Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aardwetenskap-studente op wintervaart met die SA Agulhas II
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 27/08/2019

Steekproefmonsters van meer as 3 000 liter seewater, 30 kg gevriesde yskerne, sowel as monsters van pannekoekys, sneeu en atmosferiese stof. Dit is die waardevolle vrag wat 'n span van nagraadse studente in die Departement Aardwetenskappe onlangs teruggebring het ná hul vaart na Antarktika aan boord die ysbreker SA Agulhas II.

Dit was die tweede keer dat die lede van die omgewingsgeochemie-navorsingsgroep onder leiding van Prof Alakendra Roychoudhury en Dr Susanne Fietz, die geleentheid gekry het om gedurende die winter monsters te versamel. Gedurende die winter van 2017 het hulle langs die sogenaamde Indiese sektor (met die 30° Oos meridian langs) gevaar, en vanjaar het hulle die Atlantiese sector (met die 0° Oos meridiasn langs) gevaar.

Hulle hoop om nuwe lig te kan werp op wat met die chemie van die oseaan kan gebeur onder toekomstige warmer klimaatstoestande: “In die winter vind geringe ysvorming rondom Antarktika plaas wat weer in die lente en somer smelt. Hierdie proses van vries en ontdooi verander die verspreiding van mikronutriënte soos yster, sink en ander bioaktiewe metale wat in die oseaanwater teenwoordig is. Ons wil hierdie verandering verstaan – hoe en waar dit plaasvind en waar die mikronutriënte hulleself op die ou end in die ys bevind," verduidelik Prof Roychoudhury.

Die beskikbare nutriënte in oseaanwater en ys beïnvloed die groei en voorkoms van verskillende soorte fitoplankton, wat weer gevolge inhou vir die globale koolstofbegroting, sowel as die onderhoud van planktonkrefies en hoër voedingsvlakke in die streek.

Tot op hede is die meeste steekproefinsamelings gedurende die somer gedoen.

Die span het ook stofmonsters oor die oop oseaan geneem om die impak van stof as 'n eksterne bron van mikronutriënte te ondersoek. Stofneerslae in dié omgewing is gewoonlik meer in die winter, maar wetenskaplikes weet baie min van hoe dit die fitoplanktongemeenskap in die winter beïnvloed.

Tot op datum is die meeste monsters nog net gedurende die somermaande geneem.

Steekproefinsameling by temperature onder vriespunt

PhD-student Jean Loock sê dat hulle soms temperature van -20°C beleef het, en een keer het die yskoue temperature verwoesting gesaai onder die instrumente se sensors: “Die water binne-in die salinometerpompe het binne 'n minuut gevries, net voordat ons dit wou gebruik."​

sampling.jpg

Weens die uiterste weersomstandighede is baie tyd bestee aan gesprekke met die hoofwetenskaplike Prof. Marcello Vichi van die Universiteit van Kaapstad, Kaptein Bengu Knowledge en die skipgebaseerde weervoorspellers van die Suid-Afrikaanse Weerburo, ten einde die uitvoerbaarheid van beplande insamelingsaksies vas te stel, en ook om seker te probeer maak dat hul aankoms op aangewese plekke, gedurende vensterperiodes van optimale weersomstandighede sou plaasvind.

“In die praktyk het 'n deining van vyf meter hoog ons nog toegelaat om 'n taak op die stilstaande skip uit te voer, maar met deinings van tien meter wat die skip slaan, was ons genoodsaak om ons planne uit te stel," sê Jean.

Die navorsingsaksies in see-ys was veral gevaarlik: “Groot stukke dryfys wat deur die wind of strome aangedryf is, het aanhoudend teen die stilstaande skip gestamp. Een keer was dit so amper of die dryfys het die wenaskabel wat aan ons steekproeftoerusting vas was, deurgeskuur. Die kaptein, bemanning en die bedryfspersoneel van die skip moes met omsigtigheid die skip posisioneer en voortdurend die toestande monitor om so 'n situasie te probeer voorkom. Soms is die kragtige boeg- en agterstewe-aandrywers ingespan om die drywende ys weg te stoot," verduidelik hy.

Terug in die laboratorium

Terug in Stellenbosch, is die waardevolle steekproefmonsters nou veilig gebêre in houers en 'n kisvrieskas, en lê en wag dit om geanaliseer te word deur die span van vyf PhD- en vier MSc- studente, sowel as drie nadoktorale genote.

​Duisende van hierdie steekproefbotteltjies moes reeds maande voor die vaart versigtig gemerk word. Dr Fietz verduidelik: “Ons moes vooraf op afkortings vir elke proefneming besluit. So byvoorbeeld staan TM vir 'trace metals', en WV19 vir 'wintercruise 2019', aangesien ons soortgelyke botteltjies vanaf vorige jare en seisoene het en dit mag onder geen omstandighede deurmekaar raak nie! Daarna volg die afkorting GT wat vir 'sample from GoFlo bottle' staan, en EI vir die naam van die stasie waar die monster geneem is. Dan volg ons eie afkortings. GFO1 verwys an die eerste GoGlo monster, en 'diss-Al' vir “dissolved aluminium', aangesien MSc-student Tara de Jongh hierdie monster vir opgeloste aluminium gaan analiseer."

'n Botteltjie met die etiket “WC19-GTIE GFO1-diss-Al" verwys dus na die ekspedisie, die instrument waarmee die monster geneem is, die koördinate, diepte en doel.

Maar terwyl die monsters veilig gestoor word, het 'n paar van die student intussen reeds weer die kontinent verlaat om hul navorsing by die Goldschmidt Conference in Spanje aan te bied, en volgende maande vertrek Dr Fietz en PhD student Johan Viljoen na Spanje om die International Geotraces Summer School by te woon, waar Dr Fietz onder meer van die lesings oor die biogeochemiese siklusse van spoormetale gaan aanbied.