Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Shark Safe Barrier™ by gewilde strandoord op Réunion getoets
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 29/08/2019

Haai-afskrikkingstegnologie wat deur 'n span navorsers van die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, word tans aan die kus van Réunion in die Indiese Oseaan getoets.

Die Shark Safe Barrier™ is die mees gevorderde haaispesifieke afskrikkingstegnologie wat tans beskikbaar is en wat nie haaie of ander mariene diere beseer of dood nie, terwyl dit terselfdertyd branderplankryers en swemmers veilig hou.

 


Selfoongebruikers kliek hier.​

Die tegnologie is oor die afgelope sewe jaar ontwikkel deur die Departement Plant- en Dierkunde van die US se Dr Sara Andreotti en Prof Conrad Matthee, in samewerking met die wêrelbekende bewaringskundige Michael Rutzen, Dr Craig O'Connel van die VSA en Suid-Afrikaanse kusingenieur, Laurie Barwell. Die span het twee welbekende aspekte van haaibiologie gekombineer: hulle natuurlike afkeer aan digte seewierwoude, en hulle sensitiwiteit vir magnetiese velde, ten einde met 'n versperring vorendag te kom wat haaie en mense fisies van mekaar sal skei.

In die praktyk bestaan dit uit verskeie skuinsgeplante rye hoëdightheid polipoliëtileen pype, een meter van mekaar op die seebodem, wat 'n digte seewierwoud naboots. Die rye wat oseaanwaarts front, bevat groot keramiek magnete, wat 'n sterk magnetiese veld skep om die haaie nog meer af te skrik om hierdie gebied binne te kom.

Hierdie konsep is geloods en getoets in Gansbaai se stormwaters wat beskou word as die mekka van grootwithaaie in Suid-Afrika. Gedurende die twee jaar van toetsing het geen enkele haai hierdie kunsmatig geskepde seewierversperring wat 169 vierkante meter beslaan, probeer binnekom nie, selfs al is hul met aas soontoe gelok.

Uitvinding vir die eerste keer buite Suid-Afrikaanse waters getoets

In 2014 is die Shark Safe Barrier™ met behulp van die US se tegnologieoordragmaatskappy, INNOVUS, gekommersialiseer.

Dr Andreotti, die huidige hoof- uitvoerende beampte, is in 2017 deur Réunion se Haairisikobestuursentrum genader om die effektiwiteit van die uitvinding in die Indiese Oseaan met  bull sharks (in Suid-Afrika bekend as Zambezi-haaie) te toets.

“Gedurende Januarie en Februarie 2019 het ons 'n 100 vierkante meter versperring geïnstalleer aan die kus van Saint-Paul. Navorsers van Réunion plaas twee maal per week aas in die middel van hierdie gebied met die doel om haaie te lok. Alhoewel hierdie struktuur alreeds 'n kunsmatige rif gevorm het en 'n plek van veiligheid vir plaaslike vis geword het, het geen haai nog tot dusver hierdie gebied probeer binnedring nie," sê sy.

Die veldtoets sal ten einde loop sodra die Réunion-span daarin geslaag het om minstens 20 bull shark-interaksies met die versperring vas te lê.  

Tussen 2007 en 2016 het hierdie branderplankryersparadys sewe fatale en 14 niefatale haai-insidente beleef, met 'n gevolglike 40%-daling in toeristebesprekings na elkeen van hierdie betreurenswaardige gebeurtenisse.

“In 2014 het toeriste byna die helfte van die eilandbevolking beslaan. Maar vandag waarsku die owerhede inwoners en toeriste om uit die water te bly," sê Andreotti.

Indien die Shark Safe Barrier™ suksevol blyk te wees, kan die permanente installering hiervan aan die gewilde kuslyn 'n ommekeer vir die eilans se kwynende toerismebedryf beteken.

Maar selfs meer belangrik, kan dit ook 'n ommekeer vir die oseane se bedreigde haaipopulasies teweegbring.

“Tussen 2011 en 2016, het daar 491 haai-aanvalle (wat geregistreer is) wêreldwyd voorgekom, waarvan 43 fataal was. Intussen is duisende seediere gedood deurdat hulle in visnette verstrengel geraak het, of deur dromlyne gevang is, sê Andreotti.

Skarebefondsing vir één verdere toets

Die span werk tans  aan die verbetering van die stewigheid van die Shark Safe Barrier™ se tegnolgie deur die ankersisteem aan te pas ten einde die pype stewiger te kan anker in meer sanderige seebodems. Hierna moet dit nog één keer aan werklike seetoestande blootgestel word ­– 'n finale toets.

Om hierdie oefenlopie 'n werklikheid te kan maak, beoog die span om $24 000 te werf deur middel van twee skarebefondsingsplatform       Thundafund by https://www.thundafund.com/project/sharksafebarrier

Indien hierdie laaste toets suksesvol is, is die Shark Safe Barrier een stappie nader daaraan om by strande regoor die wêreld geïmplementeer te word - tot voordeel van die mens, sowel as die oseaan se mariene diere, sluit Andreotti af.

Medianavrae:

Dr Sara Andreotti

E-pos: andreottisara@gmail.com

Sel: 27(0)72 321 9198