Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skitter by Loslitdagmiddagete
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 20/09/2019
Om die 25ste Loslitdag in Suid-Afrika te vier, het die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede en Transformasiekantoor sowel as die Stellenbosch Werksentrum vir Volwasse Persone met Gestremdhede op 6 September 2019 'n feestelike middagete aangebied. Die geleentheid het by die nasionale Loslitdagtema, “Tyd om te skitter", gehou. 

Dr Marcia Lyner-Cleophas, direkteur van die Eenheid vir Gestremdhede, het die geleentheid geopen. Sy het mnr Rustim Ariefdien, 'n “gestremdheidskenner by uitstek" en eregas by die middagete, spesiaal verwelkom. Mnr Ariefdien staan ondernemings by om persone met gestremdhede se talente en vermoëns optimaal te benut, en op die koop toe winsgewendheid uit te bou. Hy het vroeër die dag 'n toer van die US se Stellenboschkampus onderneem en met verteenwoordigers van die Universiteit ontmoet. 

Met stewige pryse op die spel, het die spanne wat aan die dag se aktiwiteite deelgeneem het soos gewoonlik volgens die tema aangetrek en met hulle uitrustings op die loopplank gespog. Departemente het boonop meegeding om te sien wie die meeste Loslitdagkaartjies kon verkoop. Uiteindelik is “The Ambassadors" as die bes geklede span aangewys, terwyl die Eenheid vir Gestremdhede die prys vir die meeste kaartjieverkope losgeslaan het. Ná die prysuitdeling is gaste na die Rooiplein waar hulle aangesluit het by 'n optog teen geslagsgebaseerde geweld – nóg 'n verdienstelike saak.  

Suid-Afrikaners het verlede jaar alle vorige rekords laat spat deur R31 miljoen vir persone met gestremdhede in te samel. Hopelik sal die US-gemeenskap se pogings en bydraes vir Loslitdag 2019 die landwye totaal selfs verder opstoot!