Inwoners van die Goldfields-koshuis sal van 16 Oktober af hul nuwe, moderne halaal-vriendelike eetsaal kan geniet.
Die hoof van die Goldfields-koshuis, Renee Hector-Kannemeyer, sê die eetsaal se naam is Sada Ohms, 'n Khoi-San woord wat 'ons huis' beteken en is een van die vele maniere waarop die Universiteit Stellenbosch homself posisioneer as 'n instelling wat 'n transformerende studente-ervaring verskaf – met transformasie en inklusiwiteit as die kern.
Kannemeyer, sê die nuwe eetsaal behoort aan al die inwoners van die koshuis. Sy sê die naam is betekenisvol aangesien Goldfields die US se eerste koshuis vir bruin en swart studente was.
“Ons het aanbeweeg, aangesien die koshuis oor die jare meer divers geword met 'n demografie van 60% studente van kleur wat daar woon." Sy sê die naam van die eetsaal moes ooreenstem met hul visie vir Goldfields – om 'n verwelkomende, ondersteunende en innoverende gemeenskap te wees.
“Sada Ohms is nog 'n manier om studente te laat voel dat hulle saak maak en behoort; dit getuig ook van waar ons heen op pad is as 'n koshuis ten opsigte van transformasie. Studente het in die ou eetsaal gevoel hulle is 'n afgeskeepte plek, maar nou het daar 'n kultuurverskuiwing plaasgevind en almal voel baie positief," sê sy.
Volgens Kannemeyer is 'n strawwe proses waarby beide huidige en oud-studente betrokke was, gevolg om die naam Sada Ohms vir die eetsaal te vind. “Ons het 'n skakel na studente uitgestuur waar hulle voorstelle vir name kon maak; ons het dit ook aan ons oudstudente gestuur en nog meer name ontvang. Op die ou einde het ons 'n lys van 12 name gehad en die uitvoerende bestuur van die koshuis het toe daarna gekyk om te sien of die name met ons visie ooreenstem," voeg sy by.
Sy sê die nuwe name is die viering van 'n bymekaarkoms. “Ons is baie uiteenlopend in die koshuis. Hierdie nuwe ruimte behoort aan ons en elkeen se stem tel, want dit is ons huis. Ons het verskillende name gehad wat voorgestel is, maar hierdie naam was in lyn met ons visie. Ons wou 'n nuwe tendens skep om eerste en inheemse bevolkingsgroepe te vier," sê Kannemeyer.
Die US se nuutaangestelde Senior Direkteur van Studentesake, dr Choice Makhetha, sê Sada Ohms is meer as net 'n naam. “Dit is 'n aanduiding dat die Universiteit Stellenbosch gereed is vir verandering. Dit wys ook dat studente gemaklik is om ongemaklike ruimtes binne te gaan en om ongemaklike gesprekke te hê en die status quo uit te daag."
Dr Makhetha sê die studente kan op hierdie manier een van die eerste en oudste tale aanleer, aangesien daar nuuskierigheid oor die betekenis daarvan sal wees. “Met hierdie naamgewing erken ons dat die geskiedenis deel is van wie ons is," sê sy.
Austin Pepar, die primarius van die Goldfields-koshuis vir die 2018–2019 akademiese jaar, sê hulle gee erkenning aan hulself as 'n koshuis en wag nie vir iemand anders om aan hulle erkenning te gee nie. “Ons wil 'n bloudruk word van hoe transformasie op kampus moet lyk, en ons voel dit is belangrik dat die kampusgemeenskap sal verstaan hoekom dit ons huis is – soos die naam aandui.
“Ons is een van die diversste koshuise op kampus. In ons koshuis woon mans en vroue afkomstig van uiteenlopende kulturele agtergronde saam as gelykes."
Volgens Pepar wou hulle met die naamgewing ook 'n nuwe tendens skep – eerder as om tendense van ander koshuise te volg.
Die nuwe eetsaal sal meer as 350 mense kan huisves en sal ook vir personeel en studente beskikbaar wees om te huur as 'n funksielokaal. Vir besprekings, stuur 'n e-pos aan Austan Peppar by 19480601@sun.ac.za of Luke Mosie by 22534970@sun.ac.za.