Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW lui nuwe era in met onthulling van Fakulteitshandves
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 14/10/2019

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag sy Fakulteitshandves onthul – ʼn eerste vir ʼn fakulteit van dié instelling.

Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het gesê: “Vandag betree hierdie 63-jarige Fakulteit ʼn nuwe era. Deur hierdie Handves erken ons waar ons vandaan kom, maar nog belangriker, ons verbind onsself tot voortgesette transformasie soos gerig deur die waardes van ons Fakulteit en instelling, asook deur dié wat in die Grondwet verskans is."

Die FGGW-handves, wat langer as 18 maande geneem het om te finaliseer, is ʼn belofte van sy personeel en studente om inklusiewe, regverdige en vriendelike omgewings in elke aspek van daaglikse interaksies te skep. Dit dien as ʼn gids vir gedrag en ʼn instrument om te help om almal vir hul optrede verantwoordbaar te hou.

“As ʼn dinamiese entiteit neem ons die voortou om ons verbintenis tot verandering te verwoord. Hierdie Fakulteit streef die vestiging van ʼn institusionele kultuur na wat die ontwikkeling van ʼn diverse studente- en personeelkorps verwelkom, vier en steun. Ek is oortuig die fasilitering van ons voortgesette reis na positiewe persoonlike en institusionele transformasie sal voordele vir alle betrokkenes bly oplewer," het Volmink gesê.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het die bekendstelling van die FGGW-handves verwelkom: “Dit help ons met ons strewe om ʼn getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, gesprek bevorder en tot demokrasie, menseregte en maatskaplike geregtigheid verbind is."

Die Handves is ontwikkel onder die vaandel van die Dekaan se Raadgewende Komitee oor Transformasie van die FGGW, wat in 2016 gevestig is. Die Handves is die Fakulteit se verbintenis tot die viering van alle vorme van diversiteit op die Tygerberg-kampus en die ontwikkeling van bemagtigende omgewings in beide die akademiese en kliniese konteks. Die Handves erken die belangrikheid van al sy belangegroepe en dit is ʼn onderneming om, onder meer, wedersydse respek en menswaardigheid te bevorder, erkenning te verleen aan die geleefde ervarings van die gemeenskappe wat ons dien, etiese navorsing te doen en die omgewing te beskerm.

Me Khairoonisa Foflonker, voorsitter van die Handves-taakspan, het gesê die Handves is deur ʼn reeks betekenisvolle en kragtige skakelings met personeellede en studente ontwikkel. “Ondanks gesonde en respekvolle meningsverskille is konsensus telkens bereik. Studente en kollegas het met die formaat en inhoud van die Handves omgegaan op ʼn manier wat die waardes van inklusiwiteit, integriteit en omgee weerspieël het."

Die FGGW-handveskunswerk, wat die 'talle hande binne ʼn hand'-simbool uitbeeld en wat orals op die Tygerberg-kampus te sien is, is voltooi met die hulp van die US se Visuele Regstellingskomitee en veral van prof Elmarie Constandius van die US se Departement Visuele Kunste, ook ʼn lid van die komitee. “Die oorkoepelende boodskap van die talle hande binne ʼn hand-simbool is dié van verbintenis en samewerking en ek dink dit hou veel goeds vir die toekoms van hierdie instelling in," het Constandius gesê.

Kliek hier om die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-manifes te lees.


Onderskrif: Prof Jimmy Volmink, dr Ronel Retief, Khairoonisa Foflonker en Ascentia Seboko.

Foto-erkenning: Wilma Stassen