Career Counselling getiteld: “A Group-based Career Guidance Intervention for SA High School Learners from low-income communities".

“Ons het groot planne vir hierdie ingryping en wil die volhoubaarheid daarvan verseker," het Visser bygevoeg.

Visie 2021 sluit planne in om werksessies via US se telematiese dienste aan te bied, om die handleiding in Afrikaans en isiXhosa te vertaal, om 'n elektroniese weergawe van die handleiding te ontwikkel en die implementering na Soweto uit te brei deur nagraadse navorsingsamewerking tussen die US en die Universiteit van Johannesburg.        

Die leerders wat deel was van die projek in 2018 (toe hulle in graad 9 was), is volgende jaar in graad 11, en die projekspan ondersoek nou die moontlikhede van 'n verlengde studietydperk. Dit sal opvolgsessies behels met leerders wat verlede jaar aan die projek deelgeneem het om hulle met verdere loopbaanvoorligting te help wat op studie- en loopbaankeuses fokus.

Mnr. Isaac Engel, onderhoof van Hoërskool Rosendaal in Delft, het die projekspan bedank.

“Ons gemeenskap is in die greep van armoede vasgevang en die meeste ouers kan nie bekostig om hul kinders na 'n loopbaanvoorligter te stuur nie. Hierdie projek het die potensiaal om die leerders se lewe te verander. Ons het 'n morele verpligting om die huidige generasie se omstandighede te verander en die siklus van armoede te breek. Suid-Afrika kan nie nóg 'n verlore generasie bekostig nie."

Me. Priscilla Booysen, Direkteur van die Rupert Onderwysstigting, het verlede jaar genoem dat hulle dikwels gekonfronteer word deur die uitdaging van leerders wat vir beurse aansoek doen sonder dat hulle die regte vakke het vir die loopbaan wat hulle wil volg.

“Dankie dat julle die gaping vul," het sy gesê. “Julle Visie 2021 tref die merk."

Foto: Anton Jordaan