Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groentetuin koester rehabilitasie pasiënte
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 27/09/2019

Die terapeutiese voordele van tuinwerk en tyd wat deurgebring word in ʼn groen omgewing is welbekend, en nou begin die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum, 'n studentgedrewe primêre sorgfasiliteit op die Kaapse Vlakte, die vrugte pluk van sy eie groentetuin wat vroeër vanjaar begin is.

“Baie van ons pasiënte doen tuinwerk vir ontspanning of as ʼn werk, en ons het ʼn tuin nodig gehad vir gebruik in terapie met dié pasiënte," sê Maatje Kloppers, ʼn senior arbeidsterapeut en mede-bestuurder van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum.

Die rehabilitasiesentrum bied arbeidsterapie, fisioterapie en spraak-taal- en gehoorterapie aan, sowel as dieetkunde en primêre gesondheidsorg in samewerking met die Bishop Lavis-gemeenskapsdagsentrum, en die meerderheid van hierdie dienste word aangebied deur studente van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, onder toesig van personeel.

Volgens Kloppers is die groentetuin deur twee manlike vrywilligers begin wat voormalige pasiënte van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum is. “John Jackson en Adam Solomon is ywerige tuiniers en het aanvanklik probeer om 'n tuin aan die buitekant van die rehabilitasiesentrum met gryswater aan te lê tydens die Kaapse droogte. Hul pogings is egter in die wiele gery toe die meeste van hul produkte gesteel is voordat hulle kon oes. Ons het toe, sodra daar 'n mate van verligting van die droogte was, in Januarie vanjaar 'n houertuin in die vierkant van die rehabilitasiesentrum begin oprig," onthou Klopper.

Jackson en Solomon gebruik palethout om planthouers in verskillende groottes en hoogtes te bou (om pasiënte in rolstoele en pasiënte wat nie kan buk nie te akkommodeer) en is baie trots op hul oeste.

"Tuinmaak hou baie voordele in vir pasiënte met gestremdhede," sê Jackson. "Ek geniet dit om, saam met Adam, die pasiënte al die vaardighede te wys wat hulle met hul hande kan doen. Ek is dankbaar dat ek my passie vir tuinmaak kan uitleef en terselfdertyd ander by die rehabilitasiesentrum kan help."

Kloppers verduidelik dat die tuin vir individuele pasiëntbehandeling gebruik word. “Studente in arbeidsterapie leer die pasiënte aangepaste maniere om ná 'n gestremdheid te kan tuinmaak. Die betrokkenheid van ons pasiënte, sodra hulle sien dat dit 'n regte tuin is, en hul spontane idees oor hoe hulle tuis kan aanpas, is hoe ons weet dat ons hier 'n goeie ding beet het," sê sy. "Wat goed is om te sien is dat die studente ook leer by die pasiënte wat dikwels oor goeie tuinboukennis beskik. Dit lei tot 'n ware spanpoging om meer onafhanklikheid vir die pasiënt te kry."

Kloppers voeg by dat tuinmaak ingesluit is in die arbeidsterapie-kurrikulum as deel van die aktiwiteitstudie vir die eerstejaar-studente. “Ons werk saam met die Ukwanda Landelike Kliniese Skool in Worcester waar hul tuinier 'n oggendlesing vir die klas aanbied en hulle dan kom tuinmaak in Bishop Lavis in kleiner praktiese groepe. Die helfte van die klas het tot dusver al die ervaring gehad en hulle reaksie was ongelooflik – hulle is so ingenome met die aktiwiteit en geniet die interaksie met die tuiniers met gestremdhede, as deel van die ervaring."

Benewens die voorsiening van ʼn groen terapieruimte bied die tuin ook vars produkte wat gedurende die winter gebruik word om sop te maak vir die pasiënte. "Deur ons eie groente te produseer hoef ons nie geld in te samel vir bestanddele nie," sê Kloppers. “Dit is ons droom dat die tuin genoeg kos produseer sodat ons al die pasiënte wat kom vir afsprake by die sentrum kan voed."

Kloppers hoop dat die tuin in die toekoms vir alle beroepe in die rehabilitasiesentrum gebruik kan word, hetsy as behandelingsruimte of as 'n aktiwiteit om pasiënte se vaardighede in tuinmaak te verbeter.

"Ons beoog ook om 'n tuinklub te begin met lede van die gemeenskap wat belangstel in tuinmaak – 'n groep wat deur Adam en John gelei word om idees, saad en groente uit te ruil, en om lede van die gemeenskap aan te moedig om groente self te produseer en voedselveiligheid te bevorder," voeg sy by.

Foto-onderskrif: Studente, personeel en pasiënte van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum span saam by die groentetuin.

Foto-erkenning: Wilma Stassen