Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘n Weersin in onsin
Outeur: Afdeling Navorsingsontwikkeling | Division for Research Development
Gepubliseer: 07/10/2019

Joernalis. Dosent. Ombudsman. Skrywer. ‘n Man met ‘n besliste weersin in onsin. Een wie se besinnings oor billikheid en reg of verkeerd gegrond is in die Suid-Afrikaanse perskode. Dìs in breë prof George Claassen, uittredende direkteur van CENSCOM, ‘n sentrum binne die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek wat wetenskap en tegnologie binne die sfeer van massakommunikasie bestudeer.

Prof Claassen is die volgende spreker in die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Forward with Research Impact-lesingsreeks. Hy sal op 9 Oktober om 13:00 in die Wilcocksgebou (kamer 1012) praat oor hoe joernaliste skynwetenskap en kwaksalwery eties moet hanteer.

Claassen is al by die vier dekades ‘n mediaman en ‘n kenner oor veral wetenskapsjoernalistiek en media-etiek. Hy’t in Middelburg op die Hoëveld grootgeword in die huis van ‘n wiskundeonderwyser. Sy een broer het ‘n chemiese ingenieur geword, sy ander (die oud-Springbok rugbykaptein Wynand Claassen) ‘n argitek en sy suster ‘n onderwyseres in Afrikaans. Tuis kon die Claassen-kinders elke dag drie verskillende koerante van hoek tot kant deurlees. Dit het ‘n kultuur van kritiese denke en ingelig wìl wees by Claassen gekweek.

“Die eerste basiese ding is dat joernaliste (én wetenskaplikes) nuuskierig moet wees. Einstein het gesê dis die soektog na wat die werklikheid is. Jy vind dit net as jy nuuskierig is en vrae vrae,” reken hy.

Na sy aanvanklike regstudies aan die US en ‘n meesstergraad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Pretoria het Claassen ‘n doktorsgraad in Vlaamse letterkunde aan UNISA behaal. In 1974 het hy by die nuutgestigte dagblad Beeld ingeval, en daar tot 1982 as ondersoekende joernalis gewerk. In die 2000’s was hy adjunk-redakteur van Die Burger in die Kaap. Hy’t lank ‘n wetenskapsrubriek geskryf en was sewe jaar lank die koerant se wetenskapredakteur, en praat steeds gereeld op RSG oor verwante sake. Hy’t ook ‘n roman en talle nie-fiksieboeke agter sy naam.

En wat was sy eerste nuusstorie ooit?

“Oor die hofverskyning van die ontkleedanseres Glenda Kemp en haar luislang Oupa,” glimlag Claassen net.

Al was dié artikel net ‘n vingerlengte lank, het dit darem die volgende dag op die voorblad van Beeld se Kaapse susterskoerant geland.

Hy’t joernalistiek gepleeg in ‘n era voordat e-pos of SKYPE beskikbaar was en nuusmense maklik-maklik vrae aan plaaslike én oorsese kenners kon stuur. Die Internet was nog nie eens ‘n oorweging in Suid-Afrika nie. Daar was geen Google Scholar of webwerwe wat persverklarings versprei en sodoende joernaliste outomaties op datum hou oor die jongste navorsingsartikels nie.

“Joernaliste besef nie hoe maklik het hulle dit vandag het in terme van hul toegang tot inligting nie. Destyds moes jy baie meer spitwerk doen. Jy moes uit jou kantoor uit gaan. Jy kon nie telefoonjoernalistiek of Google joernalistiek beoefen nie,” verduidelik Claassen.

So verduidelik hy in sy dolleë kantoor in die solder van die US Departement Joernalistiek. Hy het dit ontruim om plek te maak vir sy CENSCOM-opvolger, Nathan Geffen, wat ook steeds sal aanbly in sy pos as redakteur van die internetnuusblad GroundUp.

Wetenskapsjoernalistiek in Suid-Afrika

Claassen se eie loopbaan in die akademie het in die laat 1980’s begin. Hy het vier jaar lank verskillende Afrikaanse taalvariasies by die Suid-Afrikaanse Raad vir Geestesnavorsing (RGN) nagevors. Daarby het hy die eerste van sy drie uitgebreide navorsingsbesoeke aan die VSA onderneem.

Gedurende sy RGN-jare het hy die eerste keer ‘n sessie aangebied oor die waarde wat wetenskaplikes daaruit kan put om hul bevindinge danksy die media met die publiek te deel.

Tussen 1989 en 1992 was hy hoof van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se Departement Joernalistiek. Daar het hy informeel begin werk aan ‘n kurrikulum vir die dosering van wetenskapsjoernalistiek. Dié het hy met mening gedryf toe hy in 1993 as voorsitter by die US se Departement Joernalistiek aangesluit het om die nagraadse joernalistiekprogram tot 2000 te bestuur. Die Klas van 1994 was die proefkonyne vir wat uiteindelik die eerste honneursmodule in wetenskapsjoernalistiek in Afrika sou word Claassen het sedertdien wêreldwyd oor die dosering van die dissipline gekonsulteer, en het ook die skryf van ‘n module daaroor vir UNESCO gedryf.

Die dissipline is sedert 1995 ook tot meesters- en PhD-vlak by die US uitgebrei, en is een van Claassen se blywende nalatenskappe.

“Meer as 40 M-studente het al intussen in wetenskapsjoernalistiek gespesialiseer, en ‘n hele paar PhD-studente ook. Want die behoefte in Suid-Afrika is daar,” vertel Claassen.

Hy reken egter sonder omhaal dat die wetenskap in alle vorme “gruwelik” in die plaaslike hoofstroom-media afgeskeep word. Al die spesialis-joernaliste wat eens aan ‘n toegewysde wetenskapslessenaar by ‘n koerant verbonde was, werk deesdae as vryskutskrywers.

“Dit bly een van die tragedies van die Suid-Afrikaanse media,” reken Claassen, wat jare al die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) se opleidingsbeen vir wetenskapsjoernalistiek lei.

Keelvol vir kwaksalwers

Na sy uittrede as CENSCOM-hoof sal Claassen sal steeds wetenskapsjoernalistiek en media-etiek aan die US doseer. In sy lesings kombineer hy graag voorbeelde uit albei sfere. Onder sy mees gebruikte woorde tel “kwaksalwery”, “skynwetenskap” en “onsinverklikker” (of “Baloney Detector”).

Hy sien rooi as hy net dink oor die dikwels onetiese manier waarop die media stories rapporteer oor homeopatiese middels, osoonklinieke en ander “wonderprodukte” wat sonder goed nagevorsde wetenskaplike bewyse aan verkoop word. Hy ag dit as bedrog.

“In die proses stel dit mense se lewens in gevaar,” reken Claassen.

“Die manier waarop joernaliste byvoorbeeld oor kwaksalwery rapporteer raak ‘n media-etiese kwessie. Dit is ook ‘n wetenskapskwessie,” wy hy uit oor ‘n onderwerp wat hy met gebruiklike erns benader.

CENCOM se organisasie in 2018 op Stellenbosch van die eerste internasionale kongres ooit oor kwaksalwery, pseudowetenskap en vals nuus was ‘n natuurlike uitvloeisel van sy professionele én akademiese belangstelling in die onderwerp.

Rol as ombudsman

Sy pligte as ombudsman vir die webwerf News24 en by die 90 gemeenskapskoerante van Media24 hou hom ook goed besig. Dit gee Claassen ‘n daaglikse kykie in die psige van mense. Keer op keer besef hy dat mense nie die werkinge van die media verstaan nie, maar dat klaers dikwels net wil voel dat iemand na hul griewe luister.

Is dit ‘n moeilike werk?

Soos dit ‘n goeie joernalis betaam, gebruik Claassen eerder iemand anders se mening om daarop te antwoord. Dit behoort aan Daniel Okrent, wat na ‘n plagiaatskandaal in die vroeë 2000’s deur die toonaangewende New York Times-koerant as die eerste “public editor” of ombudsman aangestel is.

“Hy’t gesê dis die moeilikste job wat hy nog ooit in sy lewe gehad het, baie moeiliker as om redakteur te wees, omdat jy dit van alle kante af kry. Jy moet in die middel staan, en jy moet luister,” soek-soek Claassen na die regte woorde. “Jy is die oor vir die luisteraar of die leser, vir die kyker, vir die ou wat kla, maar jy moet ook terselfdertyd die belange dien van die organisasie wat aangekla word. So jy moet as arbiter optree, en uitvind wie praat eintlik die waarheid.”

Dis wat hy aspirant-joernaliste altyd in die klas leer: Wees regverdig. Minimaliseer skade. Wees verantwoordbaar.