Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kongres stel student bekend aan die wêreld van chirurgie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 30/09/2019

​'n “Fantastiese geleentheid" en 'n “loopbaan-definiërende" ondervinding. Dit was hoe vierde-jaar mediese student, Shadé Breedt, haar week-lange bywoning in Augustus van die 48ste Wêreldkongres vir Chirurgie wat in Krakau, Pole plaasgevind het, beskryf het.

Die kongres, wat aangebied is deur die Internasionale Vereniging vir Chirurgie (ISS), het wêreldkenners in chirurgie byeengebring, en het 'n platform vir samewerking geskep in verband met toekomstige diagnostiese en chirurgiese uitdagings, asook pasiënt-georiënteerde oplossings.

Hierdie jaar was die eerste keer wat studente genooi is om die kongres by te woon as deel van 'n afvaardiging van die Internasionale Stigting van Chirurgiese Verenigings vir Studente (IASSS), die amptelike pre-spesialis vereniging wat aan die ISS geaffilieer is. Drie-en-twintig studente en pas-gekwalifiseerde dokters van 'n verskeidenheid lande, insluitende Suid-Afrika, Australië, die VK, Maleisië, Zimbabwe, Rwanda, Somaliland asook verskeie lande in Europa het deelgeneem.

Breedt het gesê dat dit 'n lewensveranderende geleentheid was om deel te kon wees van die kongres, wat bestaan het uit meer as 60 sessies en lesings aangebied deur wêreldkenners in hulle onderskeie velde.

“Dit was vir ons moontlik om interaksie te hê met 'n reeks wêreldbekende professionele mense wat in verskillende chirurgiese velde werksaam is. Ons het onderhoude met hulle gevoer, gehelp met die administrasie en die sosiale media vir die kongres. Ons het ook deelgeneem aan die sessies wat verband gehou het met die toekoms van chirurgie, en oor hoe ons die toekoms daarvan voorsien. Ons het geleenthede gehad om werkswinkels by te woon oor onder andere loopbaanbevordering en skryfkuns."

Breedt se bywoning van die kongres is meegebring deur haar bywoning van die jaarlikse simposium van die IASSS in Kaapstad in 2018, wat gesamentlik aangebied is deur die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad. “Na daardie simposium kon ek myself as 'n toekomstige chirurg sien."

Sy het aansoek gedoen vir uitvoerende-komitee lidmaatskap van die Universiteit Stellenbosch se Chirurgiese Vereniging (SUSS) en is as administreerder aangestel. Dit was deur die SUSS wat sy te hore gekom het van die Future Surgeons Programme by die Wêreldkongres.

“ʼn Mens moes aansoek doen met 'n navorsingsprojek, of bewys lewer van aktiewe betrokkenheid om verandering in die gemeenskap teweeg te bring. Ek het aansoek gedoen met my navorsingsprojek oor geriatriese trauma onder leiding van professor Elmin Steyn, hoof van die Afdeling Chirurgie by die Tygerberg-hospitaal. Ek het my CV ingestuur en is gekies."

Hoogtepunte van die reis, het sy gesê, was die baie vaardighede wat sy en haar eweknieë aangeleer het. Dit het die volgende ingesluit:  hoe om "op 'n wêreldwye skaal te netwerk", hoe om effektiewe onderhoude te voer,  hoe om navorsingsopsommings te skryf, en hoe om CV's te verfyn. “Ons het ook raad gekry oor hoe om vas te byt deur 12-uur skofte en dan nog te kan glimlag!"

'n Persoonlike hoogtepunt was om van die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog eerstehands te kon belewe. “Ek het die Gestapo-hoofkwartiere in Krakau besoek, asook die  Schindler's List Museum en die Auschwitz-konsentrasiekamp – 'n intense en gewaardeerde geleentheid."

Oor haar toekomsplanne, het Breedt gesê: “Ek het 'n intense belangstelling in neurochirurgie en trauma-chirurgie, maar na hierdie kongres, wat die belangrikheid van navorsing en akademiese chirurgie beklemtoon, sal ek daardie aspekte van geneeskunde oorweeg, met die oog daarop om van waarde te kan wees vir die breër gemeenskap."

'n Week voor sy na die kongres vertrek het, is Breedt aangestel as die SUSS voorsitter. “Ek is nou maar slegs 'n maand die voorsitter, maar ek wil graag heelwat implementeer van wat ek by die kongres geleer het. Deel van voorsitterskap sluit in om aan ander hierdie loopbaan-definiërende geleentheid te gee."




Onderskrif (bannierfoto): Die IASSS se Future Surgeons-afvaardiging saam met die nuwe ISS president, John Hunter. Shadé Breedt vyfde van regs. 

Onderskrif (foto 1): Shadé Breed saam met haar mentor, prof Elmin Steyn, by die 48ste Wêreldkongres vir Chirurgie. 

Onderskrif (foto 2): Die nuwe SUSS-komitee vir 2019/2020.