Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USLoopbaankafee praatjie: Opvoeding is sleutel, meen alumnus
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 14/10/2019

Jy sal waarskynlik sy stem herken van SAfm, maar wanneer Songezo Mabece, regs-alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), nie besig is om kwessies soos sosiale geregtigheid, ekonomie en politiek te dissekteer op die radioprogram The View Point nie, dien hy as Regsverteenwoordiger en Uitvoerende Assistent van die Kommissaris van die Kompetisie Kommissie van Suid-Afrika

Op Vrydag 18 Oktober sal Songezo die genooide spreker wees by die Loopbaankafee wat aangebied word deur die afdeling Alumni-betrekkinge in die Lettere-gebou op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat tussen 13:00 en 14:00.  As jy 'n voorgraadse of nagraadse student is en die geleentheid wil bywoon, besoek asseblief http://bit.ly/LoopbaankafeeSMabece om jou plek te bespreek of kontak Marvin Koopman by marvin@sun.ac.a voor Woensdag, 16 Oktober.

Opvoeding het altyd 'n groot rol gespeel in Songezo se lewe. Hy het in Sada in die voormalige Ciskei (nou Oos-Kaap) grootgeword en het sy skoolopleiding ontvang aan Selborne Primêre Skool en Selborne Kollege voordat hy aan die Fort Hare Universiteit 'n LLB regsgraad behaal het. In 2017 het hy 'n LLM in Internasionale Handelsreg behaal aan die Regsfakulteit van die US. Dit was nadat hy 'n kortkursus in Kompetisie-reg aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het asook die Sertifikaat in Algemene Bestuur in die Algemene Bestuursprogram van die IEDC-Bled Bestuurskool in Slovenië die vorige jaar.

Dit is hierdie onverbiddelike strewe na kennis wat Songezo hoop om te laat ontvlam in die harte van studente aan die US soos hy sy lewe en loopbaan-pad met hulle deel tydens sy praatjie komende Vrydag.

“Wanneer dit kom by universiteit toe gaan het ek nie 'n keuse gehad nie. Mama en Tata was onderwysers, en Sisi en Bhuti het ook onderwys studeer en onderwysers geword. Onderwys loop diep in die familie.  Om nie verder te studeer nie sou van my 'n swartskaap gemaak het, aangesien almal in die gesin tersiêre kwalifikasies het," verduidelik hy.

“Die eerste jaar op universiteit het my oë op verskillende wyses oopgemaak en dit was die begin van my reis na selfontdekking," sê Songezo, en voeg by dat dit iets is waarop hy in meer besonderhede sal ingaan tydens sy praatjie.

Sy familiegeskiedenis en sy strewe om ander aan te moedig om kennis te soek is wat hom ook inspireer om anoniem by te dra tot die skool- en universiteitsgelde van verskeie leerders en studente in Suid-Afrika.

As 'n leerder was Songezo 'n kranige debatteerder, hardloper en rugbyspeler, aktiwiteite wat hy voortgesit het by Fort Hare. Later moes die sportman in hom terugstaan vir debat by Fort Hare en daarna ook by die US.

“Dit was alles in die naam van aktief wees en mense ontmoet. Debat is wat ek die langste gedoen het en dit het my oor die lengte en breedte van die land geneem, waar ek gelukkig was om mense te ontmoet wat vandag nog my vriende is. Op een stadium was ek 'n nasionale kampioen nadat ek aangewys is as die beste spreker by die Suidelike Afrika Nasionale Universiteite Debatkampioenskap wat by Rhodes Universiteit aangebied is in 2007."

Sedert hy aan die US gegradueer het, het Songezo gewerk by die prokureursfirmas Cliffe Dekker Hofmeyr en Bagraims in Kaapstad, Tralac in Stellenbosch, die Konstitusionele Hof in Johannesburg, die Wêreldbank in Washington DC in die VSA en die Kompetisie Kommissie van Suid-Afrika. Maar, erken hy, ten spyte van al die suksesse was dit 'n “uitdagende reis" wat hom baie geleer het van die wêreld van werk.

​“Terwyl daar uitdagings was, het niks in my loopbaan vir my as 'n verrassing gekom nie. Ek wou altyd 'n prokureur en omroeper word, maar ek het net nie gedink dat die uitdagings op my pad om my te bring tot waar ek vandag is soveel sou wees nie."

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om 'n platform te skep waar alumni met die universiteit kan skakel op 'n ander wyse deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente voor te berei vir die beroepe wat hulle verlang.

Vir meer inligting oor die Loopbaankafee, volg die Alumni Betrekkinge Facebook-blad by www.facebook.com/stellenboschalumni en die US Facebook-blad by www.facebook.com/stellenboschuniversity. Om by woon, RSVP by http://bit.ly/LoopbaankafeeSMabece of kontak vir Marvin Koopman by marvin@sun.ac.za voor Woensdag, 16 Oktober.

Twee studente kan elkeen 'n sitplek aan die eettafel van Songezo wen die aand van die Loopbaankafee deur 'n motivering te skryf en te stuur aan marvin@sun.ac.za om te verduidelik hoekom hulle dink hulle die beste kandidaat is om te baat by 'n persoonlike gesprek met Songezo.   

Foto: Songezo Mabece, Universiteit Stellenbosch alumnus, prokureur en SAfm radio-omroeper, is die volgende spreker by die Loopbaankafee op 18 Oktober.