Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot hupstoot vir TBOO Kolleges
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 02/10/2019

Kolleges vir Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO) in Suid-Afrika het 'n groot hupstoot gekry met die bekendstelling van 'n internasionale vennootskap om vaardigheidsontwikkeling en werkskepping uit te brei in sektore wat van kritieke belang is, soos landbou en waterbestuur.

Die Stellenbosch Universiteit Waterinstituut (SUWI) en Maastricht School of Management (MSM) sal tesame die drie jaar lange projek, genaamd: “Strengthening Skills of TVET Staff and Students for Optimizing Water Usage and Climate Smart Agriculture in South Africa", bestuur. Hierdie projek van R27 miljoen word gefinansier deur die Nederlandse Universiteite se Stigting vir Internasionale Samewerking (NUFFIC), via die Nederlandse Ministerie vir Buitelandse Sake. Die ses TBOO Kolleges wat by die projek betrokke is, is Vhembe Kollege in Limpopo, Motheo Kollege in die Vrystaat, Nkangala Kollege in Mpumalanga, Northern Cape Rural College in Upington, Boland Kollege in die Wes-Kaap, asook Elsenburg Landbou-Opleidingsinstituut. Ander vennote sluit in AgriColleges International (ACI), die Academy of Environmental Leadership, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en die Departement van Water en Sanitasie.

By die bekendstellingsgeleentheid op 27 September 2019 by die Universiteit Stellenbosch, het Prof. Dipiloane Phutsisi, hoof van Motheo TBOO, in haar toespraak gesê dat TBOO Kolleges 'n sleutelrol speel in die oplossing van Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem: “Ons mandaat is om  'n vaardige en bekwame werksmag te lewer, maar ons worstel met verskeie uitdagings. Vandag is 'n stap in die regte rigting. Ons benodig sterk vennootskappe ten einde hierdie landskap te kan verander en te verseker dat ons graduandi aanstelbaar is."

In sy verwelkomingstoespraak het Prof. Leopold van Huysteen van die US die globale belang van volhoubare omgewingsbestuur beklemtoon: “Indien ons nie ons waterbestuurskwessies oplos nie, is ons in groot moeilikheid," het hy gesê.

Hy het ook die TBOO Kolleges bedank vir hulle bereidwilligheid om saam te werk: “In 'n vennootskap leer jy by jou vennoot, maar ook by die begunstigdes van 'n projek. TBOO Kolleges weet wat hulle doen en ken hulle mark. Ons benodig dringend vaardighede in die beheer en bestuur van water, grond en landbou in 'n waterskaars land soos ons s'n."

Samevattend het Mnr. Hans Nijhoff, projekbestuurder van MSM, gesê hulle rol is om die TBOO Kolleges in kontak te bring met groeisektore deur die optimalisering van watergebruik en klimaatslim landboupraktyke.  Dit sal gedoen word in samewerking met die US as hoof-kennisvennoot.

“Ons hoop om sáám werk te kan skep en volhoubare groei te verseker," het hy afgelsuit.

Vir meer inligting oor die projek, kontak, Mnr. Manuel Jackson, projekbestuurder by die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut, by 021 808 9561.​

Op die foto: 'n Hoëvlak afvaardiging  van ses van Suid-Afrika se kolleges vir Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO) het die bekendstelling van 'n drie jaar lange projek n hupstoot te gee, in vennootskap met die Stellenbosch Universiteit Waterinstituut (SUWI) en die Maastricht School of Management (MSM). Onder diegene wat die bekendstelling op 27 September 2019 bygewoon het, was, agter, van links na regs: Thato Ramaphakela (Nkangala Kollege), Cyril Mazibuku (Nkangala Kollege), TE Ntsieng (Motheo Kollege), Boesman Makae (Motheo Kollege), Manuel Jackson (SUWI), Clifford Riddles (Northern Cape Rural College), Cain Maimela (Nkangala Kollege),  Patrick Malima (Vhembe Kollege), Johan Klinck (Motheo Kollege), Nico Elema (SU), Joanna Fatch (SU), Sofoyiya Nokulunga (DHET), en Prof Leopold van Huysteen (US). Voor, van links na regs: Kentse Mathiba (DWS), Prof Dipiloane Phutsisi (Motheo Kollege), Nigel Olin (Motheo Kollege), Ernst Moller (Elsenburg), dr. Charon Buchner-Marais (SU), Laurika du Bois (ACI), Prof Peliwe Lolwana (WITS) en Hans Nijhoff (MSM).

Foto: Wiida Fourie-Basson