Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Botaniese Tuin floreer ná internasionale akkreditasie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 11/09/2019

Die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin (USBT) is die enigste tuin in Afrika en een van slegs 11 tuine in die wêreld wat as 'n Geakkrediteerde Bewaringspraktisyn deur Botanic Gardens Conservation International (BGCI) aangewys is.

Die BGCI Bewaringspraktisyn-akkreditasie verleen amptelike erkenning aan uitnemendheid in plantbewaringsbeleid, -praktyk en -opvoeding, en akkrediteer botaniese tuine wat plantbewaringsaktiwiteite beoefen wat van plaaslike, nasionale en wêreldwye belang is. Die USBT het hierdie toonaangewende toekenning in 2018 ontvang. Van die mikro-voortplanting van orgideë tot bewaringswerk, is die span by die vermaarde USBT hard aan die werk om te verseker dat die tuin sy internasionale akkreditasie behou. En ten spyte van die voortslepende waterkrisis in die Wes-Kaap, floreer die US se Botaniese Tuin.

“Ons bewaringswerk fokus nou hoofsaaklik op bolle en orgideë omdat albei hierdie goed 'n oneweredige aantal bedreigde spesies hier in die Kaapse Floristiese Streek het en in groot hoeveelhede in ons klein ruimtes gekweek kan word. Albei is toevallig ook charismaties, koel en baie mooi, en maak 'n botaniese tuin baie bemarkbaar. En ons wil die tuin met die publiek deel," sê dr Donovan Kirkwood, kurator van die tuin.

Haemanthus pumilio, Duthie Nature Reserve.jpg Oxalis collecton - supporting major SU academic programme _DK_3080.jpg

In foto1: Haemanthus pumilio, Duthie Natuur Reservaat.

In foto 2: Oxalis versameling - ondersteuning van die US akademiese program

Kirkwood is in Oktober 2018 aangestel en is sedertdien hard aan die werk om die tuin se massiewe plantedatabasis beter te leer ken en om te verseker dat die US Botaniese Tuin sy Geakkrediteerde Bewaringspraktisyn-status waardig is en dit behou.

N Deel van die USBT se strategiese ontwikkeling en rol as 'n BGCI-geakkrediteerde tuin is om te kyk na meer bewaringswerk en navorsing, openbare opvoeding en volhoubaarheid.

“Ons is hard aan die werk om ons mikro-voortplantingstegniek en metodiek vir orgideë te ontwikkel. Orgideë het nie saadreserwes nie. In die natuur vorm hulle 'n simbiotiese verhouding met 'n fungus wanneer hulle eers in die grond is. Dit stimuleer ontkieming en die fungus voed hulle vir die eerste paar weke en maande, daarom is dit so moeilik om hulle in 'n laboratorium te kweek," sê Kirkwood.

Afgesien van sy bewaringswerk, doen die USBT ook baie moeite om wetenskaplik-korrekte en insiggewende inhoud te skep wat in die tuin se plantdatabasis gestoor word. Hierdie databasis produseer die plantetikette en interpretasieborde wat in die tuin gebruik word.

Spring Cape daisies between the glasshouses _DK_4249.jpg Satyrium pumilum on Changs plated 2018-11-19 _DK_4223 2.jpg

In foto 3: Lente Kaapse madeliefies tussen die glashuise.​

In foto 4: Satyrium pumilum op Changs geplateer.​

​Omdat alle plantversameling aan beide die provinsiale regulasies en permitvoorwaardes moet voldoen en toestemming van die grondeienaar bekom moet word, is die Botaniese Tuin in gesprek met beide SANParks en CapeNature om USBT in staat te stel om binne hul onderskeie beskermde gebiede (natuurreservate) te versamel en dit sal oor die volgende paar maande amptelik toegepas word.

Volgens Kirkwood neem dit lank om nuwe versamelings van saad en steggies tot uitstalplante te kweek. “Met een van ons nuwe kweekhuisuitstallings wil ons vir die wêreld wys dat die diversiteit in Suid-Afrika se somerreënvalstreek nie net uit grasveld en doringrige bosveld bestaan nie, maar dat dit ook dele met ingewikkelde assosiasies van tropiese, subtropiese en savanna-ekostelsels insluit wat uit verskeie fassinerende, bruikbare en soms baie beperkte en spesiale plante en bome bestaan."

Daar is egter reeds meer as 4 000 unieke plante in die tuin en dit is enige tyd die ideale tyd om die groot verskeidenheid plante en die skoonheid wat die tuin bied, te geniet.

Neem asb kennis:

Die daaglikse toegangsgeld is R15 vir volwassenes en kinders ouer as ses jaar.

Toegang tot die USBT is egter gratis vir skoolgroepe en opvoedkundige toere (voorafbespreek), personeel en studente van die US (moet elke keer personeel- of studentekaart toon) en besoekende akademici met 'n geldige personeelkaart van 'n ander akademiese instelling.

Die US Botaniese Tuin is op die hoek van Van Riebeeck- en Neethlingstraat op Stellenbosch geleë en is Maandae tot Sondae oop van 08:00 tot 17:00. Die tuin is op sekere openbare vakansiedae gesluit. Vir meer inligting oor die USBT, besoek, https://sun.gardenexplorer.org/.