Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Rektor skryf oor die US en Afrikaans
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 19/10/2019

“As openbare instelling wat onder meer met belastingbetalersgeld befonds word, behoort ons aan al die mense van die ons land. Ons wíl dus toeganklik vir almal wees – in ʼn taal wat die meeste mense kan praat, en dit is Engels."

Só skryf prof Wim de Villiers in ʼn meningsartikel in Die Burger vandag (19 Oktober 2019) na aanleiding van die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 10 Oktober dat die Universiteit Stellenbosch (US) se 2016 Taalbeleid “grondwetlik geregverdig" is. Klik hier vir die gepubliseerde artikel op Netwerk 24, en lees die volledige teks hieronder.

* * *

Die US en Afrikaans: die feite

Deur Wim de Villiers

Stellenbosch is nie ʼn Afrikaanse universiteit nie. Ook nie ʼn Engelse of 'n isiXhosa-universiteit nie. Die Universiteit Stellenbosch (US) is ʼn meertalige Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling van wêreldgehalte – een van min in hierdie kategorie en iets wat bitter nodig is in 'n land met 11 amptelike tale. Dit is hoe ons verseker dat taal nie 'n hindernis tot toegang is nie, maar 'n hulpmiddel vir akademiese sukses – veral in 'n diverse opvoedkundige konteks.

Só het ek in 2015 by my inhuldiging gesê en dit is steeds die geval. Die US kan nie meer slegs ʼn Afrikaanse universiteit wees nie, soos in ʼn vroeë stadium in ons geskiedenis toe ons nog ʼn “volksuniversiteit" was. As openbare instelling wat onder meer met belastingbetalersgeld befonds word, behoort ons aan al die mense van die ons land. Ons wíl dus toeganklik vir almal wees – in ʼn taal wat die meeste mense kan praat, en dit is Engels.

Nie net Engels nie

En tog is die US nie ʼn uitsluitlik Engelse universiteit nie. Ons gebruik steeds Afrikaans in onderrig, administrasie en die leef- en werksomgewings van studente en personeel. En ons beywer ons vir die ontwikkeling van isiXhosa. Elkeen van dié tale het ʼn vaste plek aan US en geniet dieselfde status. Wat wel verskil, is die hoeveelheid wat gebruik word, en dit word deur die konteks bepaal.

Die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 10 Oktober 2019 het bevestig dat ons huidige Taalbeleid, wat in Junie 2016 met die instemming van die Senaat deur die Raad goedgekeur is en in Januarie 2017 in werking getree het, “grondwetlik geregverdig" is. Dit tref die regte balans in die spanningsveld tussen gelyke toegang (Artikel 9 en 29.1.b van die grondwet) en die reg op onderrig in die taal van jou keuse (Artikel 29.2).

Wat beteken dit? Kortom, deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons vir meer mense toeganklik is, en dit maak deure vir ons studente oop – plaaslik en internasionaal. Tog is daar steeds ʼn beduidende behoefte aan onderrig in Afrikaans, daarom sit ons dit voort.

Plek vir Afrikaans

Die US se Taalbeleid maak vir drie modusse in voorgraadse leer en onderrig voorsiening – elk met ʼn plek vir Afrikaans:

  • Parallelmedium: afsonderlike lesings in Afrikaans en Engels waar dit redelikerwys uitvoerbaar en pedagogies verantwoordbaar is om meer as een klasgroep te hê;
  • Dubbelmedium: die gebruik van sowel Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep, waartydens alle inligting ten minste in Engels oorgedra word, met beklemtoning en opsomming in Afrikaans; en
  • Enkelmedium: lesings in slegs een taal, ondersteun deur intydse tolking na die ander taal asook gefasiliteerde leergeleenthede in albei tale.

Hierbenewens moet alle US-moduleraamwerke en -studiegidse in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel word, en kan assesserings, toetse en eksamens in enige van dié tale afgelê word.

Inklusiewe meertaligheid

As dit ingewikkeld klink, is dit omdat dit is – en duur. Dit mag verklaar hoekom sommige ander voormalig Afrikaanse universiteite volledig oorgeskakel het na Engels. Die US bly egter verbind tot inklusiewe meertaligheid, want ons “hou rekening met die diversiteit van ons samelewing – wat ons taaldiversiteit insluit – sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê."

Ons is bereid om beduidende koste aan te gaan, maar nie om klein klasgroepe in parallelmediumstrome te verdeel nie – veral nie as daar in die senior studiejare weinig behoefte daarvoor is nie. Die Taalbeleid verwys ook na die verskeidenheid van leerondersteuning wat onder meer in Afrikaans gebied word ter aanvulling van lesings.

Ons Taalbeleid verduidelik “die US gebruik Engels gereeld, maar nie uitsluitlik nie, in sy akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste omdat sprekers van die verskillende Suid-Afrikaanse tale dié taal gebruik om met mekaar te kommunikeer, en dit beduidende akademiese, bedryfs- en internasionale waarde het."

Maar Afrikaans word óók gebruik, want dié taal “het oor dekades heen 'n akademiese repertoire ontwikkel waartoe die US beduidend bygedra het, en die toepassing en verryking van die akademiese potensiaal van Afrikaans is 'n manier om 'n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig."

Goed, dit is weliswaar net die beleid. Hoe word dit in die praktyk toegepas? Ek raadpleeg twee bronne: implementeringsverslae en opnames onder studente.

Implementeringsverslae is ʼn meganismes om te verseker die Taalbeleid word korrek toegepas. Dit word gereeld deur elke fakulteit, steundiensomgewing en die Studenteraad ingedien – uiteindelik vir oorsig deur die US se hoogste liggaam, ons Raad.

Die jongste verslag is in Junie vanjaar oorweeg. Die Taalkomitee van die Raad was “beïndruk met die volwassenheid" waarmee fakulteite die Taalbeleid implementeer. Daar was weliswaar enkele onbedoelde afwykings, maar fakulteite het dit self hanteer en opgelos.

Voorkeur

Wat opnames betref, was daar al drie sedert die nuwe Taalbeleid in werking getree het – die jongste in Augustus vanjaar. Die meerderheid van die studente wat deelgeneem het, het aangedui hul huistaal is Afrikaans (52%), gevolg deur Engels (35%). Nietemin het hulle ʼn voorkeur uitgespreek vir Engelse lesings (66%), tutoriale (63%) en leermateriaal (71%). Die meeste van die oorblywende studente het gesê hulle verkies om deur middel van Afrikaans én Engels te leer.

In die leef-, ko-kurrikulêre en administratiewe omgewing het die oorgrote meerderheid (meer as 80% het saamgestem of sterk saamgestem) gemaklik gevoel om hulle in hul voorkeurtaal uit te druk, en ook ingesluit by kommunikasie in hierdie omgewings gevoel.

Wêreldklas

Die beskuldiging dat die US op verengelsing ingestel is, is vals. Ons gebruik wel Engels om die US toeganglik te maak, want ons visie is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word.

Ons streef daarna om ʼn geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, gesprek bevorder en tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid verbind is – ʼn instelling met ʼn uitwaartse, internasionale en toekomsgerigte fokus. Ons meertalige Taalbeleid stel die US in staat om in ons streek, land, vasteland en internasionaal relevant te bly.

Nasionale bate

Ons glo dít is hoe ons die land ten beste kan dien – as ʼn nasionale bate wat toeganklik vir almal is, nie ʼn insulêre enklawe wat agter ʼn taalgordyn toegetrek is nie. ʼn Wêreldklas universiteit met 'n eersterangse akademiese aanbod wat sy graduandi toerus om in 'n diverse wêreld te gedy.

Ek woon tans ʼn internasionale onderwyskonferensie in China by, ʼn land met meer as 2 000 universiteite en kolleges – waaronder talle onder die bestes ter wêreld. Wat opval, is dat Engels hier toenemend as navorsings-, onderrig- en omgangstaal gebruik word – tesame met Chinees.

Aan die US bly Afrikaans een van ons twee onderrigtale – om grondige pedagogiese redes. Sowat 8 000 studente dui jaarliks steeds aan Afrikaans is die medium wat hulle ten beste toegang tot die US se kennisbronne gee, en dit is hoekom ons ons aanbod daarin voortsit – op innoverende maniere wat niemand uitsluit nie. Die aantyging dat ons Afrikaans in die rug steek, is dus ook onwaar.

Inklusiewe wortels

Die feit dat die US benewens Afrikaans ook Engels en isiXhosa gebruik, beteken nie ons het ons wortels uitgetrek nie. Inteendeel, namate ons meer toeganklik raak, skiet ons dieper wortel in Afrika, raak ons deel van ʼn wêreldwye woud, en dra ons vrug vir ál “ons mense", inklusief gedefinieer.

* Prof Wim de Villiers is die rektor en visekanselier van die US. Hy is onlangs vir ʼn tweede vyfjaar ampstermyn aangestel, wat in April 2020 begin.