Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
VINPRO EN UNIVERSITEIT STELLENBOSCH VERNUWE PROEFWINGERDE
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 20/09/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte met die Suid-Afrikaanse wynbedryfsliggaam Vinpro gesnoer om sy eksperimentele wingerde in ʼn wêreldgehalte terrein vir die oordrag van praktiese vaardighede te omskep.

Volgens 'n persverklaring deur Vinpro sal altesaam 4.92 ha nuwe wingerde vanaf Augustus 2020 onder die vaandel van die Welgevallen/Vinpro-wingerdprojek aangeplant word. Dit sal alle alle huidige wingerde vervang, met die uitsondering van ʼn kommersiële blok wat tans in gebruik is. Ses uiteenlopende eksperimentele wingerde sal gevestig word om spesifieke aspekte van wyndruifverbouing aan die studente en navorsers van die US se Departement Wingerd- en Wynkunde te demonstreer. Dit sluit ʼn blok gefokus op wynmaak in, asook opleistelsels, nuwe kultivars, klone en onderstokke, ʼn besproeiingsblok en ʼn tafeldruif-opleiprogram.

Die US se Fakulteit AgriWetenskappe befonds die projek en het Vinpro aangestel om dit oor die volgende drie jaar te implementeer as deel van die organisasie se Gen-Z Wingerdprojek. Dit het ten doel om kennisoordrag deur praktiese demonstrasies en wingerdproewe te fasiliteer.

“Deur met Vinpro saam te werk aan die Welgevallen-vernuwingsprojek het ons dit reggekry om die brug tussen die akademie en die privaatsektor oor te steek, en terselfdertyd ʼn platform vir innovasie en kreatiewe leer daar te stel," sê prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe.

“Dis ʼn voorreg vir ons as ʼn bedryf om saam te werk aan ʼn wêreldgehalte plek waar ons tersiêre studies in wingerd- en wynkunde op ʼn nuwe vlak kan leer. Ons sien ook uit na die sinergieë wat uit hierdie vennootskap sal vloei na ander areas van samewerking," sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Dr Benoit Divol, hoof van die US se Departement van Wingerd- en Wynkunde sê die hervestiging van die Welgevallen-wingerde val goed saam met ʼn meer vernuwende kurrikulum wat teorie en praktyk goed integreer.

“Die studente sal definitief baat vind daarby om prakties aan die verskeidenheid kultivars en tegnieke in hierdie nuwe wingerde blootgestel te word," sê hy.

Vir projekleier Francois Viljoen is dit belangrik dat wynmakers, wingerdkundiges en ander bedryfsrolspelers hul alma mater ondersteun deur hul kennis, praktiese leerervaring en netwerke met die volgende generasie te deel.

“Ons nooi graag enige insetverskaffers of ander bedryfsrolspelers om by die projek betrokke te raak deur hul kundigheid, produkte of dienste beskikbaar te stel," sê hy.

Insetverskaffers wat tot dusver aan boord gekom het sluit Bosman Adama, Fleury, Hexberg, Vititec en Voor Groenberg Kwekerye in.

Kontak Emma Carkeek by tel 021 276 0429 of e-pos emma@vinpro.co.za vir meer inligting.

  • Foto: Onderskrywers van die Welgevallen-wingerdvernuwing: Rico Basson (Vinpro), Francois Viljoen (Vinpro), Dr Benoit Divol (US) en Prof Danie Brink (US).

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn

Vinpro-kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0458

E-pos: wanda@wineland.co.za