Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tiener geestesgesondheid sal baat by Seedat se 2020 Vroue Globale Leerstoel aanstelling
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 26/08/2019

​Nog 'n eerbetoon het Professor Soraya Seedat, Uitgelese Professor van Psigiatrie en die Uitvoerende Hoof van die Departement Psigiatrie, toegeval: sy is aangestel as die 2020 Vroue Globale Leerstoel by die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk.

Seedat is aangestel tesame met 'n ander akademiese wêreldleier en bekende akademikus op die gebied van geslagsgebaseerde geweld, Professor Jacqui True van die Australiese Monash Universiteit.

Seedat, wat erken word as 'n kenner van globale geestesgesondheid, het meer as 20 jaar se kliniese, epidemiologiese and basiese neurowetenskaplike navorsingsondervinding. Haar navorsingsbelangstellings strek vanaf geslagsgebaseerde geweld tot post-traumatiese stresversteuring, stresversteurings, MIV/neuroVIGS, asook vroeë kinderjare trauma  en fetale alkohol spektrum-versteuring.

Haar werk het haar in die hartjie van sommige van Suid-Afrika se mees kwesbare gemeenskappe ingeneem, en sy het meegewerk om navorsingskapasiteit te bou onder vroeë-loopbaan-navorsers in lande op die kontinent van Afrika, in Suid-Oos Asië en Latyns-Amerika.

Seedat, wat as 'n mediese dokter gekwalifiseer het by die Universiteit van KwaZulu-Natal voordat sy haar spesialis-opleiding in psigiatrie by die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het in 2017 die prestige-ryke Kanselierstoekenning vir Navorsing by die Universiteit Stellenbosch ontvang vir haar twee dekades van uitstaande navorsing.

Die wenner van die 2013 Mail & Guardian Vroue in Wetenskap-toekenning het baie huldeblyke en toekennings ontvang en het meer as 350 joernaalartikels en boekhoofstukke geskryf. Daar word wêreldwyd na haar werk verwys in wetenskaplike literatuur.

In hulle aankondiging oor die Globale Leerstoele van Seedat en True, het die Universiteit van Bath gesê dat die aanstellings van die twee besoekende professore "verdere ondersteuning sal bied aan die kern-samewerkingsooreenkomste tussen Bath en Australië en Suid-Afrika, en sal ook ons universiteit se globale navorsingsnetwerke versterk in die veld van geestesgesondheid en geslagstudies".

“Die Vroue Globale Leerstoel Skema plaas die kollig op vroue in die akademie deur middel van die befondsing van internasionale besoekende professorate. Die twee besoekende professore sal die platform van die Global Chair kan gebruik om die verering van vroue-akademici dwarsoor alle dissiplines te verryk by die Universiteit van Bath."

In kommentaar oor Seedat se aanstelling, het Professor Sarah Halligan die volgende te sê gehad: “Ek is besonder gelukkig dat ons Professor Soraya Seedat as 'n Global Chair sal verwelkom. Soraya is 'n internasionale leier in kinder- en adolossente-geestesgesondheid, met kundigheid wat strek van psigiatriese genomika tot intervensie-gebaseerde navorsing. Haar aanstelling sal 'n uitstekende geleentheid bied om ons bestaande skakels te versterk en om 'n wyer reeks samewerkingsgeleenthede in die globale veld van geestesgesondheid te skep. Ek sien baie uit daarna om haar in Bath te ontvang."

Seedat het die volgende te sê gehad: “Ek voel werklik geëerd om gekies te wees as die Vroue Globale Leerstoel. Die besoekende aanstelling by die Universiteit van Bath sal duur van  1 September 2019 - 31 August 2020 en ek sal twee besoeke onderneem gedurende hierdie tyd.

“Hierdie aanstelling as Global Chair sal my die geleentheid gun om my verhouding met prof. Sarah Halligan en haar span verder te ontwikkel. Ons het heelwat oorvleuelende belangstellings in die longitudinale baan van jongmense uit hoë-teenspoed omgewings en in die identifisering van vroeë aanduidings van aanhoudende PTSV onder hierdie jongmense, wat moontlik kan baat vind by vroeë intervensies. Ek is baie opgewonde om met ander personeel en studente saam te werk en om nuwe navorsings- en samewerkingsprojekte te genereer op 'n universiteitsvlak en ook dwarsoor die G4 Alliance (die GW4 Alliance is 'n netwerk van vier van die mees navorsings-intensiewe en innoverende universiteite in die VK: Bath, Bristol, Cardiff en Exeter)".


Foto-erkenning: Stefan Els