Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Michael le Cordeur oor taalbeleid-hofuitspraak
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 22/10/2019

Die Burger het op 19 Oktober 2019 ʼn meningsartikel deur prof Michael le Cordeur, Voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, gepubliseer oor die onlangse uitspraak in die Konstitusionele Hof oor die US se Taalbeleid. Klik hier vir die artikel op Netwerk 24, en lees die volledige teks wat vir publikasie voorgelê is, hieronder.

* * *

US Taalbeleid: uitspraak geen doodsvonnis

Die Konstitusionele Hof se uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid is nie ʼn doodsvonnis nie. MICHAEL LE CORDEUR het die uitspraak bestudeer en verduidelik waarom die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in die sprekers se hande is.

Die uitspraak van die Konstitusionele hof dat die Universiteit Stellenbosch (US) se 2016-taalbeleid grondwetlik regverdig is, het tot pessimisme oor die toekoms van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal gelei. Ek is minder swartgallig. Ek is selfs van mening dat dit tot Afrikaans se voordeel kan wees noudat die juk van hofsake van die taal se skouers af is.

Lees jy die uitspraak van die hof aandagtig deur, is dit duidelik dat die regters die aansoek van Gelyke Kanse met empatie bejeën, soveel so dat alle koste ter syde gestel is. Maar in paragraaf 16 van die uitspraak, maak die hof dit duidelik dat hoewel hy begrip het vir die vertoë, die hof nie emosie in ag neem nie. Die hof verlaat hom op die feite voor hande.

So wat is hierdie feite?

Twee foute staan uit in ons taalgeskiedenis wat Afrikaans vandag in ʼn onbenydenswaardige posisie plaas. Die eerste was in1925 toe slegs Afrikaans en Engels as amptelike tale erken is. Ander inheemse tale is na die wildernis verban. Swart mense was verbitterd.

Die tweede probleem was toe Afrikaans as verpligte vak aan swart leerders opgedwing is. Teen 1976 was swart mense heeltemal gekant teen moedertaalonderrig wat vereenselwig is met minderwaardige Bantoeonderwys. Engels as wêreldtaal het vir swart mense die taal van studie en werk geword.

Diskrimineer teen swart studente

Die betoog dat dit Afrikaanse studente se reg is om in die taal van hul keuse klas te kry, is ter syde gestel. In par. 22 wys die hof daarop dat volgens internasionale reg, maar ook volgens Artikel 29 (2) van die Grondwet kan slegs op so toegewing aangedring word indien die versoek billik en regverdig is. Die hof noem dat die universiteit kon bewys dat Afrikaanssprekende studente het Engels op matriekvlak geslaag. Dit beteken dat hulle in Engels onderrig kan word.

Dit moet opgeweeg word teenoor swart studente wat weens die 1925-besluit na graad 4 slegs in Engels onderrig is. Die ander taal wat op matriekvlak geslaag is, is hul huistaal wat nie as onderrigtaal beskikbaar is nie. Engels is dus die enigste opsie vir swart studente. Hou in gedagte dat een van die US se strategiese doelwitte is ʼn meer diverse studentepopulasie deur meer swart studente in te skryf, en die hof kon volgens par. 27 nie tot ʼn ander besluit kom nie. Die 2014-taalbeleid het inderdaad teen swart studente gediskrimineer.

Weens dieselfde rede is die aansoekers se vertoë dat die goedkeuring van die 2016-taalbeleid nie net die einde van Afrikaansonderrig aan universiteite kan beteken nie, maar ook sal verhoed dat inheemse tale dieselfde status bereik, in par. 47 van die uitspraak as bloot opportunisties bestempel. Weens die redes hierbo het geen inheemse taal enige vordering gemaak as tersiêre onderrigtaal nie. Die kanse dat dit nou sal gebeur, is skraal.

Die aansoekers se betoog dat die 2016-beleid teen Afrikaanse studente diskrimineer, is ook van die hand gewys. Luidens par. 18 is die hof reeds in 2016 genader en kon daar nie toe al besware van diskriminasie wees nie aangesien die 2016-beleid eers in 2017 ingestel is.

Parallelmedium nie uitvoerbaar

Die US het toegegee dat parallelmedium volgens die 2014-beleid ʼn moontlikheid was, maar die hof moes oordeel of dit volgens artikel 29 (2) van die Grondwet redelik en prakties uitvoerbaar was. Parallelmedium het daartoe gelei dat slegs swart studente die Engelse klas en slegs wit studente die Afrikaanse klas bywoon wat nie aanvaarbaar was vir die US se strewe na diversiteit nie.

Ook in terme van die koste was parallelmedium nie redelik uitvoerbaar nie. Volgens par. 31 het ʼn kosteberaming getoon dat dit R640 miljoen sou kos (wat ekstra lesinglokale insluit) om na volskaalse parallelmediumonderrig oor te skakel. ʼn Verdere R78 miljoen is jaarliks nodig vir addisionele personeelkostes. Dit sou tot ʼn 20% verhoging in klasgelde lei.

Inklusiewe proses

Die hof bevind gevolglik dat die uitsluiting van nie-Afrikaanssprekers ʼn geldige rede is vir die opgradering van Engels, terwyl daar steeds voortgegaan word met Afrikaansonderrig, al beteken dit dat die voorkeuropsie vir Afrikaans prysgegee word. Wat die US verloor in Afrikaansonderrig, word terug gewen in sosiale geregtigheid, aldus par. 40.

Die uitspraak bevestig dat die US se taalbeleid beoog om toegang tot die Universiteit te bevorder. Die hof het bevind dat die proses wat die Universiteit gevolg het om die Taalbeleid te aanvaar, omvattend en inklusief was, met behoorlike oorlegpleging.

Een van die strategiese doelwitte van die US is die bevordering van ʼn transformerende studente-ervaring. Daarom word sowel Engels as Afrikaans as onderrigtale gebruik: Engels sodat niemand uitgesluit word nie, en Afrikaans omdat daar steeds ʼn vraag na onderrig in Afrikaans is.

Hoe word die US se Taalbeleid toegepas?

Ingevolge die US se Taalbeleid bly hy verbind tot die gebruik van Afrikaans én Engels as onderrigtale. Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig. Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.

In lesings waar Afrikaans én Engels gebruik word, word alle inligting minstens in Engels oorgedra, aangevul met 'n samevatting in Afrikaans. Vrae word in dieselfde taal as die vraag beantwoord. Vir eerstejaarmodules sal intydse tolking gedurende elke lesing beskikbaar wees. In verdere studiejare sal tolking op versoek van die fakulteit voorsien word.

Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word slegs as die aard van die leerstof dit regverdig en die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem. Studente sal verder in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligtings- en kommunikasie-tegnologie ondersteunde leer en die dienste van die US Taalsentrum.

Alle verpligte leesstof soos moduleraamwerke en -studiegidse sal beskikbaar wees in Engels én in Afrikaans. In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi.

Die vertrekpunt is kennisoordrag met in agneming van die behoeftes van studente.

Nie ʼn doodsvonnis

Die hofuitspraak is myns insiens dus nie ʼn doodsvonnis vir Afrikaans nie. Die 2016-taalbeleid is nie daarop uit om Afrikaans op enige manier by te kom nie. En die hof onderskryf dit. Trouens volgens par. 48 erken die hof die waarde van Afrikaans as “one of the cultural treasures of South African national life" (par.61).

In par. 62 erken die regters ook dat Suid-Afrika se fiskus ons nie toelaat om die beskikbare hulpbronne te voorsien soos wat die bepalings van die taalbeleid vereis nie. Derhalwe doen die hof ʼn beroep op die privaatsektor en almal wat kan, om Afrikaans te help bewaar en inheemse tale te ontwikkel deur hulpbronne te verskaf aan instansies van leer soos artikel 29 (3) van die Grondwet aanbeveel. Pleks van in sak en as te gaan sit, het diegene wat Afrikaans ter wille is, nou die geleentheid om die daad by die woord te voeg.

Dit bied die ideale geleentheid aan Afrikaanse sakelui om bv. ʼn Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US te borg. Sulke inisiatiewe sal nie net help met die handhawing van Afrikaans as medium van onderrig nie; dit sal ook bydra tot die bevordering van Afrikaans as wetenskap- en beroepstaal binne 'n meertalige gemeenskap.

Beurse kan toegeken word aan studente wat nagraads in Afrikaans studeer. Die regering behoort dieselfde te doen vir ons ander inheemse tale aan ander universiteite. Elke universiteit behoort op dié manier die inheemse taal in sy omgewing aan boord te neem.

Konstruktiewe balans

Afrikaans geniet nie meer die beskermde status wat hy in die verlede gehad het nie. Vir Afrikaanssprekendes is dit belangrik dat 'n konstruktiewe balans gevind moet word: Terwyl ons steeds verbind bly om Afrikaans (en ander inheemse tale) te bevorder, moet ons realisties en sensitief wees vir inklusiewe kommunikasie op die kampus en die rol wat Engels kan speel om gelyke geleenthede te skep op 'n baie ongelyke speelveld.

Ongeag hoe mooi en edel die doelwitte van die taalbeleid is, daar is twee voorwaardes: studente moet die moed hê om hul pond vleis op te eis, en dosente moet weet dat dit baie ekstra werk gaan verg. Veral deeglike beplanning is noodsaaklik. Die beleid sal val of staan by die mate waartoe die reëls van die beleid nagekom word al dan nie. Hierin is gereelde monitering van uiterste belang en Gelyke Kanse het dit duidelik gemaak dat hulle die toepassing van die taalbeleid met valkoë gaan dophou. Die druk is op die universiteit.

Op 23 Augustus het ek die US se Senaat daarop gewys dat al sou die taalbeleid in die hof staande bly, is daar ʼn groter uitdaging: Dit is om die breë gemeenskap te laat inkoop in hierdie beleid sodat ons as ʼn verenigde Matie-gemeenskap kan vorentoe beweeg.

Hiervoor sal ek – soos in die verlede – my tyd en energie opoffer. Om ʼn cliché te gebruik: die toekoms van Afrikaans is in ons eie hande.

(Prof le Cordeur is voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch en onder-voorsitter van die Stigting van Bemagtiging deur Afrikaans. Vroeë was hy as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee ʼn mede-opsteller van die Wes-Kaapse Taalbeleid.)