Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing oor bruin mense plaas US in swak lig
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 17/09/2019

Die nou berugte artikel oor die intelligensie van bruin vroue wat vroeër vanjaar verskyn het, was nie 'n uitsondering nie, maar eerder die nuutste toevoeging tot 'n lang lys negatiewe navorsing oor bruin mense wat by die Universiteit Stellenbosch (US) onderneem is.

Dit is een van die sienings wat prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Departement Opvoedingsbeleidstudies aan die US, in sy intreerede Maandag (16 September 2019) gehuldig het. Die onderwerp van sy lesing was From 'die sedelike toestand van die kleurling' to 'the cognitive functioning of coloured women': A century of research on coloured people at Stellenbosch University.

Jansen het in sy toespraak gesê navorsing oor bruin mense skilder meestal 'n negatiewe prentjie oor hulle.

Hy het daarop gewys dat baie van die navorsing met bruin mense se intieme verhoudings, veral hul sekslewe, te doen gehad het; asook die idee dat hulle siek en swak is; misdade pleeg; baie drink; en dat hulle jammerlik, treurig en nie in staat is om hulself te help nie. Dit is veral laasgenoemde wat baie sterk in hierdie soort navorsing na vore kom, het Jansen gesê.

Hy is van mening dat die voortsetting van hierdie soort navorsing daarop dui dat “die basiese idee dat jy rasseverskille kan meet, nog steeds bestaan. Die tradisie om mense volgens ras te meet, gaan baie ver terug."

Jansen het gesê een van die redes waarom hierdie tipe navorsing al vir solank gedoen word, kan in die idee gesetel wees dat bruin mense 'n bestaansbedreiging vir swak en arm wit mense na die Boereoorlog ingehou het en hul “suiwerheid van ras" bedreig het.

Maar volgens Jansen kan daar op 'n ander manier hierna gekyk word. Volgens hom moet ons die vernedering van bruin mense in navorsing teen die agtergrond van afsku verstaan.

“Die funksie van verafskuwing is om 'n uitgeworpe groep in die samelewing te ontmens. Een van die hoofredes is om mense op 'n afstand te hou."

Jansen het gesê die US het tot hierdie ontmensliking bygedra deur vergelyking.

“Dit is nie genoeg om te sê bruin mense is sleg nie, jy moet sê hulle is sleg in vergelyking met iemand anders. Die punt van vergelyking is om jou te waarsku dat wit mense beter is en bruin mense slegter."

Oor wat die US kan doen om te voorkom dat hierdie tipe ding weer in die toekoms gebeur, het Jansen voorgestel dat die proses van etiese oorweging verskerp moet word.

Hy het gesê dat hoewel verskonings verwelkom word in die nasleep ná sulke navorsing, “kan dit ook takties wees om jouself uit die moeilikheid te kry".

“Jy moet die reëls van die spel waarvolgens mense hierdie navorsing speel, verander. Ek dink ons moet die probleem van rasse-essensialisme aanspreek." Rasse-essensialisme gaan oor die verdeling van mense in verskillende rassekategorieë en om 'n ras met sekere soorte gedrag te verbind, of selfs met sekere gesondheidsuitkomste of sekere soorte intelligensie.

Jansen het ook 'n kernkurrikulum om studente oor rasse-essensialisme te onderrig, aanbeveel, en het bygevoeg dat ons slegs hierdie probleem deur opvoeding kan oplos.

“Ons het ook werksessies vir personeel nodig sodat hulle die gevare hiervan kan verstaan," het Jansen gesê.

Foto: Prof Jonathan Jansen by sy intreerede. Fotograaf: Anton Jordaan