Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet nog ’n 2019 Voortreflike Onderrig-wenner van Ingenieurswese
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 17/10/2019

​Dr Robbie Pott, 'n senior dosent by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese, sê dit is baie bevredigend om as een van die 12 wenners van die US se Toekennings vir Voortreflike Onderrig vir 2019 vereer te word.

Hy het met 'n toekenning in die “Ontwikkelende Opvoeder"-kategorie weggestap en sê dit is 'n bewys dat die US voortreflike onderrig aanmoedig, ondersteun en erken.

“My hoofdoel is om 'n nuuskierigheid en 'n fassinasie by my studente te kweek. Ons het toerusting tot ons beskikking wat die wêreld kan verander en nuwe goed kan skep – ek hoop ek kan hulle aanmoedig om te besef dat hulle toegang daartoe het en hulle leer hoe om dit te gebruik," sê Pott.

Die toekennings, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee kategorieë, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder" en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje indien waarin hulle hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteensit: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.

“Ek is nie net 'n opvoeder nie – ek het gekies om in die akademie te bly omdat ek in die invloed wat 'n navorser en 'n dosent kan hê, glo. Ek belê baie tyd en energie in my navorsing en my nagraadse studente. Ek geniet ook my voorgraadse studente en skep behae in die uitdaging om hulle ontmoet waar hulle is en hulle by die ingenieurswese in te lyf, aangesien dit hulle is wat ons land in die toekoms sal moet bou."

Pott beskryf dit as 'n voorreg om met jongmense te werk. Die dosent sê hy is al by onderrig betrokke vandat hy sy voorgraadse studies in 2004 voltooi het, toe hy as 'n studieleier in beide Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk (VK) begin werk het.

“Ek was bevoorreg genoeg om die geleentheid te kry om my doktorsgraad in die VK te doen en die idees en vaardighede wat ek daar geleer het, terug te bring Suid-Afrika toe. Ek was eers 'n hulpdosent voor my aanstelling as dosent op Stellenbosch," vertel hy.

Pot sê dit is uiters belangrik dat jy jou eie onderrig sal evalueer, asook die proses waardeur jy gaan as deel van die toepassing. Hy sê hy heg ook baie waarde aan terugvoer van sy eweknieë en kundiges op sy vakgebied, aangesien dit jou help om jou onderrigvaardighede en leermetodiek te slyp en te verbeter.

“Die oorgang van slegs navorsingswerk doen tot die behartiging van 'n volledige navorsingsprogram saam met nagraadse studente, terwyl ek terselfdertyd moes toesien dat my voorgraadse onderrig trefkrag het, was nogal moeilik. Dit is maklik om op die een of die ander te fokus, maar gelukkig geniet ek albei."

Hy sê die toekenning herinner hom net weer hoe belangrik onderrig vir hom is en dit gee hom nuwe ywer vir sy werk met sy voorgraadse studente.

Wanneer hy nie klasgee nie, besoek Pott graag ontsnapkamers saam met sy vriende. Dit behels probleemoplossing en spanwerk.

*Bogenoemde kandidaat sal sy toekenning by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.

 ​