Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meesters in Klimaatsverandering
Outeur: CTL / SOL
Gepubliseer: 17/10/2019

​​

Klimaatslim

Dr Melanie Skead, Direkteur van SOL, het 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling  van 'n Meestersgraad oor klimaatsverandering en het onlangs op RSG se radioprogram, Die Kwik Styg,  daaroor gesels. RSG het die Meestersgraad beskryf as 'n bemagtigende bydrae tot meer begrip en kennis rondom klimaatsverandering, en die ontwikkeling en bemagtiging van 'n nuwe generasie navorsers en kundiges om Suid- sowel as suider-Afrika meer klimaatslim te maak.

Die meestersgraad se ontwikkeling is afgeskop deur die Southern African Regional Universities Association (SARUA). Dit het ten doel om die nuwe generasie navorsers, praktisyns en besluitnemers in klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling in die suider-Afrikaanse streek te onderrig en op te lei.

 

Behoeftebepaling vir so Kurrikulum

 

Dr Skead het aan RSG verduidelik dat SARUA 'n navorsingstudie en behoefte bepaling onderneem het om die kapasiteit vir klimaatgerigte navorsing in die tersiere onderwyssektor van 12 Suider Afrika lande vas te stel. Die studie het verskeie dissiplines en rolspelers buite die akademiese konteks in ag geneem, soos regerings, besighede en die indiensnemingsektor, asook navorsings- en gemeenskapsorganisasies.

Die oorhoofse doel van die studie was om dieper insig te kry in die Suider Afrikaanse kapasiteit om klimaatverandering aan te spreek deur relevante navorsing en nagraadse studierigtings. Daar is vasgestel dat baie min akademiese programme spesifiek op klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling fokus, daarom is besluit om so 'n kurrikulum te ontwikkel.

Die eerste stap was vir die SARUA Curriculum Innovation Network om befondsing beskikbaar te maak en navorsingsvoorstelle aan te vra. Die Universiteit van Kaapstad se African Climate and Development Initiative (ACDI) het die voortou geneem en verskeie ander universiteite genader vir samewerking. Daaruit is 'n konsortium gevorm wat 7 universiteite van 5 Suider Afrika lande (Suid Afrika, Zimbabwe, Mauritius, Tanzania, Mosambiek) ingesluit het om die kurrikulum te ontwikkel. Die projekspan het dus binne die konteks van die befondser se riglyne begin om 'n moontlike kurrikulum raamwerk te konsepsualiseer (doelwitte, leer uitkomste, krediete, kern en keusemodules, aanbiedingsmetodes, assessering en navorsingskomponent). 'n Belangrike stap was om potensiele werkgewers (privaat en publieke sektore) in elke deelnemende land te nader om 'n duidelike beeld te kry van die kennis en vaardighede wat studente behoort te hê wanneer hulle gradueer.  

 

 Die Teikenmark

Die kurrikulum is gemik op universiteite, aangesien dit op meestersgraadvlak (NQF9) aangebied word. 'n Aspek wat die program redelik uniek maak is dat studente uit 'n wye verskeidenheid dissiplinêre agtergronde kom, byvoorbeeld Natuurwetenskappe, Ekonomie, Regte en Sosiale Wetenskappe. Hierdie studente werk saam binne die navorsing en leerprosesse en dosente uit die verskeie vakgebiede bied saam die kurrikulum aan. Klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling kan nie net uit een vakrigting aangespreek word nie, dit het 'n impak op die hele mensdom.

 

Die program word deur die Wes-Kaapse departement van landbou ondersteun.

 

Kriteria met die Saamstel van die Kurrikulum

 

SARUA het vereis dat die kurrikulum moet voldoen aan die volgende:

  • 'n Oorhoofse konsepsuele raamwerk bekragtig deur resensie en betrokkenheid van netwerke in elke deelneemende universiteit / land.
  • Kurrikulum ontwerp in die vorm van 3 kern en 4 keusemodules met riglyne for aanpassing van die kurrikulum vir plaaslike behoeftes en verskille in akkreditasie vereistes. 
  • Inter- en transdissiplinariteit as ontwerpbeginsels.  
  • 'n Sterk fokus op groepwerk en navorsingsvaardighede asook 'n balans van teorie en praktyk.
  • 'n Kurrikulum wat in as geheel of as individuele modules aangebied kan word sonder enige verdere kostes in die sin van oop toegang vir enige universiteit wat die kurrikulum wil aanbied.
  • Om deur die algehele proses ook 'n bydrae te lewer tot kurrikulum en onderrig ontwikkeling in Suider Afrika op tersiêre, nagraadse vlak.
  • Die ontwerp van 'n aanlyn platform vir onderrig en leer asook leermateriaal wat toeganklik is vir studente.

 

Streek en Samewerking

Een van die voordele van die proses was die wisselwerking tussen universiteite se kurrikulumkenners.  Die oorwegings van en vereistes vir Suid-Afrikaanse Universiteite  verskil soms redelik baie van dié van ander universiteite in Afrika, in terme van akkreditasie vereistes. Daar is byvoorbeeld redelike groot verskille in die getal krediete vir 'n Meestersgraad.  In Suid-Afrika het 'n MSc 120-180 krediete, waar 1 krediet gelyk is aan 10 leer en onderrig ure.  Mauritius se MSc grade het agter 36-45 krediete, en 1 krediet is gelyk aan 15 onderrigure of 30-45 ure se praktiese werk. In terme van kurrikulumontwerp beginsels was daar nie groot verskille nie en die hele span het saamgestem oor die hoofonderwerpe wat aangespreek moet word, behalwe dat Suid-Afrikaanse kurrikula dalk meer fokus op sosiale geregtigheid as in die ander lande.

 

Inhoud van die Kurrikulum

 

Dit sluit 'n totaal van sewe modules in plus 'n navorsing projek (33 – 50% van totale krediete). Die drie verpligte modules fokus op kern konsepte in klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling, transdissiplinêre denke en vaardighede en die bevordering van inisiatiewe wat relevant, sosiaal inklusief, omgewingsvriendelik en veerkragtig is. Vier keusemodules sluit 'n wye verskeidenheid onderwerpe in, byvoorbeeld landbou, voedselsekuriteit, ekosisteme, stedelike ontwikkeling en sosiale geregtigheid.

 

 

Dosente van 22 Universiteite is opgelei om die kurrikulum te gebruik. 'n Opname in Augustus 2018 het getoon dat  stadium 8 universiteite die kurrikulum in geheel of gedeeltelik aanbied: Mulungushi Universiteit, Zambië;  Bindura University of Science Education, Zimbabwe; Universiteit  van Dodoma, Tanzania; Universiteit van Mauritius; Universiteit  van eSwatini; en Lilongwe University of Agriculture and Natural Resources, Malawi.  In Suid-Afrika is dit net die Universiteit van Kaapstad  se African Climate and Development Initiative (ACDI) wat die nuwe kwalifikasie aanbied. ​

Universiteit Kaapstad (ACDI) registreer tussen 10 en 20 students elke jaar en so ver het 59 studente gegradueer.  Volgens die 2018 opname, het die universiteite in die ander Afrika lande klasse van tussen 17 tot 34 studente wat later in 2019 sal begin afstudeer.

 

Opwinding

 

Vir Dr Skead is dit opwindend dat 'n kurrikulum wat op so 'n lewensbelangrike kennis area fokus ook vir ons geleentheid gebied het om saam met kollegas in ander Suider Afrikaanse lande 'n dinamiese leer proses te volg in terme van die tipe kurrikulum wat ons nodig het in die 21ste eeu, in Afrika. Die interaksie met so 'n groot groep akademici en blootstelling aan die uitdagings in ons buurlande maak 'n mens se oë vinnig oop in terme van ons eie konteks. Die mense van Afrika is kreatief en bewys dat ons ons eie uitdagings kan aanspreek deur samewerking en die uitruil van kennis.

 

Dr Skead het luisteraars van RSG aangemoedig om nie die probleme van hierdie geslag oor te laat aan die volgende geslag om op te los nie. “Ons moet nou begin om anders te dink en te doen sodat hulle 'n aarde sal hê om te bewoon en op te floreer. As ek 'n Afrika gesegde mag gebruik – 'Die wereld behoort nie aan ons nie, die aarde is nie ons s'n nie. Dit is 'n waardevolle skat wat ons bewaar vir toekomstige generasies'. Mag ons hierdie skat waardig wees."