Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wenners van bierbrou-intervarsity
Outeur: S Orth
Gepubliseer: 04/09/2019

 

Die jaarlikse Anheuser-Busch Inbev (AB-Inbev), formeel die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), se intervarsity bierbrouery- en bierproe-kompetisie is op die naweek van 23 tot 25 Augustus in Bloemfontein gehou. Die kompetisie is gesamentlik aangebied deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie (CUT) en die Universiteit van die Vrystaat, met CUT as die gasheer universiteit. Die span van Universiteit Stellenbosch het bestaan uit studente van Voedselwetenskap (Sebastian Orth en Ivan Harris), Mikrobiologie (Ludwig Bröcker) en Polimeerwetenskappe (Gestél Kuyler).

Vanjaar het 14 Suid-Afrikaanse universiteite aan die kompetisie deelgeneem. Elke span het vier biere voorgelê het wat volgens die standaarde van die Beer Judge Certification Programme (BJCP) vir elke bierstyl gebrou is. Die kategorieë van bierstyle het ondermeer die volgende ingesluit; winter warmer, Indian Pale Ale (IPA), lager en 'n volkome nuwe styl – Afrika premium lager. Die doel van laasgenoemde was om die inisiatief en kreatiwiteit van die deelnemers te toets.

                Die span Agriwetenskappe studente het besluit om biere vir drie van die vier klasse te brou, naamlik Imperial Indian Pale Ale, Belgian triple en die nuwe Afrika premium lager. Met 'n bietjie geluk, uitnemende spanwerk en heelwat proe sessies, teue en besprekings – is die biere gebrou, gegis, in vaatjies gesit en uiteindelik gebotteleer. Met min tyd om te spaar is die bier op 'n vroegoggend-vlug na Bloemfontein gestuur.

Die aankoms in Bloemfontein was 'n opvoedkundige ervaring en 'n ontmoeting oor 'n paar biere het onmiddellik plaasgevind. Nadat ons die studente van die meedingende universiteite ontmoet het, was daar 'n reeks lesings wat gefokus het op bierbrou-beginsels en -toepassings – 'n besondere leerervaring. Die aand het begin met elke universiteit wat sy span en brouery bekendgestel het. Die 'bier-vrolike' aanbiedings het die gees vir die SU BREW CREW ʼn goeie hipstoot gegee. Dit alles het gelei tot ongelooflike besprekings met die hooforganiseerder en broumeester extraordinaire, mnr Anton Erasmus, en ander brouers wat teenwoordig was.

Die volgende dag het die beoordeling plaasgevind. Formele beoordeling van bier het om 09:00 begin, terwyl die studente lesings bygewoon het en meer oor bier geleer het. Die prysuitdeling is die aand gehou, met spanning wat hoog geloop het en universiteite wat op soek was na brou-roem. Universiteit Stellenbosch het pryse gewen vir die beste Afrika premium lager en die beste bier op die skou (ook die Afrika premium lager). Dit het beslis die maatstaf gestel vir 'n volkome nuwe styl van bier, wat moontlik in die toekoms wêreldwyd gebrou kan word. Met heelwat harde werk en kopkrapsessies, asook die gebruik van ʼn reeks uniek Suid-Afrikaanse bestanddele het ons die knoop deurgehaak. Uiteindelik was dit alles die moeite werd en die smaak van sukses was stroopsoet!

Dit was 'n eer om Universiteit Stellenbosch, wat voorheen in 2009 die kompetisie gewen het, te verteenwoordig. Dit is wonderlik dat ons die trofee kon terugbring na waar dit hoort, tesame met ander pryse wat ons brouery gaan verbeter. Ons bedank veral die organiseerders, AB-Inbev, CUT en die Universiteit van die Vrystaat.

(Sebastian Orth – namens die Universiteit Stellenbosch brouerspan)

Voorblad foto: Spanlede van die Universiteit Stellenbosch met hulle pryse, van links na regs:

Sebastian Orth, Ivan Harris, Ludwig Bröcker en Gestél Kuyler​